Dit voel soms vir haar asof niemand daaroor praat nie.

Wanneer mense na bekendes op sosiale media kyk, lyk hulle altyd dan so gelukkig.

Maar die sangeres Irene-Louise van Wyk (27) van Mooikloof in Pretoria het Maandag, op die eerste dag van vlak 3 van die inperking, eerlik oor haar stryd met haar geestesgesondheid vertel, juis omdat sy wéét sy is nie die enigste een nie.

“Angs is nooit iets waaraan ek gewoon was nie, maar ek dink soos ek ouer geraak het, het dit ook meer prominent in my brein geword – die volgehoue kommer oor alles, die hele tyd. Ek het 'n bietjie van myself verloor.

“Ek het nou al so gedemotiveerd geraak dat ek myself letterlik elke dag besig hou net om te oorleef,” het sy op haar Facebook-blad geskryf by ’n foto van haar in haar oefenklere en masker in die buitelug en haar nege maande oue babadogter Kelsey in haar stootwaentjie.

Toe ons Irene-Louise Dinsdag bel, vertel sy sy wil nie agter ’n glimlagmasker skuil nie.

“Ek het in die tyd min gesien dat bekendes praat oor hoe hulle werklik voel. Op Instagram is dit altyd net smiles en giggles, maar wanneer ek self met party van hulle praat, hoor ek ook hulle is ook so nervous soos ek,” vertel sy terwyl Kelsey naby haar knies.

Ons gesels juis wanneer sy vertel dit lyk asof Kelsey ’n uiltjie wil knip.

irene-louise van wyk,sangeres,eersteling
Irene-Louise van Wyk is dolverlief op haar klein Kelsey. Foto: Jorietha Rabie
irene-louise van wyk,sangeres,baba,kelsey du preez
Klein Kelsey. Foto: Jorietha Rabie

Sy lag toe ons vra of sy wel slaap: “Dit lyk asof sy nou in ’n roetine kom! Sy is glad nie ’n moeilike kind nie, maar sy slaap nie! Sy het ook nou begin tandesny. So dit het darem verklaar hoekom sy eergisteraand so erg geskree het. Ek dink vra enige ma hoe dit gaan as haar kind tandesny.”

Ma-wees was egter vir Irene-Louise – ook 'n besprekingsagent vir talle bekendes soos Leandie du Randt, Ivan Botha, Donnalee Roberts, Quinne Brown en Melinda Bam – 'n maklike aanpassing. Voor die inperking het sy gevoel sy is op 'n goeie plek met haar geestesgesondheid en gewig.

“Alles het ontspoor. Mense weet ek sukkel al jare met my gewig, en ek het aan die begin van die jaar 10 kg kon afskud met keto. Jy weet dis moeilik om daai kopskuif te maak, maar as jy hom eers gemaak het, het jy hom gemaak!

“Ek hou nie daarvan om te praat van ’n dieet nie. Ek het net ’n regte gesonde leefstyl begin handhaaf. Ek het saam met ander mammas gaan stap met ons kinders. Maar ja, toe gebeur die lockdown. Dit het gevoel asof al my harde werk vergeefs was.

“Ewe skielik bevind ek myself toe elke dag in my pajamas. Angs het my oorweldig. Ek probeer myself besig hou en van Facebook afbly waar daar baie negatiewe kommentaar en conspiracy theories is, maar hoewel ek my hare kon kam en my tande kon borsel, het ek gevoel: Hoekom moet ek aantrek?”

Vir Irene-Louise, self ’n popster in eie reg, het dit haar heeltemal onkant gevang om haar inkomste eensklaps te verloor. Die angs het haar elke dag begin takel.

“Dis nie asof 'n mens wakker word en dink, vandag wil ek angstig voel nie of, vandag wil ek depressief wees nie. Wanneer ek angstig voel, begin my hart klop. My hele lyf voel numb.

“Daar gaan ’n duisend goed deur my kop. Gaan ek ooit weer kan shows doen? Gaan Kelsey weer normaal kan funksioneer, met haar maats speel? Kelsey sien net vir ons. Ek wonder: Sal sy eendag kan gaan reis. Ek dank die Here ek het nou elke dag ’n man wat by die huis kom. Ek is nie alleen nie. As dit drie jaar terug was en dit was net ek en my drie honde, weet ek nie wat ek sou gedoen het nie.”

Irene-Louise is in 2018 met Nicholas du Preez (37), ’n houtinspekteur, getroud.

Irene-Louise van Wyk
Irene-Louise van Wyk en haar man, Nicholas du Preez. Foto: Verskaf.

“Ek wil nie hê mense moet my jammer kry nie. Ek wil net hê mense moet weet net omdat 'n mens bekend is, beteken nie jy sukkel nie of jy het nie probleme nie. Niemand is perfek nie. Net omdat mense dit nie wys nie, beteken nie daar is nie fout nie.”

“Baiekeer wanneer ek so voel, wil ek niemand eens bel nie. Ek voel ek wil hulle nie belas met my probleme nie. Ek wil nie op hul afpak en ’n las vir enigiemand wees nie.”

Irene-Louise vertel sy het net aanhou voortbeur. Tot Maandag. “Ek het besluit ek moet opstaan. Ek moet my gimklere aantrek en ek moet uitkom. Dit het goed gevoel. Dit het goed gevoel om daaroor te praat.”

’n Mens kan hoor sy word ligter wanneer sy ook vertel sy sien uit daarna om Vrydag 'n aanlyn konsert te hou.

In die agtergrond knies Kelsey weer. Sy bly 'n oomblik stil.

“Ek wil daar wees vir my kind. Ek weet hoe dit is om sonder 'n ma groot te word...”

Irene-Louise vertel sy sal alles in die stryd werp om deur dié tydperk te kom.

“As ek nou in die bad lê, sê ek vir myself elke dag 10 goed waarvoor ek dankbaar is, want ek het 'n miljoen goed waarvoor ek dankbaar kan wees. Ek bid. Ek dink solank 'n mens dit net dag vir dag vat, sal als oukei wees.”

  • Bespreek op Irene-Louise se Facebook-blad vir die gratis vertoning Vrydag 12:00.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.