Die kleinding heet Kelsey en weeg 2,56 kg; en sy is “gesond en pragtig,” het Irene-Louise se pa, die musiekpromotor Louis van Wyk, aan Huisgenoot bevestig. 

“Ek sien uit na alles,” het Irene-Louise kort voor Kelsey se geboorte aan Huisgenoot gesê.

“Ek kan nie wag om te sien hoe sy lyk nie. Ek kan nie wag om haar vas te hou nie. Ek kan nie wag om net alles te ervaar wat ’n mamma ervaar in die eerste paar ure van ma-wees nie. Ek is verskriklik opgewonde om te sien wat die reis vir ons inhou.”

Irene-Louise van Wyk
Irene-Louise en Kelsey. Foto: Verskaf.

Sy het gisteraand verbasend goed geslaap, al het sy gedink sy gaan moontlik van opgewondenheid nie ’n oog kan toemaak nie. “Dit was moeilik om rustig te bly, want ek was baie opgewonde,” vertel sy.

“Ek dink enige persoon wat amper ouers gaan word, gaan ’n bietjie op hul senuwees wees,” bieg sy.

Irene-Louise
Irene-Louise net voor baba Kelsey gebore is. Foto: Verskaf.

“Ons het na ’n paar name gekyk – my gunsteling-countrysangeres se naam is Kelsea Ballerini – en ek het nog altyd van die naam Kelsea gehou,” het Irene-Louise vroeër verduidelik. Toe haar man ook van dié naam hou, het hulle dit ’n bietjie aangepas na Kelsey.

Dit is omtrent ’n groot week vir die blonde sangeres aangesien haar nuwe enkelsnit Iziiit? Maandag uitgereik is. Die sangeres het ook ’n vorige enkelsnit kort voor ’n spesiale geleentheid, haar troudag,vrygestel.

Die paartjie het bykans ’n jaar gelede op Sondag 30 September ewige trou aan mekaar beloof. Die troue, op die Galagos Country Estate net buite Pretoria, het ’n Disney-tema gehad.

“Ek sien uit na wat die toekoms inhou, en as die Here ons seën met kinders, sien ek baie uit om te sien wat ’n wonderlike pa Nick sal wees,” het Irene-Louise toe aan Huisgenoot gesê.

En nou, amper presies ’n jaar later, is die Du Preezs ’n gesin van drie en straal albei die trotse ouers van geluk.

“Pediater is gelukkig, ginekoloog is gelukkig en Irene is gelukkig,” het Nick net ná die geboorte laat hoor.