Irene-Louise van Wyk, wat bekend is vir haar lang blonde hare, eksentrieke styl en energieke musiek vol houding, borrel oor van geluk as sy vertel hoe dié goeie nuus haar en manlief Nick du Preez ’n paar weke gelede verras het.

Maar, vertel sy, haar man was omtrent laaste om van die goeie nuus te hoor.

“Toe ek by die hospitaal die bloedtoetse gaan doen, loop ek my pa en my stiefma raak. Hulle het daar by die kafeteria gesit en ontbyt eet,” vertel Irene-Louise laggend. “So toe weet my vriendin, my pa en stiefma uit nog voor my man weet!”

Irene-Louise vertel sy het onlangs grieperig en vreeslik naar begin voel. “En ek was die heeltyd baie moeg,” vertel sy aan Huisgenoot.

Een van haar vriendinne het haar aangemoedig om ’n swangerskaptoets te doen.

Maar Irene-Louise was skepties. Boonop het sy eintlik gedink sy gaan nie maklik swanger kan raak nie as gevolg van gesondheidsprobleme.

“Ek het geskrik, ek het nog vir my vriendin gesê ek dink die toetse is gebreek. Maar my vriendin het net vir my gesê ek is beslis swanger maar ons moet ’n bloedtoets gaan doen om uit te vind hoe ver ek is.”

Ná bloedtoets die goeie nuus bevestig het, het Irene-Louise ’n sjokolade met die woord “#winning”, ’n babapakkie en ’n enkele broodrolletjie gaan koop.

“Ek het dit in die oond gaan sit en ek kon nie wag dat my man by die huis kom nie,” vertel Irene-Louise verder.

“Toe hy by die huis kom het ek vir hom gesê hy moet iets in die oond gaan kyk. En toe hy dit oopmaak, het hy opgewonde gevra: ‘Is jy ernstig?’”

Die egpaar, wat verlede jaar in September getroud is, is in die wolke oor die koms van hul eersteling.

“Baie van my vriendinne het kinders, so ek word dikwels deur kinders omring,” vertel sy en sê sy het klaar ’n babapakkie of twee as geskenke ontvang.

“My skoonma is vas oortuig dit is ’n dogtertjie,” sê Irene-Louise, maar sy is net opgewonde dat die skanderings gewys het die babatjie is gesond.

Irene-Louise, dogter van die wyle gospelsanger Irene van Wyk en die musiekpromotor Louis van Wyk, se nuutste enkelsnit “Stukkende ruite” se musiekvideo is vroeër die week uitgereik.

“Die lied klink bietjie anders as my ander liedjies,” vertel Irene-Louise. “Ek dink dit wys ook bietjie ’n ander kant van my.”

Kyk hier na die nuwe musiekvideo: