'n Kerstradisie waarmee haar babadogtertjie, Kelsey, kan grootword. “Ek wil graag ’n nuwe tradisie begin waar ek elke jaar met Kersfees koekies bak,” vertel Irene-Louise aan Huisgenoot.

“Ek weet nie hoe dit gaan uitdraai nie, want ek is nie baie great in die kombuis nie,” sê sy. Maar dié tradisie is een waarop sy en haar man, die houtouditeur Nicholas du Preez, elke jaar kan voortbou.

Die egpaar het op 3 September ’n dogtertjie ryker geword en die nuwe ouers is versot op die kleinding.

Irene-Louise van Wyk
Die paartjie saam met hul eersteling, Kelsey. Foto: Verskaf.

“Mettertyd sal Kelsey oud genoeg raak om saam met my die koekies te bak en dan kan ons dit elke jaar saam doen,” vertel sy.

Wanneer Kelsey oud genoeg is, sal Irene-Louise op dié dag saam met haar Kersflieks in hul pajamas wil kyk. 

Irene-Louise kan nie veel van die Kersfeeste uit haar kinderdae onthou nie, maar kry tog heimwee as sy aan die feestyd dink. Hulle het dié tyd dikwels in Margate aan die Suidkus van KwaZulu-Natal deurgebring. Maar vanjaar bly hulle tuis en bring Kersfees in Pretoria deur.

“Ek dink ’n Kersboom en ’n lekker Kersete is noodsaaklik vir ’n spesiale Kersfees,” vertel Irene-Louise. “Dit gaan nie altyd net oor presente nie, maar ook oor Jesus se geboorte. Ek dink dis die belangrikste om dit saam met jou familie en die mense wat jy liefhet deur te bring.”

Irene-Louise was nog altyd mal daaroor om geskenke onder die Kersboom te sit en het reeds vir klein Kelsey ’n geskenkie. “Ek is die meeste opgewonde om net lekker tyd saam met my man en Kelsey deur te bring. Ek wil graag nuwe herinnerings met hulle maak,” vertel sy.