Liza het Vrydagmiddag ’n pragtige foto van haar babamagie op Instagram gedeel.

“Okay, so die maag van my is #seriously besig om by die dag te groei. Die mannetjie is baie besig en baie groot. Kan nie glo die tyd vlieg so nie!” het sy by die inskrywing geskryf. 

“Ek is gesond en die seuntjie is gesond,” het sy aan Huisgenoot gesê. Hy sal na verwagting in November sy verskyning maak.

“Hy is vreeslik besig. Dis ’n vreemde gevoel, maar ’n lekker vreemde gevoel. Ek sukkel nog so bietjie om gewoond te raak daaraan,” het sy gesê.

Sy het ook vertel hy groei baie vinnig.

“My maag groei teen die spoed van wit lig. My ginekoloog sê hy is ’n regte bulletjie.”

Dié sangeres het in 2013 bekendheid verwerf toe sy in die teatermusiekspel Liefling die vroulike hoofrol van Liefling Marais vertolk het.

Haar mooi lyfie, ten spyte van die swangerskap, is waarskynlik te danke aan die feit dat sy nog geen vreemde kosdrange ervaar het nie. 

“Ek kan eerlik sê ek het nog nie een dag cravings gehad nie. Ek eet baie vrugte, maar was nog altyd lief daarvoor.”

En behalwe die feit dat sy “vir die eerste 15 weke heeltyd baie naar was,” gaan alles nou klopdisselboom.