Sy het onlangs in 'n Facebook-inskrywing aan haar aanhangers onthul hoe sy al jare sukkel met haar gewig en dat sy 'n depressielyer is.

"Ek was 103 kg in Julie 2018. Dit was as gevolg van verskeie faktore, met depressie bo aan die lys. My liggaam was in pyn, ek kon nie opstaan, ek kon nie goeie keuses maak nie, ek kon nie my eie veters vasmaak nie.

"Gewone take was te veel vir my, ek het gesweet, ongemaklik gevoel, negatief oor my voorkoms, my lyf en die swaar swartsak vol vullis wat aan my vasgeklou het, het my gemoed op die ashoop laat lê. Ek was moeg, ek was moedeloos, ek was verdwaald, sonder uitkoms," brei sy uit.

"Ek het gevoel hoe ek soms uitgekyk word, ek het beleef hoe alleen dit voel in 'n gewigstryd, wat my vir jare bekruip het. Ek het deur ander oë begin kyk na iemand met dieselfde probleme as ek.

"Waar sal mens die krag en uithouvermoë kry om hierdie onmoontlike taak te oorwin?

"Ek het in September 2018 'n kopskuif gemaak om gesonder te eet, om te begin by (die rede) waarom al die extra kilo's aan my sit. Ek het ook beleef hoe dit voel om oorgewig te wees. Baie oorgewig te wees. Ek het skaam gevoel en onseker, maar nooit my waarde in God se koninkryk vergeet nie.

Karlien Husselman
Die sangeres Karlien Husselman voor haar transformasie. Foto: Kobus Kruger

"Ek is beslis nie modelmaer nie, maar vandag op 1 Februarie 2019, staan ek op 80 kg, en met elke maand wat verby gegaan het, elke kilogram wat stadig begin vlug het, het die vyand ook begin vlug," skryf die sangeres.

"Ek het jare gesukkel met my gewig en as 'n depressielyer het ek baie geëet," het Karlien aan Huisgenoot vertel.

"Ek weet daar is baie vroue wat met depressie sukkel en daarom wil ek graag vir hulle 'n inspirasie wees deur my storie met hulle te deel en te wys dat jy depressie kan oorwin."

sangeres
Die sangeres het 'n groot transformasie ondergaan. Foto: Verskaf

Die afgelope vier jaar was baie moeilik vir die sangeres wat die seer van 'n egskeiding moes hanteer en vriende afgestaan het aan die dood. En al weet sy depressie is nie iets wat oornag sal verdwyn nie, het sy besluit om haar hartseer in iets positief om te swaai.

Karlien het glad nie oefeninge gedoen nie, maar ’n streng eetprogram begin volg. So het sy haar eerste 14 kg afgeskud.

Eet gesond, omring jouself met positiewe mense wat verstaan waardeur jy gaan.

"Ek het stysel en suiker uitgesluit en drie soorte pille gedrink. Ook 'n sopmengsel gebruik wat jou minder laat eet, gedetox en 'n energietablet geneem om balans te hou," vertel sy.

"My verloofde, Anthony McGee, my dogtertjie, ouers, familie en vriende het saam met my die pad gestap en my baie ondersteun."

Karlien,Anthony McGee
Karlien en haar verloofde Anthony McGee. Foto: Verskaf

"Maar om gewig te verloor is ook iets wat jy alleen moet doen en dus het ek baie met die Here gepraat," voeg sy by.

"Ek eet nou gesonder en lyk en voel nou soos die Karlien wat ek onthou. En het weer 'n positiewe uit kyk op die lewe," sy.

Wat is Karlien se raad aan lesers wat ook wil gewig afskud en sukkel met depressie?

"Kos kan ook 'n verslawing wees. Eet gesond, omring jouself met positiewe mense wat verstaan waardeur jy gaan. Jy moet ook depressie as 'n vyand sien wat jy wil verslaan. En praat baie met die Here," sy.