Monique Steyn is die aanbieder van Jou Tune. Foto:
Monique Steyn is die aanbieder van Jou Tune. Foto: VIA

Vertel ons meer oor die reeks.

Ons leer kunstenaars beter ken. Ons vind uit hoe hulle ná die inperking aangepas het, wat hul passies is buiten musiek en wat 2021 inhou. Ons speel ook ’n speletjie of twee, en daar is ’n segment waar die publiek danse op die kunstenaars se treffers opmaak.

Watter gas was die lekkerste?

Ek ken van hulle al baie lank. Dit was lekker om te kon opvang weg van die verhoog af. Ek en Bianca le Grange het in 2002 saam aan die sangkompetisiereeks Idols deelgeneem; dus is daar ’n ander soort band tussen ons.

Ons staan nog sterk ná al die jare in die bedryf.

Ek en Charlize Berg het in 2012 saam die Afrikaanse musiekbedryf betree, so ons het weer iets anders wat ons verbind.

View this post on Instagram

A post shared by Monique Steyn (@moniquesteynsa)

Willem Botha, wat ek al amper sewe jaar ken, is baie dinamies. Hy is self ’n aanbieder en het my gemaklik gemaak op die stel vir die eerste episode en uitstekende raad gegee.

Dit was wonderlik om met kunstenaars te praat wat jou na aan die hart lê en vir wie jy baie respek het.

Die mens wat my die meeste verras het, is Loufi. Ek het aan sy lippe gehang. Hy is baie gefokus, kreatief en privaat, maar terselfdertyd warm, eerlik en cool.

Hoe het jy in die musiekbedryf beland?

Ek was in my dae aan die Hoërskool Akasia in Pretoria reeds musikaal. Ek het koor en revue gedoen, maar kom uit ’n familie van prokureurs en wiskundiges. Ek het nooit gedink musiek is iets wat ek as beroep sou kon doen nie.

Gelukkig was ek vriende met musikante soos Juan Floors Oosthuizen. Hy het toe musiek gaan studeer aan die Technikon Pretoria, en so het ek van die kursus uitgevind.

Ek het toe met my ouers, Herman en Maritha, daaroor gepraat en hulle was ondersteunend. Die res is geskiedenis.

In my tweede jaar aan die technikon het ’n teater mense gesoek vir ’n musiekspel en ek het ’n oudisie gaan aflê. En so het ek ses aande per week in ’n teater begin sing.

Watter liedjies het ’n groot invloed op jou lewe gehad?

“Uninvited” van die Kanadees-Amerikaanse sangeres Alanis Morissette. Dit het my inspirasie en goeie herinnerings gegee. Ek het ook geglo ek gaan haar agtergrondsangeres wees en saam met haar toer toe ek jonger was. Sy het nog nie gebel nie.

En dan ook “Fix You” van Coldplay, “Many of Horror” van Biffy Clyro en Pink se “Who Knew”.

Watter professionele lesse het jy in die covid-19-pandemie geleer?

Om meer kanse te waag. Ek werk nog altyd hard, maar glo soms nie genoeg in my vermoëns nie. Ek het balans gevind, herken myself weer in die metaforiese spieël, en ek kon dinge aanpak wat op ys was omdat daar nie tyd daarvoor was nie.

Ek het ook weer besef hoe ongelooflik lief ek musiek het nadat dit vir so lank weggeneem was. Dit is nou maar net wie ek is en klaar. 

Kitsfeite
  • Monique is in Krugersdorp gebore. Sy deel ’n verjaardag, 5 September, met die rocklegende Freddie Mercury. Haar gesin het baie rondgetrek vanweë haar pa se werk in die mynbedryf. Hulle het op Standerton, Rietkuil, Secunda en in Witbank gebly.
  • Sy het ’n jonger suster, Doné, wat in die mediese bedryf werk.
  • Monique bly in die ooste van Pretoria. “Ons noem dit Little Nashville, want so baie van die Afrikaanse kunstenaars woon in die omgewing.”
  • Sy was voorheen deel van die Afrikaanse popgroep 4Werke saam met Elizma Theron, Nicholis Louw en Ray Dylan en was Demi Lee Moore se mentor toe sy die talentsoekreeks Die kontrak gewen het.
  • Sy wou aanvanklik sielkunde studeer. “Ek voel vandag nog asof ek sielkunde studeer, want dis hoe dit in die musiekbedryf voel. Jy klim op die verhoog en sing, en hopelik doen die boodskap van die liedjie iets vir mense.”
  • Jou tune is Dinsdae om 19:00 op VIA. 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe