Nadine het vroeër vandeesmaand ’n plasing op Facebook gemaak waar sy verskoning vra dat sy so stil is. “Ek probeer vrede maak met die berg wat ons moet oor as familie. Bid asseblief vir ons,” het sy toe gesê. 

Maar net meer as ’n week later het Nadine die nuus gedeel dat haar ousus oorlede is.

Nadine se ma is ook vyf jaar gelede aan leukemia dood. Oor haar sussie se oorlog teen kanker het sy dié gesê.

“Dis swaar om haar so te sien, ek wil haar beskerm, maar kan niks niks niks doen nie. Dit breek my. Ons het vyf jaar terug ook die pad saam met ons ma gestap. #leukemia My hart is baie seer. Wil haar toevou en beskerm, maar kan niks anders doen as bid en glo nie. Dit doen ek. Maar mens is mens en jou hart breek. Dit is menslik en ek laat myself die hartseer en trane toe. Sy is my enigste core familielid wat nog oor is. My ousus. Sy is 47.”


Nadine het ’n roerende gedig aan haar ousus geskryf.

“Vandat ek kan onthou was jy nog altyd daar

My hand veilig in joune, stap ons langs mekaar

Jou wysheid my kompas, jou woorde my rigting noord

Jou liefde en begrip tot in ewigheid my veilige oord

Nooit was daar ’n oomblik wat ek eers kon probeer dink dat ek jou sou verloor

’n Ousus kan nie weggaan voor 'n kleinsus nie, dis dan agterstevoor.”