Die blonde sangeres tel haar seuntjie op haar skoot en begin sy yl haartjies borsel. Hulle is al lánk wakker, want klein Dawid is al amper twee jaar oud en was vanoggend weer ligdag uit die vere . . .

Halfses, sê sy ma, Liza Brönner (30). Soos elke oggend. Maar dié klokslag-wakkerword is nie sommer toevallig nie, sê haar man, die sanger en musikant Ricus Nel (40).

Ricus and Liza
Die sangers Liza Brönner en Ricus Nel saam met hul bondel­tjie blydskap, Dawid, wat in November twee jaar oud word. Foto: Lubabalo Lesolle

“Dit het baie met sy ma uit te waai. Sy het vir hom ’n roetine aangeleer. Hy gaan slaap en staan op en raak honger op sy vasgestelde tyd.”

Ondanks die klein woelwater in die huis is die sanger-egpaar se blyplek in ’n sekuriteitskompleks in die ooste van Pretoria vandag netjies en blinkskoon. Klein Dawid, wat in November twee word, het Liza se blonde hare en sy pa se innemende glimlag.

Hy is spesiaal vir die fotosessie oulik aangetrek in ’n wit langmouhempie, blou jeans en bruin stewels. Met sy haartjies ook nou netjies gekam, gly hy van sy ma se skoot af en klouter op sy pa s’n.

Hy trek speels aan Pappa se hare. “Oe-la-la, Boeta,” sê Ricus, en gee sy eersteling ’n drukkie. Toe Dawid verlede jaar een word, het sy gehuil, vertel Liza. “Ek wou hê hy moes vir altyd ’n babatjie bly!”

Voor die streng inperkingsmaatreëls einde Maart in werking getree het, was Ricus oor naweke gewoonlik iewers op ’n verhoog besig met ’n vertoning. En as die omstandighede by die spesifieke venue dit toelaat, het Liza en Dawid altyd saamgegaan.

“Ja, ek dink hy was verlede jaar al iets soos 20 keer saam?” sêvra Ricus.

Wanneer Liza saam met haar man optree, lê Dawid agter die verhoog in sy drabedjie – “natuurlik met oorklappe en onder toesig”, vertel sy pa.

Maar dit hét al gebeur dat hy nét by ma wou wees en dat Liza hom in ’n drasak voor haar bors vasgemaak het. Dan het hy met die oorklappies teen sy ore rustig teen sy ma se lyf aan die slaap geraak terwyl sy ouers op die verhoog voor die skare sing.

Rikus, deesdae veral bekend vir sy trefferliedjie “Boerepompie”, het self as baba saam met sy ma, Liesie, gegaan wanneer pa Koos saam met die musiekgroep Die Harmonie in hoofsaaklik die Rustenburg-omgewing opgetree het. Maar dit is nie altyd vir Liza en Dawid prakties moontlik om saam te gaan wanneer hy optree nie – iets wat vir Ricus maar swaar is.

Ricus and Liza
Klein Dawid wil ook saam musiek maak as hy by pa Ricus se ateljee inloer. Foto: Lubabalo Lesolle

“Wanneer ek vir twee of drie dae weg is, verlang ek só na die twee!”

Dawid se koms het ’n hele nuwe roetine beteken vir dié ouerpaar wat in Januarie 2013 getroud is. Hy slaap snags in hul kamer en maak seker niemand slaap laat nie, vertel Liza.

“Hy het ’n ingeboude horlosie in hom. Soggens halfses is hy wakker. Dan entertain hy homself en praat lang stukke op sy eie. ’n Halfuur later kom hy orent teen die kant van sy bed, ruk sy dummy uit en roep: ‘Dasy, Pappa!’ Dan is dit opstaantyd vir ons almal.”

Hy kan al presies 22 woorde sê – woorde soos pappa, mamma, appel, bok en boom. Elke keer wanneer hy ’n nuwe woord aanleer, teken Liza dit aan om seker te maak hy toon al die merkers op sy spesifieke ontwikkelingsvlak.

Die kleinding spog ook reeds met 10 tandjies. Met geen optredes die afgelope paar maande nie, werk Ricus hoofsaaklik as musiekvervaardiger en musikant in sy Hardekole-ateljee, wat op hul erf gebou is.

Ricus Nel
Ná reusetreffers soos “Boerepompie” en “Hardekole” is daar weer ’n album op pad vir Ricus. Foto: Instagram/@ricusnel

Hy het in dié tyd Radio Raps se nuwe album voltooi en is nou besig met die finale meng van Theuns Jordaan se album. Hy werk ook aan sy eie album wat teen die einde van die jaar uitgereik word.

“Dit is my vyfde ateljeealbum, en benewens al die oorspronklike liedjies gaan ek ook soos gewoonlik twee of drie covers insluit,” vertel die sanger, wat eens in ander sangers se groepe konsertina gespeel het, maar nou in eie reg voor die mikrofoon staan.

Laatmiddag elke dag trek hy die ateljee se deure toe en maak ’n punt daarvan om minstens ’n uur lank alleentyd saam met sy seun deur te bring. In die somer, wanneer dit ’n warm en sonnige dag is, speel hulle te lekker in die gesin se swembad. “Mamma is nie lief vir water nie,” sê Ricus.

“Sy kry mos koud vir alles!” Gedurende die afgelope wintermaande het hulle weer veral tyd in die natuurpark in die woonkompleks deurgebring, waar Dawid hom vergaap aan die ganse op die dam of die bokkies wat naderstap om te kom water drink.

“Hy like dit om buite te wees,” vertel die trotse pa. “En ek like dit ook!”

Wanneer die kleinding saans seweuur bed toe gaan, is dit weer die ouers se kuiertyd met mekaar. Haar man “is ook glad nie bang vir ’n doek nie”, spog Liza.

Dan terg Ricus: “Die een wat gewoonlik eerste ietsie ruik, skree ‘nix!’, en dan is dit die ander een se werk om die doek te ruil.” Op Dinsdagoggende vat Liza Dawid na ’n opvoedkundige speelgroepie naby hul huis, waar aandag gegee word aan veral die kleintjies se motoriese ontwikkeling. Maar daar is geen moderne speelgoed wat jy in winkels koop nie.

“Dis back to basics,” verduidelik sy. “Ons maak gebruik van items wat jy in die huis kry – soos om ’n strooitjie deur die gaatjie van ’n CD of watte deur ’n snit in ’n tennisbal te druk.”

Ricus and Liza
Die musiekbloed bruis deur klein Dawid se are. Hy begin spontaan dans as hy musiek hoor. Foto: Lubabalo Lesolle

Sy kan reeds sien die musiekgene loop sterk in Dawid se lyfie, sê Liza. “Wanneer hy musiek hoor, begin hy sommer spontaan dans. Hy is veral lief vir sy pa se liedjies. ‘Boerepompie’ is sy gunsteling.”

En dis g’n wonder nie – sy pa was skaars ses jaar oud toe kon hy al verskeie instrumente, waaronder ’n konsertina, oftewel ’n boerepompie, speel.

Vandag bespeel hy 13 instrumente, en op sy vyf albums het hy self al die instrumente gespeel. Dan kan klein Dawid se ma nog boonop behóórlik noot hou – sy is veral bekend vir haar hoofrol in die 2013-musiekspel Liefling, gegrond op die rolprent.

Liza begin ’n vrolike wysie neurie, en die vriendelike knapie kry skielik ’n groot glimlag op sy gesig.

Hy swaai sy lyfie energiek rond en stamp sy voetjies ritmies op die vloer terwyl hy met die een vingertjie in die lug beduie. Toe hy klaar is, gee hy sommer vir homself ’n handeklap en kraai van die lekkerkry.

Met Huisgenoot se vorige besoek, kort ná Dawid se geboorte in 2018, het Ricus gespot hy sal binnekort weer ’n “Hardekool” uit die hoed moet ruk – met verwysing na sy 2016-treffer, “Hardekole”, wat steeds gereeld oor die radio gehoor word.

Toe doen hy dit sowaar weer – dié keer met “Boerepompie”, sy liedjie saam met Snotkop, wat ook ’n oornagtreffer was. Die liedjie se musiekvideo is al meer as 8 miljoen keer op YouTube gekyk.

“Ek en Snotkop het al baie by dieselfde musiekfeeste opgetree, dan sien ek al verskil ons musiek hemelsbreed, het ons dieselfde crowd,” vertel Ricus.

“Ons is baie verskillend, maar eintlik dieselfde. In die liedjie bly ons elkeen getrou aan wie ons is.”

Hy voel sy treffer het boeremusiek nou weer cool gemaak. “En dit het die konsertina ook weer cool gemaak. Dit is ongelooflik hoeveel e-pos ek kry van mense wat meer van dié instrument wil weet.”

Terwyl Ricus volstoom aan die werk is in die ateljee, fokus Liza vir eers op wat sy beskou as haar belangrikste rol: dié van ma-wees. “Ek kan dit nie glo nie, my kind raak so gou groot!” sê sy.

“In November is hy al twee jaar oud.” En dan gaan sy weer huil, dink sy . . .