Trump het Vrydag op sy Twitter-blad aangekondig: "Sanctions are coming”, wat ’n speling is op die gewilde HBO-trefferreeks Game of Thrones se slagspreuk: "Winter is coming". 

Die foto van hom en die woorde daarop is in dieselfde styl en font geskryf as dié wat die reeks ook gebruik. 

Die foto wat Donald op Twitter gedeel het.

Trump het die foto op Twitter gedeel om sanksies teen Iran bevorder. Dié sanksies word glo Maandag weer deur Amerika hervestig op dié land, na 'n kernooreenkoms met dié land in 2015 opgehef is onder Barack Obama se administrasie.

Die Amerikaanse kabelnetwerk HBO was glad nie ingenome daarmee dat Trump hulle beelde en slagspreuke gebruik om sy sanksies te bevorder nie. "Ons sal verkies dat ons handelsmerk nie misbruik word vir politieke doeleindes nie,” het HBO op Twitter laat hoor.

Volgens HBO was hulle nie bewus van Trump se twiet nie. "Hoe sê jy handelsmerk misbruik in Dothraki? (die fiktiewe taal in die reeks)," het HBO getwiet. 

Hulle gaan egter nie enige regstappe teen die Amerikaanse president neem nie. Maar die sterre van die reeks, wat se laaste seisoen volgende jaar uitgesaai word, het steeds hul afgryse in die sosiale media gedeel vir Trump, wat die tonge laat klap met sy omstrede beleide en sêgoed wat onder meer rassisme aanvuur. 

Maisie Williams, wat die rol van Arya Stark vertolk, het op Twitter oor die president se misbruik van hul reeks se woorde en beelde geskryf: “Nie vandag nie”.

Sophie Turner, wat die rol van haar suster, Sansa Stark in Game of Thrones speel, het net een woord vir Trump gehad: "Ew"! 

Hulle is nie al bekendes wat gal braak oor Trump nie. Die popster Rihanna het ook getwiet dat sy nie by een van Trump se "tragiese saamtrekke" sal wees nie en iets gaan doen oor haar liedjie Don’t Stop The Music by een van sy byeenkomste gespeel het.

Die sanger Pharrell Williams is ook warm onder die kraag. Pharrell het onlangs ’n prokureursbrief aan Trump gestuur en daarin gesê hy beter ophou om dié sanger se treffersnit Happy by sy byeenkomste te speel.

Bronne: cnbc, Daily Mail