Akrise Lee-Ann van Rooi saam met haar ma Dalmari S
Die aktrise Lee-Ann van Rooi saam met haar ma, Dalmari Steward, tydens 'n onlangse uitstappie op Simonstad. Foto: Facebook

Haar 73-jarige ma het op 2 Junie die Pfizer-inenting ontvang, vertel Lee-Ann aan Huisgenoot. 

“Teen die 9de Junie was sy vrek siek. Ons het gedink dis moontlik die side effects van die inenting. So maar gelos en gemonitor,” voeg die aktrise by.

Toe haar ma ’n week later steeds siek is, het gevaarligte begin flikker, sê Lee-Ann, wat nou te sien is as Maggie Cloete in die kykNET-dramareeks Sara se geheim, wat ook op die stroomdiens Showmax beskikbaar is.

Meer as 60 000 Suid-Afrikaners is reeds aan die covid-19-virus dood.

“Ek het mamma dokter toe geneem. Hy het haar ’n handjie vol pille gegee en gesê sy moet die volgende oggend elfuur bel of sy nou beter voel of nie, want die third wave kan baie gou omdraai,” vertel Lee-Ann uit die kusdorp Mosselbaai waar sy tans 'n bietjie saam met die draaiboekskrywer Ricardo Arendse uitspan.

"Ons het ook die Pfizer-hulplyn gebel. Die dokter daar was amazing. Sy het haar tyd geneem met mamma. En toe gesê ons moet vir 'n covid-toets gaan, net om seker te wees."

Hulle het Lucinda Evans gebel van Philisa Abafazi Bethu, 'n uitreik-gemeenskapstigting vir mishandelde vroue en kinders. Haar ma is 'n voorsitter op die raad.

“Lucinda het toe aanbeveel waar ons moet gaan, die beste plek waar ons goeie diens gaan kry. Mamma is toe positief. Ons is almal negatief, maar het toe ons 10 dae uitgesit," vertel Lee-Ann.

Haar ma, Dalmari, is nog op en wakker, maar soms nog stadig en 'n bietjie onseker, sê Lee-Ann.

“In ons bedryf is ons frontline workers, en moet ons maskers afhaal om te werk." Dis vir haar baie moeilik, want elke keer wanneer sy dit doen, weet sy sy kan dalk die gevaar huis toe vat, na haar ma toe.

“Dan wag ek maar my 10 dae uit. En dan kan ek weer nader ingaan vir drukkies en soentjies. Ek werk saam met baie mense. Toe ons weet mamma is positief, toe kon ek nie eens my studente by UCT (die Universiteit van Kaapstad waar sy in die dramadepartement klas gee) se eksamens bywoon nie.”

Haar ma se tweede man, Erle Steward, het op 82 aan alzheimersiekte gesterf. Hy het vyf jaar aan demensie gely.

Lee-Ann se pa, Ralph van Rooi, is op 69 skielik aan ’n hartaanval oorlede. “Hy rus nou al vir sewe jaar," vertel sy. “2014 was ’n baie moeilike jaar vir my.”

Maar sy staan op en gaan aan. "Doen wat jy kan met wat jy het. En ek sê maar elke dag dankie vir God wat my nog ’n dag gegee het. If you choose life, then you must live it,” is die aktrise se boodskap aan mense wat ook nou deur donker tye gaan.

Op die stel van die kykNET fliek Palmiet wat op 12
Op die stel van die kykNET-fliek 'Palmiet' wat op 12 September begin. Foto: Verskaf
Lee-Ann van Rooi saam met Elton Landrew op die ste
Lee-Ann van Rooi saam met Elton Landrew op die stel van die kykNET-fliek 'Palmiet'. Foto: Verskaf

Hierdie bemoediging vind ook neerslag in haar mees onlangse projek: die kykNET-storiefliek Palmiet, wat deur Ricardo Arendse geskryf is. Hulle het dit begin Junie op Kleinmond in die Wes-Kaap geskiet. Palmiet maak op 12 September sy debuut op die kassie. 

“Dis ’n liefdesverhaal, propvol clichés,” verklap Lee-Ann. “Die noodlot word beskryf as onvermydelik en dikwels ongunstig, maar soms, net soms, bring die noodlot mense bymekaar wat nie eens geweet het dat hulle mekaar nodig het nie.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe