KOMEDIEMAN

Dié Kapenaar is bekend vir sy rolle as die tronk­bewaarder-skurk Tony in die sepie 7de Laan en as Aiden Cloete wat so koppe stamp met sy ma, Maggie (Lee-Ann van Rooi), in die dramareeks Sara se geheim. 

Van 3 Februarie kielie Marlo die lagspiere as Charlie Daniels in Netwerk24 se tweede aanlyn blits­reeks, Op en af. 

Dié reeks, wat volg op Netwerk24 se eerste blitssepie, Die testament, gaan oor drie getroude paartjies wat almal om hulp by ’n aanlyn huweliksberader aanklop. 

“Dis die eerste keer dat ek in ’n kome­die voor die kameras speel. Dit was baie angswekkend, al het ek dit al baie vir die teater gedoen,” sê Marlon (30). 

Saam met sy medesterre Charlton George (links agter) en (voor van links) Nicole Fortuin, Quanita Adams, Nadia Valvekens en Neels van Jaarsveld. Foto: SJ van Zyl

“Ek dink komedie is die moeilikste genre om in te speel, maar dis lekker om saam met akteurs te werk wat gewoond is aan die medium.”

Hy het nou saamgewerk met bekendes soos Neels van Jaarsveld, die oud-7de Laner Diaan Lawrenson en sy Sara se geheim-medester Quanita Adams. 

Hy was veral verbaas oor die lang ure wat hy op die stel deurgebring het vir die blitsreeks omdat die episodes elk net vyf minute lank is. “Ek het dit nogal nie verwag nie.”

KAMMA-VROU

Marlo het dit veral geniet om teenoor Nicole Fortuin te speel, wat onlangs te sien was as Lee-Anne in die kykNET-dramareeks Alles Malan. 

In Op en af vertolk Nicole die rol van Ilse Daniels, wat onlangs met Marlon se karakter, Charlie, afgehaak het. 

Die paartjie sukkel om swanger te raak en dit plaas baie druk op hul huwelik. 

“Charlie en Ilse is lief vir mekaar. In hul verhouding sal hy altyd die een wees wat terugstaan terwyl sy die go-getter is. Hy sal alles doen en selfs ’n vibrating onderbroek dra om sy vrou gelukkig te hou,” laat Marlon hoor.

Hy het altyd grappies gemaak dat Nicole sy theatre crush is. “Ek het ook gesê as die geleentheid opduik om saam met haar te werk, sal ek dit met albei hande aangryp.” 

Marlo het ’n week voor die kameras vir Op en af by die President-hotel in Kaapstad begin rol het, uitgevind sy speel sy vrou. 

“Ek was baie opgewonde en dink Nicole is ’n wonderlike aktrise. Sy is ’n go-getter, nes haar karakter, en boonop baie snaaks.”

DIE GROOT SEER

Agter die skerms het Marlo deur ’n moeilike tyd gegaan terwyl hy aan Op en af verfilm het en op die planke was van die Fugard-teater in Kaapstad in Athol Fugard se toneelstuk Statements After an Arrest Under the Immorality Act.

“My pa was baie siek nadat pankreas­kanker by hom gediagnoseer is. Hy het gesterf twee dae nadat ons klaar geskiet het aan Op en af,” vertel Marlo oor sy pa, Christopher, wat op 65 sy stryd teen kanker verloor het.

Sy pa, wat op Montagu in die Wes-Kaap gebore is, was ’n soldaat in Namibië, waar hy Marlo se ma, Maureen (57), van  Grootfontein, ontmoet het. Marlo is daar gebore. 

’n Jaar later is sy pa na Oudtshoorn verplaas en die gesin het daarheen verhuis.

Die hele Op en af-span het hom bygestaan ná sy pa se dood, veral Nicole en sy Sara se geheim-medesterre Quanita en Charlton George. 

“Omdat ek baie saam met Nicole gewerk het, was sy altyd die een wat my moed ingepraat het wanneer ek dit nodig gehad het.”

Die jaar 2019 was een van sy moeilikste jare, veral omdat hy sy pa verloor het. 

“Al was my pa siek, het dit steeds as ’n groot skok gekom,” sê hy.

Sy ma moes in ’n stadium ook sy pa versorg. “Haar lewe en waardeur sy verlede jaar moes gaan, het my gewys sy is ’n ongelooflike sterk vrou.” 

Sy jonger broer, Geraldo (29), is nes sy pa in die weermag en sy ouer broer, Hilton (38), is in die gastebedryf. 

Marlo het ook drie sibbes aan sy vaderskant: twee halfbroers, Raymond Minnaar (37) en Christopher Minnaar (48), en ’n halfsuster, Eleanor Hop (43). 

NÓG DRAMA

Marlo is nou weer weekliks in die derde seisoen van die kykNET-dramareeks Sara se geheim te sien, ’n rol waarvoor hy in 2018 ’n Huisgenoot Tempo-toekenning vir beste akteur losgespeel het. 

“Ons het in Mei verlede jaar met die verfilming begin. Die tweede seisoen is twee jaar gelede geskiet; daarom was dit lekker om almal weer te sien en ook hoe hul karakters gegroei het.”

marlo minnaar,akteur,sara se geheim
Marlo is as Aiden in Sara se geheim te sien. Foto: kykNET

Hy het heelwat saam met die akteur Brendon Daniels gewerk, wat sy biologiese pa, die gewese tronkvoël Ricky, speel. 

“Hy is een van die mense in die bedryf wat ek die langste ken,” sê Marlo. 

Hy sonder Brendon, Charlton, wat sy grootmaakpa, Virgil, in die reeks speel, en Quanita, wat die rol van sy tannie Lizzie vertolk, uit as die akteurs by wie hy die meeste aanklank vind. 

Lee-Ann van Rooi speel sy ma, Maggie, en Brendon Daniels sy biologiese pa, Ricky. Foto: kykNET

“Hulle is nederig en ons verstaan mekaar. Ek en Brendon neem ook nie mekaar en die bedryf te ernstig op nie. Ek dink dit is ’n goeie eienskap om te hê.” Volgens Marlo kan kykers, soos altyd, hope drama in die komende weke verwag. 

“Daar word baie struikelblokke deur sy familie in Aiden se pad gegooi. Hy is in dié seisoen ook op ’n soeke na identiteit en waar hy behoort.” 

lee-ann van rooi,marlo minnaar,sara se geheim
Lee-Ann behartig ook die regie van sy soloverhoogproduksie Hoe change hulle en speel saam met hom in die produksie Die garage. Foto: kykNET

Sy TV-ma, Maggie, het gevlug nadat sy per ongeluk haar jongste seun, Kelvin (Conway October), doodgeskiet het. 

Al is Aiden en sy ma steeds haaks, meen Marlo Aiden hoop hul verhouding sal nog verbeter. “Op die einde hang alles van Maggie af.” 

Blitsvrae
  • Wie is jou gunstelingkomediant?

Ek is ’n groot aanhanger van Trevor Noah. Hy is slim in die manier waarop hy sy grappies skryf en vertel. 
Hy kom ook van ’n nederige begin en het gehustle om te kom waar hy vandag is. Dis regtig iets om na op te sien. 

  • Wat is jou gunstelingkomediereeks?

Die ikoniese TV-reeks Friends.

  • Watter boek het jou lewe verander?

Eben Venter se boek Santa Gamka wat oor ’n Karoo-seun gaan. Ek het baie van myself in die boek gesien. Ek het dit later in ’n verhoogproduksie omskep. Dit was my suksesvolste eenmanvertoning.

  • Wat is boaan jou emmerskoplys?

Ek wil vanjaar oorsee gaan vakansie hou, my eerste vollengte fliek skryf en my eerste R1 miljoen in die bank hê. 

  • Watter mens bewonder jy die meeste? 
    My ma is my grootste inspirasie. Sy is beslis een van my rolmodelle. 
Hier is vyf dinge wat jy moet weet oor dié nuwe blitsreeks:
1. Diaan Lawrenson, bekend as Paula in 7de Laan, en haar man, Jody Abrahams, vervaardig die reeks. Diaan is ook daarin te sien.
2. Op en af kom uit die pen van die dramaturg en skrywer Leon Kruger en is ’n verwerking van sy toneelstuk Klein jakkalsies, waarin Diaan en Jody te sien was.
3. Die reeks gaan oor drie paartjies wat in dieselfde woonstelblok bly: die jong getroudes Ilse en Charlie Daniels (Nicole Fortuin en Marlo Minnaar), die prokureur André Mouton en sy vrou, Bev (Charlton George en Quanita Adams), wat die langste getroud is, en Frans, ’n aandele-ghoeroe, en die oud-TV-aanbieder en vlogger Leandé du Plessis (Neels van Jaarsveld en Nadia Valvekens). Al drie paartjies ken mekaar goed en deel gedurig onderling raad uit.
4. Een van die uitdagings van verfilming was dat die President-hotel in Kaapstad oop was vir gaste terwyl hulle die blitsreeks verfilm het, vertel Marlo.
5. Op en af bestaan uit 65 episodes: vyf episodes per week oor 13 weke. 

Netwerk24.com | Op en af begin Maandag 3 Februarie. 

kykNET| Sara se geheim, Donderdae  20:00

EKSTRA BRON: NETWERK24
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.