Vanweë die covid-19-pandemie en die inperking gaan Sasha-Lee Olivier die eerste Mej. Suid-Afrika word wat om dié rede vir langer dié titel en kroon gaan hou. 

Einde Julie word haar jaar as Mej. SA vir nog drie maande verleng. 

Maar sy het ’n wonderlike jaar vol uitdagings gehad, sukses behaal om bewustheid rondom gendergeweld te bevorder, het omtrent gewoel in die kombuis en gebak, en dan was daar ook tot vals gerugte oor ’n swangerskap wat sy die nek moes omdraai.

Haar tyd as Mej. SA het haar lewe verander, vertel die beeldskone Sasha-Lee (27) aan Huisgenoot.

 “Voorheen het ek Mej. SA as die platform gesien vir wat dit was, maar nie gedink aan wat dit vir my sou beteken nie. Ek het my stem gevind en alles wat ek voorheen kon gedoen het, is verdubbel as gevolg van dié platform. Ek is baie dankbaar daarvoor,” vertel sy vanuit haar woonstel in Sandton.

Sy sê dit is ook vir haar die beste deel van Mej. SA wees. “Om die geleentheid te kry om met soveel mense te kan praat as wat ek sou as Sasha. Dit het my in ’n posisie gesit om meer gesprekke met mense te hê. En van daardie gesprekke het so aanklank by my gehad dat dit gehelp het om my die mens te maak wat ek vandag is,” vertel Sasha-Lee in ’n video-oproep aan Huisgenoot

Maar die covid-19-pandemie het nie net gesorg dat sy langer die kroon as Mej. SA gaan dra nie; dit het ook gekom met sy eie unieke uitdagings, vertel sy.

“Om Mej. SA te wees is ’n hands-on werk, maar as gevolg van covid-19 was daar beperkinge. Ek het my stem verleen aan die #itsnotyourfault-veldtog, wat slagoffers van seksuele geweld bevry en vier. Maar ek moes baie interaksies op sosiale platforms gehad het. Ons moes aanpas met die tye wat ons nou in is.” 

Sy is nog gereeld in kontak met die oorspronklike wenner, Zozibini Tunzi (26), wat in Desember 2019 in Atlanta in die VSA as Mej. Heelal aangewys is. Zozi bly tydens haar kroningsjaar in New York. Volgens die reëls word die naaswenner, in hierdie geval Sasha-Lee, die nuwe Mej. SA. 

“Ons doen ook werk met die nuwe meisies wat binnekort in dié ruimte gaan kom. Maar ek en sy het interessante gesprekke. Dis nie altyd net oor werk nie. Dit was lekker om saam met haar deur dié proses te gaan. Sy het haar eie uitdagings daar. Sy het vir my gesê: Ons het ons vlerke uitgekry en toe kom die pandemie en knip dit af.  

“Ons albei is baie hands-on en wou so baie doen. Dit was nie moontlik om te doen wat ons wou nie, maar ons moes doen wat ons kan.” 

Maar een ding wat sy nie in dié tydperk van inperking gedoen het nie, was om soos talle van haar landgenote piesangbrood te bak. “Ek kan nie. Maar ek het wel gebak. En ek het baie gelees ook. Maar ek het pawlowa gemaak die ander dag. Dis altyd ’n gunsteling, al dink sommige mense nie so nie. Moet hulle nie glo nie,” grap sy. 

Sy het ook kolwyntjies gebak, sê sy. “Ek gaan die pandemie uit as ’n meesterkok. Hou dié ruimte dop. Dalk sien jy my op MasterChef,” lag sy. 

Maar haar jaar was ook vol vals mediaberigte oor ’n swangerskap, dat sy vet is, en mense wat haar aanlyn geboelie het oor haar gewig.

“Ek dink daar is baie mense in die goedkoop sitplekke van die lewe wat haat gooi vir die man of vrou in die arena. Maar ek moes dit hanteer met grasie en gebed," vertel Sasha-Lee.

“Ek was nog altyd die persoon wat na die groter prentjie gekyk het. Ek het altyd gesê dié is nie die vyand wat ek moet veg nie. Die vyand wat ek in die gesig moet staar, is geslagsgebaseerde geweld en seksuele mishandeling van vroue en seuns. En ek kon nie laat dié goed my fokus daarvan af wegvat nie.”

Sasha-Lee probeer al van kleins af haar naam gestand doen. “My naam beteken ‘defender of mankind’, en dis wat my deur wat ook al ek moet deurmaak, dra," vertel sy.

Sy was wel teleurgesteld in wat van haar geskryf en gesê is. “Maar ek moes gefokus gebly het op wat belangrik is.

“Ons gaan soms uitdagings ons kant toe kry, maar dis hoe jy dit hanteer en daaruit styg,” sê Sasha-Lee.

In haar jaar as Mej. SA het sy al geleer hoe sterk sy is, al kom uitdagings haar kant toe. “En ek het ook die veerkragtigheid van ons mense gesien en wat ons as volk kan oorkom en bereik.”

Sy het weer ’n beroep op die land gedoen om hul deel te doen om die geweld teen vroue en kinders stop te sit. “Ons kan nie wag vir iemand om dit vir ons te doen nie. Dit verg dat ons ons deel ook doen.” 

Sasha-Lee, wat deeltyds as ’n onderwysassistent by I Am, ’n skool in Alberton vir kinders op die outismespektrum, gewerk het, sê sy sien uit daarna om weer in die veld van vroeë kinderontwikkeling te werk. “Deel van my toekomsplanne is om terug te keer as ’n onderwyseres. My kinders mis my. Ek kan nie wag om weer terug in die klaskamer te wees nie.”

Maar vir eers wil sy nog meer werk insit as Mej. SA in die ekstra drie maande, wat vanaf einde Julie by haar tydperk gevoeg is.

Daar is ook nog nie ’n datum aangekondig wanneer Mej. SA 2020 aangewys word nie.