Schalk Bezuidenhout vermaak sy aanhangers tydens d
Schalk Bezuidenhout vermaak sy aanhangers tydens die voortslepende coronaviruskrisis met video’s vol pittige sêgoed en snaakse kommentaar. Foto: ER Lombard.

Toe ’n tienerseun met donker krulhare en draadjies sowat 15 jaar gelede minder as ’n minuut lank in die eerste seisoen van Binnelanders verskyn het, sou min mense kon raai hy sou eendag een van Suid-Afrika se gewildste komediante word.

“Is daai jy, Schalk?” wou ’n aanhanger twee jaar gelede op Instagram by die komediant Schalk Bezuidenhout (28) weet.

“Ek het nie eens besef ’n mens kan Binnelanders van seisoen een, episode een op Showmax kyk nie. Ek weet nie wie het besluit: ‘Ek binge nou Binnelanders van seisoen een af’ nie, maar iemand het dit raakgesien en vir my op Instagram ’n boodskap gestuur,” sê Schalk.

“Toe ek weer daardie videogreep sien, het ek gedink dit sou great wees om weer in Binnelanders te wees,” vertel hy.

Van die drie ekstras wat vir ’n tennisles in die episode aanmeld, was Schalk die een wat ’n paar woorde sê.

“Uit die drie outjies het ek seker meer pryse by die kunswedstryd gewen,” sê hy.

Schalk is as Petrus in Binnelanders te sien.
Schalk is as Petrus in Binnelanders te sien. Foto: Binnelanders.

Daarna, erken Schalk, het hy deur die jare verskeie kere by die kykNET-sepie se vervaardiger, Elsje Stark, vir ’n rol in die sepie geskimp wanneer hulle mekaar raakloop. Maar sy het dalk gedink dit is net nóg ’n grappie in dié komediant se repertoire.

Maar sowaar – einde verlede jaar kontak die mense van Binnelanders hom toe.

“Hulle het gevra watter soort rol ek wil vertolk, maar ek het net geantwoord: Ek wil nie vir die skrywers sê hoe om hul werk te doen nie – hulle moet skryf wat hulle goeddink en ek sal daarby inval. Of dit nou ernstig of meer komies is, dit maak nie saak nie.”

En nou verskyn Schalk weer in Binnelanders, dié keer in ’n volwaardige rol.

Schalk Bezuidenhout
Foto: Binnelanders.

Sy karakter, Petrus, is intelligent, doelgerig en ingestel op detail. En al spog hy met ’n welige man bun, hanteer hy sy beroeps- en persoonlike lewe saaklik.

“Ek is in sekere opsigte, soos Petrus, nogal ’n perfeksionis en was nog altyd ’n netjiese mens,” vertel Schalk in die woonstel in Craighall Park, Johannesburg, waar hy en sy verloofde, die produksie-ontwerper Mica McKechnie (29), woon.

“Ek dink die tannies sal verskil, want my hare is nie baie netjies nie,” sê hy.

Daardie bekende krullebol is deesdae selfs nog langer as waaraan aanhangers deur die jare gewoond geraak het.

Dit is eintlik te danke aan Mica dat hy sy hare langer uitgroei tot sy volgende projek hom weer haarkapper toe dwing. “Ek sal altyd my snor of hare of my voorkoms verander vir ’n rol, want dit is vir my belangrik dat mense my nie moet sien in die karakter wat ek speel nie.”

Schalk en sy verloofde, Mica McKechnie, saam met O
Schalk en sy verloofde, Mica McKechnie, saam met Otis. Foto: ER Lombard.

Toe hy in Maart verlede jaar op ’n vliegtuig Kaap toe klim, was hy nog vuur en vlam om sy beplande Schalk sing sleg-toer, wat toe reeds in Johannesburg begin het, in die Moederstad voort te sit.

Hy en die musikant Wesley van der Westhuizen sou in restaurantteaters optree waarvan die kapasiteit nie die inperkingsmaatreël van hoogstens 100 mense by ’n binnenshuise byeenkoms sou oorskry nie.

Maar iets wat die skrywer Danie Marais vroeër daardie maand by die US Woordfees vir Schalk gesê het, het êrens deur sy kop bly maal: “Almal gaan op al die besluite terugkyk wat ’n mens in hierdie tyd geneem het en dit analiseer,” het Danie voorspel. “Hulle gaan sê: ‘Nee, maar jy het geweet daar is hierdie virus en tog het jy dit en dat gedoen.’

“Toe ons land, het ek vir Erns Grundling, wat my Afrikaanse vertonings bestuur, gebel en gesê hy moet al die vertonings kanselleer,” vertel Schalk.

‘Ek dink die tannies sal verskil, want my hare is nie baie netjies nie’

Pleks daarvan om sy week se verblyf prys te gee en dadelik terug te vlieg Johannesburg toe, het hy die week in die Kaap as ’n klein vakansie beskou.

’n Maand tevore het hy sowat vier weke in Oos-Londen aan die Afrikaanse komedie Kaalgat Karel verfilm. Dié fliek word later vanjaar uitgereik.

Daarna is hy met ’n paar vertonings Woordfees toe, waarna hy direk met sy nuwe vertoning, Schalk sing sleg, sou begin toer.

’n Blaaskans was dus broodnodig.

“Ek sê altyd ek gaan ’n week af vat, maar dan raak ek vinnig verveeld,” vertel Schalk.

Teen dag twee van sy vakansie het hy op sy foon met foto’s en video’s begin rondspeel, en sy gereelde komiese mymerings oor die inperking het gou sy duisende aanhangers gaande gehad. Kort voor lank het ál meer mense sy sosiale media vir ’n daaglikse dosis vermaak begin besoek.

“Ek onthou goed ek het in Maart nog in die lae 60 000 volgelinge op Instagram gehad. En ek het nog gedink: Dit sal great wees as ek teen die einde van 2020 by 70 000 kan uitkom,” vertel Schalk.

Sy volgelinge het sedertdien meer as verdubbel.

Selfs Mica en sy ouers, Greta en Schalk sr., het nou en dan ’n kameerol in sy video’s vol pittige sêgoed en bytende sosiale kommentaar vertolk.

“My ouers gee glad nie om as hulle in die video’s is nie. Op ’n manier is dit vir hulle lekker,” vertel Schalk. “My ma is veral mal daaroor as ek oor haar tuin post en die mense aanlyn sê hoe mooi dit is. Sy is baie erg oor haar tuin.”

Schalk en Mica het in Julie verlede jaar van hul woonstel in Linden na dié een in Craighall Park getrek juis omdat dit ’n tuintjie vir hul hond, Otis, het. Dié brakkie is ’n ware mengelmoes van verskillende rasse, en terwyl ons sit en gesels, verruil hy sy koeltekol in die tuin vir ’n kopkrappie van Schalk.

“Hier is dit makliker,” sê Schalk. “Ons kan die deur ooplos wanneer ons hier is en Otis kan buite in die tuin gaan lê wanneer hy wil.”

In hul vorige woonstel moes hy of Mica Otis gereeld inderhaas van die derde verdieping af tuin toe dra.

Schalk en Mica het in Oktober 2019 verloof geraak en sou aanvanklik ’n jaar later afhaak. Maar die pandemie het ander planne gehad.

“Ons mik nou na Oktober 2021, maar nou weet niemand hoe lank die tweede vlaag van die pandemie ’n probleem gaan wees nie,” vertel hy.

Schalk Bezuidenhout
Foto: ER Lombard.

Die twee is dit eens dat ’n troue ’n een-keer-in-’n-leeftyd-ervaring is en wil nie die wa voor die perde span nie.

“Ons wil nie hê dat daar een mens is wat daar sit en ’n bietjie ongemaklik of bang voel omdat hulle moontlik kan siek raak nie,” sê hy.

Hulle wil hê hul familie en vriende moet sonder enige bekommernis ’n hele naweek saam kan makietie hou.

“Ek sal graag vir Mica die troue wil gee wat sy wil hê en wat ek sal geniet. Al beteken dit ons trou eers oor vyf jaar.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.