Niemand anders lyk soos hy nie.

Daar’s die bos wilde krulle en swart moestas – die outydse truitjies, bont hempies, uitgetrapte tekkies en sokkies wat hoog tot amper by die knie opgetrek is. Nou en dan dra hy selfs iets wat na die soort uitrusting lyk wat jou ouma al drie dekades gelede aan ’n tweedehands-winkel geskenk het.

Maar deesdae lyk die aweregse outjie heel anders: stemmig in ’n pak en ’n das uitgevat wanneer hy Maandagaande op die kassie as nuusleser verskyn.

Schalk Bezuidenhout (26) lyk die ene erns – tot hy met sy streke lostrek en sy sarkastiese woordpyle in die rigting van die week se nuusmakers skiet. Op sy nuwe satiriese nuusprogram Die Ware Naarheid op kykNET is álmal in sy visier.

Die regses, die linkses en sommer die hele spektrum tussenin: politici, sterre, nuwelinge en ikone.

Elke paar sekondes loop nog iemand deur. In leefkamers oor die land heen snak kykers waarskynlik voor die kassie na hul asem wanneer hy so astrant sy sweepslae uitdeel – en hier en daar maak hy sommige kykers sommer lekker die josie in.

Ek het op ons eerste date al gedink sy is baie oulik en kon nie wag om haar die volgende aand weer te sien nie

Sóék hy dan moeilikheid?

“Met satire is niemand veilig nie,” sê die komediant. “As satire nie skok nie, is dit nie satire nie.”

Sy satiriese program is nie al nuwigheid in die gewilde skerpskertser se lewe nie.

Toe skerpskutter-Schalk nog die aanbieder van VIA se maatsoekprogram Die Kliek was, het hy Kupido se pyle op ander gerig, maar nou is hy self in die hart getref.

So smoorverlief is hy op die pragtige blondekop Mica McKechnie (26) dat hy al skerts oor een naam vir hulle as paartjie – nes Hollywoodse glanspaartjies soos die voormalige Brangelina. Van die moontlikhede wat hy uitryg, is Schica, Malk en Micuidenhout. 

Schalk en sy meisie, Mica McKechni, was vroeër vanjaar saam op die Jacaranda FM Cruise. Foto: Instagram

Toe Schalk verlede maand ’n gesogte Suid-Afrikaanse Film- en Televisieprys (Safta) vir sy rol as Danny in die kykNET-komedie Hotel wen, het hy ’n foto van hom en Mica wat net tande wys op Instagram geplaas.

Daarby het hy geskryf: “Trophy life. Trophy wife. OK fine not wife at all, but ‘trophy life’ and ‘trophy girlfriend’ don’t rhyme so lekker.”

Hy kom so selfversekerd voor, jy sal nooit vermoed Schalk het ook al in sy lewe met onsekerhede geworstel nie.

“Mense sien nie jou onsekerhede wanneer jy in ’n restaurant saam met hulle kuier nie; dit kom uit wanneer jy een aand alleen ’n glas wyn in jou woonstel sit en drink,” erken hy toe ons tydens ’n blaaskans in die voorbereiding vir die volgende uitsending van Die Ware Naarheid ontmoet.

“Ek twyfel al jare lank in myself. Ek sal baiekeer wonder of ’n show so goed is soos wat ek dink dit is. In verhoudings sal ek wonder hoekom ’n meisie saam met my is en bang wees sy los my.”

Maar met Mica, ’n kunsdirekteur wat op advertensiestelle werk, is dit anders. Jy kan maar sê dit was liefde met die eerste oogopslag toe hy haar verlede jaar op ’n partytjie in Johannesburg ontmoet.

Hoe meer onseker jy voel, hoe meer onsekerhede het jy. Jy wonder heeltyd of jy goed genoeg is en of jou meisie by jou gaan bly of nie

“Ek was kort ná ons eerste ontmoeting weer in Johannesburg vir werk en wou haar beter leer ken,” vertel Schalk, ’n Kapenaar wat in Groenpunt woon.

“Ek het op ons eerste date al gedink sy is baie oulik en kon nie wag om haar die volgende aand weer te sien nie.”

Vir hom oorbrug die liefde alles – ook die honderde kilometers oor die Karoovlaktes tussen hul tuisstede heen.

“Mense lig dadelik hul wenkbroue wanneer hulle hoor ons bly nie in dieselfde stad nie,” vertel hy.

“Mense hou van drama, veral in verhoudings. Hulle wil so graag hê jy moet sê ja, dit is moeilik, en ja, dit skep probleme.

"Maar dit is nie die geval met my en Mica nie. Ons is ’n paartjie met ’n woonstel in die Kaap en een in Johannesburg, en dit is heerlik.”

Vandat hulle verlede Oktober begin uitgaan het, was hulle nog nie langer as ’n week van mekaar weg nie, vertel hy. Hy besef nou sy vorige verhoudings het onder sy onsekerhede oor homself gely.

“Hoe meer onseker jy voel, hoe meer onsekerhede het jy. Jy wonder heeltyd of jy goed genoeg is en of jou meisie by jou gaan bly of nie.”

Hy erken ruiterlik hy is bang sy hart word gebreek omdat dit al vantevore gebeur het.

“Maar vrees is deel van die lewe. Ek wil nie in vrees lewe en dan iets groots misloop nie.”

Al weet die talentvolle komediant en akteur nie waar sy gevoel van onsekerheid vandaan kom nie, het hy besef dis ’n persoonlike uitdaging waaraan net hy kan werk.

“My onsekerhede was verlammend en ek kon op niks anders fokus nie,” gesels hy openhartig. “Ek moes iets doen.”

Sowat drie jaar gelede het hy by ’n sielkundige gaan aanklop. Ná terapie, vasbyt en harde werk voel hy nou vir die eerste keer in sy lewe asof hy sy skoene as volwassene kan vol staan. Met Mica kon hy ook sy verhoudingvrese afskud omdat hy haar op die regte tyd ontmoet het.

“As ek en Mica vyf jaar gelede begin uitgaan het, sou dit waarskynlik nie gewerk het nie. Ek het in daardie stadium nog nie die dinge geleer wat ek nou in verhoudings toepas nie,” sê hy.

Hy het dié foto twee keer op Instagram geplaas saam met die woorde “The girl so nice I post her twice”. Foto: Instagram

Hy is duidelik ’n besorgde kêrel; hy vertel hoe bly hy is dat hy 13 weke in Johannesburg gaan wees om aan Die Ware Naarheid te werk, juis wanneer Mica ’n knieoperasie moet ondergaan.

“Nou kan ek haar heeltyd versorg en goedjies vir haar doen.”

Schalk is ’n romantiese ou wat haar spesiaal laat voel, vertel Mica later oor die foon. “Hy is spontaan, pret en vrygewig. Ons verhouding is altyd interessant en daar is nooit ’n vervelige oomblik nie.

“Hy verras my gereeld. Ek het ’n ruk gelede ’n moeilike week by die werk gehad, en toe ek een aand by die huis kom, het hy vir my ’n borrelbad getap, blomme in die wasbak gesit en ’n gedig geskryf. Dit was skreeusnaaks en baie oulik!”

Benewens die nuwe liefde in sy lewe, sy nuwe kykNET-program en daardie nuwe Safta-trofee in sy kas, verskyn hy later vanjaar in ’n nuwe fliek, Kanarie, wat eers op kykNET se Silwerskermfees in Kaapstad vertoon sal word en dan landwyd.

Daarin maak Schalk, wat oor ’n teatergraad van die Universiteit van Kaapstad beskik, sy silwerdoekdebuut – en dit in ’n ernstige rol. Meer kan hy nog nie verklap nie. Maar vir eers eis Die Ware Naarheid al sy aandag op.

Met Huisgenoot se besoek aan Nouvanaand Films se ateljee in Linden, Johannesburg, is Schalk en sy mede-aanbieders, die digter Bibi Slippers en die skrywer Erns Grundling, hard aan die werk aan die teks.

(Van links) Bibi Slippers, Schalk en Erns Grund­ling laat kykers skater in Die Ware Naarheid. Foto: Werner Botha

Al steek hulle op die kassie die draak met werklike nuusmakers en gebeure, is daar vandag min grappies waar hulle sit en werk. Hulle is hegte vriende, maar om komedie te skep is ’n uitdagende taak wat groot konsentrasie verg.

So tussen hul werk aan die program deur werk Schalk en Erns ook nou saam aan ’n boek, Truitjie Roer My Nie, waarin Schalk van die gebeure in sy lewe vertel en ook staaltjies oor sy werk as komediant deel. Dit sal in Junie verskyn.

Erns is ook die skrywer van die top-verkoperboek Elders, waarop sy gelyknamige kykNET-reeks oor die Spaanse Camino-staptog gegrond is. Bibi se debuutdigbundel, Fotostaatmasjien, het weer die literêre pryse laat inrol.

Schalk begin binnekort volstoom met sy nuwe eenmanvertoning, Snorseun, wat hy landwyd sal opvoer en werk reeds aan die derde seisoen van Hotel.

Noudat hy elke Maandagaand in ons sitkamers kuier, lok Die Ware Naarheid verskillende reaksies by kykers uit. Dis immers die eerste volledige satiriese nuusprogram in Afrikaans en ’n nuutjie vir Suid-Afrika.

“Daar was baie negatiewe én positiewe reaksies, maar ek het dit verwag,” vertel Schalk. Maar een ding is verseker: Of jy nou gek is oor hom of dink hy vat dinge darem te ver, dié spitsvondige skerpskertser is enig in sy soort.