“Ek was in gr. 5 en my girlfriend van daai tyd was Mariska. Maar dit was so ’n tipiese laerskool-situasie, sy het nie geweet ons is boyfriend en girlfriend nie. Ek het besluit ons is boyfriend en girlfriend en so half vergeet om haar in te lig,” vertel die akteur en komediant Schalk Bezuidenhout oor daardie Valentynsdag jare gelede. 

“En as ek reg onthou, was Valentynsdag ook soos vanjaar op ’n Sondag. So, toe daag ek by haar huis op. En jy weet, daai tyd was CNA nou maar die go-to plek vir Valentynsdaggeskenke met koffiebekers en so aan. Toe kom ek daar met ’n Westlife-CD en ’n koffiebeker met ’n teddiebeer in. 

“Sy maak die deur oop en ek gee dit vir haar. Sy het heeltemal verward gelyk, so half: 'Dit is nie wat vriende doen nie!' Toe breek my hart in duisend stukke. Toe gaan ek huis toe, en ek dink op die ou end het haar ma my meer jammer gekry en besluit: 'Jy gaan dit nie aan hom doen nie, ons gaan in die kar klim en jy gaan vir hom ook iets vat.' So ’n paar ure later kom sy by my huis aan en gee vir my iets terug. Ek kan nie onthou wat dit was nie,” vertel Schalk, wat tans as die karakter Petrus in die hospitaaldramareeks Binnelanders te sien is.

Hy meen hy en ene Mariska het nooit amptelik uitgemaak nie. 

“Sy is getroud, en ek dink nie haar man in die Noord-Kaap weet sy het eintlik nog ’n boyfriend nie,” skerts Schalk, wat verloof is aan die produksie-ontwerper Mica McKechnie. “Want daarna was ons toe nou boyfriend en girlfriend en ons het nooit amptelik opgebreek nie. So, ek het al vir Mica ook gesê ek het ’n girlfriend wat iewers in die Noord-Kaap op ’n plaas bly.”

Schalk en sy verloofde, Mica, het vir die Valentynsnaweek weggebreek na die Bosveld, maar dit is blote toeval dat dié wegbreeknaweek met Valentynsdag oorvleuel, sê Schalk, wat van mening was dat die Desembervakansie hopeloos te vinnig verby is.

“Dit het net so uitgewerk dat ons albei kon weggaan, werk is nou ’n bietjie stiller, en ek gaan oor drie weke weer Kaap toe om met die verfilming van Die kliek te begin,” vertel Schalk. 

Ja, in die maand van liefde gaan Schalk ook weer op VIA (DStv-kanaal 147) Kupido speel en hoopvolles help om liefde te vind wanneer hy terugkeer as aanbieder van die maatsoekprogram Die kliek

“Ek sien die meeste uit na die interaksie met die girls, want dit is wat Die kliek so lekker maak. Op die ou end voel dit of ons almal van die kameras vergeet, en dit is nes ’n klomp pêlle wat nonsens praat met mekaar, mekaar terg en uithaal en so aan . . .” vertel Schalk. 

“Hoe langer die seisoen aangaan – op die ou end is daar ’n paar girls wat vir vyf, ses episodes bly – en hoe langer hulle daar sit, hoe beter vorm ek met hulle ’n verhouding en hoe lekkerder raak die banter, soos hulle sê,” vertel hy verder. 

En sy raad aan deelnemers?

“Ontspan en geniet dit net! What is the worst that can happen? Jy kan op ’n date gaan en ’n drankie saam met iemand drink,” sê hy. 

Schalk is ook tans te sien in die sketskomediereeks Ben & Bez wat op Netwerk24 beskikbaar is.

Die 12 sketse is uit die pen van Schalk en Bennie Fourie. Hulle albei verskyn ook in die reeks. Bekende akteurs soos Bouwer Bosch, Beer Adriaanse en Frank Opperman en die aktrise Simoné Pretorius wys gesig in van die sketse.