Sean en Carla Else. Foto: Instagram
Sean en Carla Else. Foto: Instagram

Carla het Vrydag die nuus in die sosiale media verklap. 

"So geseënd en so opgewonde om nog ’n seëning by ons lewe te voeg," het sy op Instagram geskryf by ’n foto van 'n swartbord waarop die woorde: "Baba Else. Maart 2021," staan. Daar was ook sonarfoto's by die foto ingesluit. 

View this post on Instagram

#soblessed and very excited about adding another blessing to our lives. #gratefulbeyondmeasure #thankyouLord #forthischildweprayed

A post shared by C A R L A E L S E (@else.carla) on

“Ons het in Julie uitgevind ons is swanger,” vertel Carla aan Huisgenoot. Sy is nou 13 weke swanger. 

“Ons het twee jaar vir hierdie baba gebid. Ons het net gewag dat die Here ons wys wanneer die regte tyd is. Ons het ’n woord gekry oor die baba en ek het selfs ’n droom van die geboortedatum gehad," vertel sy. 

“Ons het toe besluit om te vertrou dat dit die regte tyd is. Ek het die pil in Junie gelos en ons het dadelik swanger geraak. God is goed,” vertel sy opgewonde. 

Carla was aanvanklik van plan om vir Sean die goeie nuus 'n paar dae later op sy verjaardag te gee, maar haar opgewondenheid het die oorhand gekry.

“Sean het in die kamer in gekom en vir my vertel dat dit net nie sy dag was nie. Toe vra ek: ‘Sal hierdie jou dalk opkikker?’

“Hy was baie bly en het gespot: 'Is jy swanger? Dis wonderlik. Laat ek maar weer gaan werk.”

Die Else het vier ouer seuns, Caylem (16), Vaughn (14), Daniel (7) en Noah (5). Die boeties is vreeslik opgewonde dat hul gesin uitbrei. 

“Daniel en Noah het al twee jaar gelede begin bid vir ’n boetie of sussie, so hulle kan nie wag om uit te vind wat die baba se geslag gaan wees,” laat Carla hoor. 

Gelukkig hoef hulle nie meer lank te wag nie. 

“Ons was vandag by die dokter. Dis ’n gesonde babatjie. Die dokter het die geslag neergeskryf in ’n koevert vir ons, en ek het dit net so by my ma gaan aflaai. Sy reël vir ons ’n gender reveal partytjie vanaand,” verklap Carla opgewonde. 

“Hierdie swangerskap is beslis baie anders as my vorige twee. Maar ek is ook al vyf jaar ouer as wat ek was toe ek vir Noah gehad het, so dit maak ’n groot verskil.” 

In Oktober is dit twee jaar sedert die gesin teruggekeer het na Kaapstad nadat hulle op die eiland Mauritius gewoon het terwyl Sean projekte daar gehad het. 

“Dis heerlik om terug te wees. Daar is niks so lekker soos mens se eie land en mense nie. En die kos! As Suid-Afrikaners net kan besef hoe lekker ons eet. Dis so goed om terug te wees,” vertel Carla laggend.