SEAN-MARCO VORSTER 

die akteur sean-marco vorster
Die akteur Sean-Marco Vorster. Foto: Instagram/@seanmarcov

Die akteur se afspraak met ’n vrou het lelik skeefgeloop. 

“Ek het gehoor van ’n plek waaroor almal mal was en het ’n vrou gevra om daarheen te gaan vir ons eerste afspraak. Toe ons daar aankom was dit die romantiesste restaurant wat ek nog ooit in my lewe gesien het, met musikante wat viool speel op die agtergrond.

“Ek kon sien sy het gedink ek wil haar op ons eerste afspraak vra om te trou. Die afspraak het skeefgeloop omdat sy ongemaklik gevoel het.”

SHERLIN BARENDS 

die radio-omroeper sherlin barends
Die radio-omroeper Sherlin Barends. Foto: Instagram/@sherlinbarends

Dié omroeper se blaps was in 2017 kort nadat hulle die radio-ontbytprogram KFM Mornings bekendgestel het. 

“ ’n Luisteraar het ingebel en my oor die lug op ’n afspraak gevra. Hy het vriendelik geklink en ek was enkellopend, so ek het ingestem. Hoe sleg kan dit wees?

“Maar op die afspraak het hy gesê my parfuum herinner hom aan sy ouma. Hy het sy vingers vir die kelner geklap en ’n Whitney Houston-liedjie begin sing vir almal om te hoor.

“Toe ek eindelik opstaan om te gaan, het my kollega Darren ‘Whackhead’ Simpson uit die bloute opgespring, saam met ’n hele kameraspan! My afspraak uit die hel was ’n poets.”

WILLEM BOTHA 

die sanger willem botha
Die sanger Willem Botha. Foto: Verskaf

Nadat die sanger in 2006 aan die sangreeks Idols deelgeneem het, is hy na sy eerste formele geleentheid genooi. 

“Ek het by die tafel gesit en gesien die sangeres Carike Keuzenkamp kom aangestap. Ons was toe by dieselfde platemaatskappy en ek wou myself graag aan haar voorstel.

“Toe sy by my kom, sê sy: ‘Hallo Willem, hoe gaan dit met jou?’ Ek was so geskok dat sy weet wie ek is en die eerste ding wat ek kon sê, was: ‘Hallo Anneli, hoe gaan dit met jou?’ Ek het natuurlik na die sangeres Anneli van Rooyen verwys en sy sê toe vir my haar naam is Carike.

“Ek was so verneder dat ek omgedraai en weggeloop het. Ek kon nie glo dat ek vir Carike, iemand na wie ek my hele lewe lank opsien, Anneli genoem het nie. Ek en Carike het al baie daaroor gelag.”

SCHALK BEZUIDENHOUT

die komediant schalk bezuidenhout
Die komediant Schalk Bezuidenhout. Foto: Instagram/@schalkiebez

“Ek was op laerskool en het kitaarlesse by oom Wollie geneem. Hy het ’n klein musiekskool gehad,” vertel die komediant. 

“Ek het altyd op skool Casper de Vries se karakter Oom Kallie Marie nagemaak. Die musiekskool het eenkeer ’n konsert in ’n kerksaal gehad en oom Wollie het my toe gevra om Oom Kallie Marie by die konsert te doen. Ek het opgedress en alles en my ding op die verhoog gedoen met die ou mense wat toekyk.

“Hier is die ding wat ek altyd sê van nabootsings: Die gehoor moet minstens die karakter of mens ken wat jy namaak, anders val die hele ding plat en dis wat met my gebeur het. Dit was my eerste groot death in komedie.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe