Selena Gomez het ter viering van Justin Bieber se 24ste verjaardag ’n oulike boodskap aan die Let Me Love You-sanger op Instagram gedeel.

Op die foto glimlag Selena (25) en wys na ’n foto van Justin wat op haar gesig lê.

“1 Maart, 1994. Iemand wat ek ken wat baie cool is, is op dié dag gebore. Boem,” het sy by die foto geskryf. 

Dis die eerste foto wat sy aan haar kêrel opdra sedert hulle teen einde Oktober verlede jaar hul romanse hervat het. 

Hoewel dit nie duidelik is wat Selena vir die popster se verjaardag beplan nie, berig E! News aanhangers kan iets ongeloofliks verwag, met dié dat die twee hul hande nie van mekaar kan afhou nie.

Jelena het onlangs gehaltetyd saam deurgebring in Jamaika vir Justin se pa se troue. 

“Hulle het regdeur die oggend gesoen en mekaar omhels. Hy het sonskerm aan haar rug gesmeer, en hulle het die swembad en buitelug geniet. Hulle het baie gelukkig gelyk,” sê ’n bron.

Bronne: eonline.com, dailymail.co.uk, metro.co.uk