Duisende Suid-Afrikaners bevind hulself in afsondering in poging om die gevreesde virussiekte COVID-19 vry te spring en verdere verspreiding van dié nuwe coronavirus te keer. 

Schalk Bezuidenhout, akteur en komediant

Schalk is al sedert Maandag, 16 Maart in selfisolasie. 

“Ek het Kaap toe gekom vir ’n week vol shows, maar het op pad besef die regte en verantwoordelike besluit sal wees om dit als te kanselleer. Ek wil nooit voel dat ek moontlik bygedra het tot die verspreiding van die virus, wat nou tot ’n nasionale ramp verklaar is, nie,” verduidelik Schalk.  

“My shows hierdie week sou onder 100 mense per show gewees het, maar selfs vyf mense is al wat jy nodig is om die virus te versprei. Hoewel ek baie graag die shows wou doen, moet ek bieg ’n week in ’n baie nice AirBnB in Kaapstad is glad nie sleg nie.

"Ek moet by sê dat ek oor die algemeen baie besig is en ontsettend dankbaar voel. Daar is ander kunstenaars wat maand tot maand lewe vir wie hierdie tyd ’n groot gatslag is,” sê Schalk. 

Die Hotel-akteur verlaat slegs sy blyplek in die stadium om op die promenade in Seepunt te gaan draf. 

“Vandat ek Johannesburg toe getrek het, mis ek my draffies op die promenade hier in die Kaap. So ek doen dit nog, maar behalwe daarvoor bestel ek maar Uber Eats en ontspan in die AirBnB. Dis nie iets wat ek gereeld die geleentheid kry om te doen nie,” sê hy. 

Hy gebruik die tyd ook om papierwerk in te haal. 

“10% van my loopbaan bestaan uit die tyd wat ek op die verhoog is vir optredes. Dit is die lekker deel. Die ander 90% bestaan uit skryf, e-posse tik en tyd deurbring op sosiale media om die shows te bemark.

“Dis weke of selfs maande se beplanning om een show te doen wat ’n uur-en-’n-half duur. So dis ook nie vir my persoonlik so sleg om bietjie tyd aan admin te spandeer nie.

"Selfisolasie is adminhemel. Maar as ek die keuse het, sal ek altyd verkies om elke aand op te tree.”

Schalk vertel hy is ook besig met krisisbeheer. “Daar moet nuwe datums gevind word vir al daardie shows en ons moet seker maak dat al die mense wat kaartjies gekoop het weet die show skuif en dat hulle hul geld terugkry,” verduidelik hy. 

Schalk beplan om op Woensdag, 25 Maart om 20:00 ’n regstreekse uitsending te doen van sy nuwe Afrikaanse vertoning, Schalk Sing Sleg. Hy sou dié vertoning die afgelope week in die Kaap gedoen het.

“Ons wil mense steeds in hierdie ontstuimige tye laat lag. Dit is ook vir ’n goeie doel aangesien ons die geld wil gebruik om die werknemers by die instansies waar ons optredes gekanselleer is te help.

“Ek praat hier van die mense wat in die kombuis werk, kelners ensovoorts. Hulle maak staat op daardie inkomste wat hulle nie tans kry nie. Met hierdie aanlyn vertoning kan ons almal saam wees, al is ons apart.”

Elma Smit, radio-aanbieder by Jacaranda FM

Elma het haar huis in Johannesburg op Dinsdag 17 Maart die laaste keer verlaat en sedertdien is sy in selfisolasie. 

“My man, Richard Maspero, moes nog tot dusver noodgedwonge vir werk uitgaan – so hy het maar die nodigste (kruideniersware) opgetel op pad huis toe. Ons het egter reeds ’n  week gelede voorberei vir 'n paar weke en probeer nou om skares mense so ver moontlik te vermy,” vertel Elma. 

“Ek moet volgende week Kaap toe vir my sussie se troue, wat nou noodgewonge ’n baie intieme middagete sal wees. Wat die reis Kaap toe betref, het ons besluit om eerder te ry as te vlieg om sodoende ons risiko so ver moontlik te beperk.

"My groot vrees is dat ek vir my ouers of ander familielede gevaar kan inhou,” sê sy. 

“Ek is die sportaanbieder op JacarandaFM se Breakfast With Martin Bester, soggens van sesuur tot negeuur. Gelukkig is dit deesdae vir my moontlik om my bulletins tuis op te neem en dan vir die span te e-pos. Jacaranda probeer ook op die oomblik voetverkeer na die ateljee tot die absolute minimum beperk om sodoende die kern van die ateljeespan te beskerm,” vertel sy. 

Elma is egter steeds druk besig.

“Ek skryf op die oomblik aan ’n boek en werk ook aan voorleggings en ander projekte, maar die vergaderings waarby ek betrokke is kan gelukkig grootliks via videoverbinding afgehandel word.”

Het sy nou meer tyd op hande?

“Ek spandeer natuurlik minder tyd in verkeer en sou waarskynlik vir ten minste een van volgende week se afsprake iewers heen moes vlieg, so dis 'n verligting dat dit nou via videoverbinding afgehandel kan word.

“Maar die teenoorgestelde is natuurlik waar, wat die troue betref. ’n Twee uur lange vlug na die Kaap het nou ’n 14-uur-rit per motor geword, wat beteken dat ek ’n hele dag inboet op pad daarheen en nog een hele dag op pad terug.”

Hoewel sy nog baie werk het om af te handel van die huis af, hoop Elma ook om haar tyd te gebruik kaste reg te pak.

“Dis verbysterend hoeveel clutter ons in ses jaar vergader het sedert ons laas getrek het. Ek het net gister vir Richard gesê my hande jeuk om minder te maak soos iemand wat moet trek!”

Elma keer die kajuitkoors deur onder meer tuin te maak.

“En een van my gunstelingblaaskansrituele as ek van die huis af werk is om na podcasts te luister terwyl ek bietjie in die grond rond krap! Ek maak ook graag kombucha, kompos en doen naaldwerk. Om so prakties en skeppend besig te wees help my gemoed geweldig baie.”

Francois van Coke, musikant

“Ek kan nie op die oomblik shows doen nie, maar daar is meer tyd om te skryf aan nuwe tunes!” het die rocker Woensdag op Instagram geskryf en Vrydag het hy ’n foto van homself voor sy braaier gedeel.

“Ek sê mos ek gaan nou elke dag braai,” het hy by die foto van hom met ’n pak braaisous geskryf. 

“Ek het alle shows verloor tot ten minste einde April. So meeste van my inkomste is daarmee heen, net soos vir meeste musikante,” sê Francois aan Huisgenoot.

“Ons het definitief nou meer tyd vir musiek skryf. So, ek gaan maar my energie daarin pomp, so veel as wat ek kan.

“En dan gaan ek natuurlik ook baie tyd met my gesin deurbring.”


Rolanda Marais, aktrise

Rolanda is sedert Dinsdag, 17 Maart in self-isolasie by haar en haar man, die regisseur Jozua Malherbe, se huis in Kaapstad.

“Ek probeer by die huis bly en doen aanlyn aankope, maar as ek regtig moet inkopies doen, gaan ek met saniteerder en ek saniteer die heeltyd as ek aan iets raak,” vertel sy. 

Sy sê die vermaakbedryf het tot stilstand gekom. “So baie projekte is gekanselleer, om nie eers te praat van die feeste nie. Dis ’n rowwe tyd vir ons. Tensy jy ’n skrywer is, is daar niks wat ons tuis kan doen nie,” sê sy.

“Ek gaan wel begin met oorklankingswerk waar net drie mense in die ateljee is. So dit behoort nie ’n probleem te wees nie. Maar ja, dit is ’n uitdagende tyd.”

Rolanda sê sy is mal daaroor om in die huis rond te dwaal. 

“Ek maak die huis mooi, probeer klere en dinge regmaak wat ek nooit voor kans gehad het nie en ek geniet net die samesyn van my man en my dogter in ons lieflike rustige huis. Maar as mens ’n peuter in die huis het is daar nie so iets soos boeke lees en flieks kyk nie, tensy jou drie-jarige saam kan kyk.”

Rolanda meen sy het nogal haar hande vol met haar drie-jarige blondekop-dogtertjie, Charlotte. 

“Dis ’n vreeslike moeilike tyd. Sy is drie en sy verstaan nie hoekom sy nie by maats kan gaan speel nie.

“Sy is verveeld en sy dryf my teen die mure uit. Ek wens ook nou sommer dat sy ’n sibling gehad het wat haar kan besig hou want ek moet heeltyd met haar speel. En sover ek skoonmaak, maak sy vuil. . .

“Huisskoonmaak is ’n heeltydse werk. Ons het ons huishulp betaalde verlof gegee. So tussen die huiswerk deur, speel ons baie. Ons bak koek en muffins en brood en ons hou piekniek en daar is ure se verbeeldingspel.

"En ons kyk maar televisie. Ons probeer dit so min as moontlik doen, maar dit is soms ’n lewensredder.”

En hoe keer sy die kajuitkoors?

“Ek gaan stap in die strate van ons buurt of gaan ry sommer net ’n entjie. Of ek sit in die tuin en luister na die voëls.”