Gemaklik koel

Foto: Instagram (@fitnessgirl_za)
Foto: Instagram (@fitnessgirl_za)

TRACEY-LEE LUSTY (29):  @fitnessgirl_za

Dié Kaapstadse prokureur en positiewe fiksheidsbeïnvloeder het met haar blog, Fitnessgirl, haar reis met gewigsverlies van 30 kg in ’n hulpmiddel van inspirasie vir mense oor die wêreld omskep.

Wat beteken liggaamspositiwiteit vir jou?

Dit beteken leer om jou lyf deur elke seisoen lief te hê en jou “foute” as ’n oefening van selfliefde en aanvaarding te vier. Dit gaan oor erkenning dat alle lywe gelyk is, ongeag grootte, vorm, kleur of vermoë.

Dit gaan oor aanvaarding en die viering van jou unieke liggaamsvorm, die erkenning dat dit deur natuurlike veranderings gaan, en om jou bes te doen om jou liggaam gesond te hou en optimaal te laat funksioneer.

Was jy al ooit onseker oor jou lyf?

Foto: Instagram (@fitnessgirl_za)
Foto: Instagram (@fitnessgirl_za)

Absoluut! Ek het ’n groot deel van my tienerjare en jong volwasse lewe my lyf gehaat, veral my arms en bene wat altyd groter was. Nadat ek die liggaamspositiewe beweging ontdek het, kon ek dié dele van my stadigaan aanvaar, en ek vier nou daai “foute”.

Hoe bestry jy onsekerhede?

Ek dink een van my grootste onsekerhede is vergelyking. Maar vergelyking steel op die ou end alle vreugde. En ek het geleer daar gaan net een ek wees en niemand anders kan vir die wêreld bied wat ek kan nie. Aanvaar en begryp ons bring almal iets unieks na die wêreld. Dit het my regtig gehelp om minder onseker te voel en op my eie vermoëns te fokus.

#SELFSORG

Haar goedvoelroetine

Ek probeer elke oggend drie bevestigings voor die spieël sê. My gunsteling is: “Jy is mooi, dapper, intelligent, innemend en onmeetlik bekwaam.” Ek volg ook graag mense in die sosiale media wat my laat goed voel oor myself. Dit is baie belangrik dat ons ons omring met mense wat ons opbou. En dieselfde geld vir die sosiale media. My no. 1-reël: Moet bloot nie die mense volg wat jou minderwaardig laat voel nie.

Haar selfsorgroetine

Ek sorg dat ek elke dag my gesig skoonmaak, verfris en bevog. Ek probeer ook elke dag 5-10 minute opsysit om te mediteer en mindfulness te beoefen.

’n Moet in haar handsak

Voor covid: lipstiffie. Ná covid: handreiniger.

’n Moet in haar klerekas

Op die oomblik is ek gaande oor somer-maksirokke en speelpakke. Ek hou baie van Forever New Curve, Suberbalist en Cotton On Curve.

Haar stylikoon

Plaaslik is dit Thickleeyonce (die plusgroottemodel en beïnvloeder Lesego Legobane). Internasionaal is dit die model Ashley Graham.

Foto: Instagram (@thickleeyonce)
Foto: Instagram (@thickleeyonce)
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Tydlose stadsjiek

Foto: Instagram (@deborah_darling)
Foto: Instagram (@deborah_darling)

DEBORAH CHAMBERS (59): @deborah_darling

Dié model daag die negatiewe stereotipes rondom oudword uit. Deborah is in Nieu-Seeland gebore, maar woon al 40 jaar in Johannesburg. Sy het ’n aanlyn winkel wat klere en bykomstighede verkoop.

Wat beteken liggaamspositiwiteit vir jou?

Ek aanvaar my ouderdom en alles wat daarmee saamgaan. Die lyne op my gesig vertel die verhaal van my unieke lewe, die gelukkige en hartseer tye, die lag en die trane. Die merke aan my lyf spreek van die beeld skone voorreg om ’n kind te gedra het; ek sou niks daarvan wou wegsteek nie.

Was jy al ooit onseker oor jou lyf?

Daar was ’n tyd toe ek oor die tekens van veroudering aan my gesig en lyf onseker gevoel het. Daar is soveel negatiewe narratief rondom veroudering dat ons van taamlik jongs af leer enige tekens van ouer word is aaklig en moet vermy word.

Die boodskap wat ons van die samelewing kry, is dat die enigste maatstaf van skoonheid ’n gladde en vlekkelose vel is. Sowat 10 jaar gelede, toe ek ongeveer 50 geword het, het ek twee mense baie na aan my verloor, en dit het gemaak dat ek die verouderingsproses herdink en besef het dit is ’n voorreg om ouer te word – plooie, grys hare en al.

Hoe beveg jy onsekerhede?

Ek weet ek het baie om te bied en ek glo glad nie my ouderdom kom daarby ter sprake nie. Ek geniet dit ook wanneer veel jonger vriende my vra om hulle met hul Instagram te help.

#SELFSORG

Haar selfsorgroetine

Ek probeer elke weekdag by die gim uitkom om ’n vorm van oefening te doen. Ek glo dit is belangrik vir ons liggaamlike en geestelike welstand dat ons liggaam beweeg.

Ek het nooit geleer om werklik van oefening te hou nie, maar ek glo dit is soos vlos; dit moet eenvoudig gedoen word. Ek volg ’n eenvoudige velsorgroetine van soggens en saans my gesig reinig en bevog, en ek dra altyd bedags sonskerm aan my gesig.

’n Moet in haar handsak

Rooi lipstiffie.

’n Moet in haar klerekas

Ek sou heeltemal verlore gewees het sonder my swart-en-wit Converse All Star-enkeltekkies. Ek dra dit by byna alles.

Foto: Instagram (@deborah_darling)
Foto: Instagram (@deborah_darling)

Haar stylikoon

Die Amerikaanse stilis Linda Rodin. Ek bewonder haar eenvoudige, moeitelose en elegante styl. 

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Tikkie romanse

Foto: Instagram (@junetteva01)
Foto: Instagram (@junetteva01)

JUNETTE SYSTER (36): @junetteva01

Junette is ’n entrepreneur, kurwemodel en liggaamspositiewe ambassadeur van Middelburg, Mpumalanga.

Wat beteken liggaamspositiwiteit vir jou?

Om gemaklik in my vel te wees en om in elke verskillende fase en grootte steeds lief te wees vir my lyf soos dit verander. Niemand sal voortdurend dieselfde vorm bly nie. Aanvaar dus die verandering. Almal is mooi, en natuurlik is gesondheid rykdom.

Was jy al ooit onseker oor jou lyf?

Vir die grootste deel van my kinderjare het ek onsekerhede oor my liggaam gehad. Dit was eers in my laat 20’s dat ek regtig vir myself begin lief word het en die res het net daarna gevolg. 

Hoe bestry jy onsekerhede?

Foto: Instagram (@junetteva01)
Foto: Instagram (@junetteva01)

Ek probeer regtig net ’n positiewe uitkyk op die lewe hê. Daar is dae dat ek nie heeltemal positief en goed oor myself voel nie, maar ek het besef ek is op my gelukkigste buite op ’n staptog of as ek soggens vroeg in die see gaan swem. Basies probeer ek my dag reg begin.

Jou modewenk vir ander? Belê in noodsaaklike stukke, selfs as jy ’n paar kilogram aansit (of afskud). Die belangrikste is om klere te dra wat pas en om te voel jy lyk in elke grootte op jou heel beste.

#SELFSORG

Haar goedvoelroetine

’n Goeie velsorgroetine. Neem deur die dag blaaskanse vir selfwaardering. Moenie in die strik van selfvergelyking trap nie. Daar is net een jy; jou uniekheid is jou supermag. 

Haar daaglikse selfsorgroetine

Ek doen iets aktiefs, al stap ek net om die blok om die goeie endorfiene aan die gang te kry – nie omdat ek nié vir myself lief is nie, maar omdat ek wél vir myself lief is.

’n Moet in haar handsak

Lanolab-salf, handreiniger en ’n goeie lipglans.

’n Moet in haar klerekas

My swembroek. Ek het die meeste selfvertroue in swemklere en veral in my eie swembroek wat ek in samewerking met Kheper geskep het. Ons het ’n swembroek ontwerp wat jou selfs meer selfversekerd laat voel. Dit is vormdrag in ’n swembroek.

Haar stylikoon

Die model Ashley Graham. Sy herinner ons dat vroue met kurwes enige voorkoms kan regkry. 

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Koninklike elegansie

Foto: Instagram (@kgothiiman)
Foto: Instagram (@kgothiiman)

KGOTHI DITHEBE (25): @kgothiiman

Die model en Mej. SA 2019-finalis sien nie die geboortevlek aan haar gesig as ’n fout nie, maar as ’n seën. Dié boorling van Mahikeng wat in Pretoria woon, motiveer ander om hul tekortkomings te aanvaar.

Wat beteken liggaamspositiwiteit vir jou?

Om jou in jou eie liggaam lief te hê, jou te aanvaar nes jy is en in jou eie vel gemaklik te wees. Dit beteken ook om alle liggaamsvorms by projekte in te sluit, of dit modelwerk, toneelspel of enigiets is wat met skoonheid te doen het.

Was jy al ooit onseker oor jou lyf?

Ja. Ek het ’n geboortevlek wat die helfte van my gesig bedek. Mense verwar dit soms met die veltoestand vitiligo. Ek is allerlei name soos “Afrika” genoem, want my vlek lyk soos die kaart van Afrika en is tweekleurig.

Op hoërskool het ek dit met grimering probeer bedek sodat ek soos ander kon lyk. Ek het toe besef ek probeer iemand anders wees; ek was nie vir myself lief soos ek deur God geskape is nie.

Nadat ek die Amerikaanse model Winnie Harlow (wat vitiligo het) gesien het, het ek besef ek kan ook soos sy sukses behaal; hoekom nie die eerste in Suid-Afrika wees nie?

Foto: Instagram (@kgothiiman)
Foto: Instagram (@kgothiiman)

Hoe bestry jy onsekerhede?

Ek onthou waar ek vandaan kom en nou is. Ek wil nie teruggaan na daardie donker plek van nie lief wees vir myself nie. Ek onthou ook hoekom ek besluit het om ’n model te wees; hoe ek grense afgebreek het en hoe mense na my kyk vir hoop.

#SELFSORG

Haar goedvoelwenk

Dit wat vir my goed werk, sal nie noodwendig vir die volgende mens werk nie, maar ek sou sê doen wat jou gelukkig maak. Sodoende bring jy die beste deel van jou na die wêreld.

’n Moet in haar handsak

Handreiniger, ’n ekstra masker, ’n goeie lipsalf en handeroom.

’n Moet in haar klerekas

My Adidas-­sweetpakke. Ek beskryf myself soms as ’n rabbedoe; dus is my staatmakeruitrustings sweetpakke saam met tekkies.

Haar stylikoon

Die modeontwerper Donatella Versace. Sy het die kuns van mode bemeester. Sy is op ’n ander vlak. Ek sal graag eendag vir haar ontwerpe op die loopplank wil loop.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images