David Louw and Christel van den Bergh
Die akteurspaar David Louw en Christel van den Bergh is smoorverlief en dis nie al nie – hulle gaan eersdaags ouers word. Foto: Luba Lesolle

Hy bewonder die blonde skoonheid met die vonkelende bruin oë al jare lank – eers net op ’n afstand nadat hy haar in ’n verhoogstuk sien optree het. Toe hulle paaie later kruis en hulle eindelik beste vriende word, moes hy steeds sy gevoelens verswyg omdat haar hart reeds aan ’n ander behoort het . . .

Nee, dis geen liefdesverhaal uit die draaiboek van ’n fliek of ’n TV-reeks nie, verseker die akteurs David Louw en Christel van den Bergh jou gou. Want net soos hul karakters in die kykNET-sepie Getroud met Rugby nou weer gelukkig saam is, het ook húlle by mekaar liefde gevind.

En nes Simon en Renate in die sepie, verwag die akteurspaar hul eersteling. Ja, die magie waarmee haar karakter op die kassie spog, is Christel se eie bababoepie. En al lyk sy nog skraal met net so ’n klein magie onder haar blomrokkie versteek, is sy al in haar derde trimester, verklap die aktrise eksklusief aan Huisgenoot.

Hulle ken mekaar al meer as ’n dekade lank. Maar eers nadat Christel se huwelik van drie jaar met JP van der Merwe, ’n risikoanalis en ekonomiese-ontwikkelingskonsultant, aan die begin van 2020 verbrokkel het, kon David die moed bymekaar skraap om haar te sê hoe hy regtig oor haar voel.

“Ek het myself vrae begin vra soos: Gaan jy haar nou vertel jy is al 12 jaar lank mal oor haar? Of gaan jy stilbly uit vrees om die vriendskap op te neuk?” sê die donkerkopakteur in ’n openhartige onderhoud met Huisgenoot. Vir die eerste keer praat die paartjie vandag oor hul verhouding en hul baba wat op pad is.

“Dis net absoluut wonderlik,” sê Christel (38) half skaam en loer na David (33). “As ek dink aan alles wat die laaste jaar ontvou het, voel ek so ontsettend dankbaar. Daar was seer en onsekerheid, maar ook die mooiste slot. Ek is gelukkig en smoorverlief.”

En hy beaam: “Christel is my droomvrou in alle opsigte, en nou word my droom van pa-wees ook bewaarheid. Ek weet nie of dit moontlik is om enigsins gelukkiger te wees as wat ek nou is nie.” 

David Louw and Christel van den Bergh
Die vonke het ook tussen hul karakters, Simon en Renate, gespat – soos hierdie stelkiekies van tonele voor die kameras wys. Foto: Getroud met Rugby/Facebook

Vriendskap wat in romanse ontluik

Die glanspaartjie kan kwalik hul verliefdheid verbloem waar ons vandag by Zietsies, die aktrise en sangeres Elzabé Zietsman se gastehuis in Brixton, Johannesburg, met hulle gesels. Elzabé, wat ook in Getroud met Rugby speel, se gastehuis is steeds in die mark nadat sy verlede jaar besluit het om dit te verkoop.

Kort-kort val hulle mekaar speels in die rede, soos wanneer David van hulle pad saam vertel en Christel grappig inval en vra: “Kan ek ook maar so ’n bietjie vertel? Of wil jy alles vertel?”

Dan ontvou ’n liefdesverhaal oor ’n jare lange vriendskap wat deur die seisoene van die lewe en ’n verbrokkelde huwelik tot ’n romanse ontluik het.

“Ek bewonder Christel al sedert die eerste keer dat ek haar in 2008 ontmoet het,” begin David by die begin. Daardie aand was hy in die gehoor in die Staatsteater in Pretoria en sy op die verhoog in die teaterstuk Knypie op die kant

Hy kon skaars sy oë van haar afhou. “Sy was net . . . alles wat ek gedink het ongelooflik is.”

Hy gee ’n stoute laggie.

“Ek onthou ek het met daardie eerste ontmoeting gedink: Sjoe, sy is beeldskoon. Veel later, toe ons saam aan projekte begin werk het, het ek besef ek is ook mal oor haar persoonlikheid. Maar nou moet ek toegee: Daar was nooit vir my ’n kans nie. Want sedert ek haar ontmoet het, was sy in ’n verhouding. En toe is sy getroud . . .”

Christel kap kamma terug: “Ek het nie gedink jy stel belang nie!” en gee hom ’n stampie.  “Jy het dan altyd jou flikkers vir anders girls gegooi.”

David Louw and Christel van den Bergh
Hulle is bly hulle het besluit om ’n verhouding ’n kans te gee – en nou gaan hulle ouers word. Foto: Luba Lesolle

Selfs toe albei rolle in die kykNET-sepie Villa Rosa vertolk het, het hulle maar min op stel met mekaar te doen gekry.

Eers toe hy in 2016 die rol van Simon in Getroud met Rugby begin vertolk het, het hulle mekaar regtig leer ken en boesemvriende geword. As vriende het hulle alles gedeel: die dinge wat hulle laat huil, hul diepste hartsgeheime en teerste oomblikke.

“Ek het na hom verwys as ‘my mens’, want daar is niks van my wat hy nie geweet het nie,” vertel Christel oor David. “Ons albei het alles geweet van die ander se verlede, se vrese en selfs onsekerhede.” 

Hy was vir haar ’n anker toe haar huwelik verlede jaar verbrokkel het – toevallig in dieselfde tyd dat Simon en Renate se TV-huwelik ook tot ’n einde gekom het.

“Ek het nooit in my lewe regtig daaroor gedroom om te trou of selfs om kinders te hê nie. Maar toe die huwelik verby is, was dit ontsettend seer,” erken Christel.

Half huiwerig voeg sy by: “Ek wil tog iets sê, en dis dat daar nie kwade gevoelens is nie, bloot net dat ek en JP dalk nooit regtig pasmaats was nie.”

Ná die verbrokkeling van haar huwelik wou sy graag ’n bietjie wegbreek. Daarom het sy en David in Maart verlede jaar saam vir ’n naweek by gemeenskaplike vriende op ’n plaas in Pongola, in KwaZulu-Natal, gaan kuier.

En dit was toe dat hul vriendskap stilweg ’n wending begin neem het.  

David Louw and Christel van den Bergh
Die twee was eers boesemvriende, maar ná Christel egskeiding het hul vriendskap liefde geword. Foto: Instagram/David Louw

“Ek kan nie werklik verklaar waarom ek skielik anders na hom begin kyk het nie. As ek nou regtig moet bieg: Ek het een aand ’n droom gehad . . . Daarna was dit asof ek met ander oë na hom gekyk het. Die eerlike waarheid is ek het gereeld gewonder of daar dalk op Pongola iets tussen ons sou kon gebeur het, maar daar het nie.

Dan erken sy: “Daar was in elk geval honderd dinge waarmee ek gestoei het. Daar was vrae soos: Is dit dalk te gou? Wat as ek weer seerkry? Ek wou ook nie ’n halwe mens vir iemand anders wees nie.”

Onbewus van haar gevoelens, het David gebrand om haar daardie naweek te vertel hoeveel jare hy al gek is oor haar. Maar die onsekerheid oor haar reaksie het aan hom bly knaag . . . 

“’n Pel van my het my aangeraai om liewer te wag – hy het gereken Christel is nog te rou, “ onthou hy. “Eindelik het ons op Pongola min met mekaar te doen gekry: Sy en haar vriendin het meestal gekuier en ek en my pel was dikwels doenig met ander dinge.” 

Ja, sy wás toe nog te rou, erken Christel. Sy het trouens ná haar egskeiding haar stilletjies voorgeneem om liefs enkellopend te bly. 

“Ek het nie gedink ek sien weer kans vir ’n verhouding nie. Dit het my bang gemaak om weer iemand te moes leer ken en om weerloos te moes wees en dalk seer te kry.”

Tog het dit haar nie gekeer om haar jare lange vriend daardie naweek skielik in ’n ander lig te sien nie.

“Dalk was dit die manier waarop David my ondersteun het,” probeer sy haar skielike gevoelens ontleed. “Maar ongeag hoe ek gevoel het, sou ek nie tot aksie oorgaan nie. Ek het geweet dit sou nie regverdig teenoor hom wees nie – ek was nie heel nie.”

David Louw and Christel van den Bergh
David het 12 jaar gewag om Christel te vertel hoe hy oor haar voel. Foto: Instagram

Maar twee maande later kon David nie langer sy gevoelens geheim hou nie.

“Ek het vir myself gesê een van twee dinge kan gebeur: Ek kan vir haar sê ek is mal oor haar en sy kan instem om saam met my ’n draairoomys te gaan eet, of ek kan ons vriendskap laat versuur. Maar die idee dat sy nooit sou weet hoe ek voel nie, het vir my swaarder geweeg.

“Ek het besluit ek gaan stilstaan en hierdie ding in die oë kyk, anders sou ek dalk altyd wonder.” 

By Christel se huis in Melville, Johannesburg, het hy eindelik vir haar gesê hoe hy oor haar voel. Wanneer hy nie meer sy presiese woorde kan onthou nie, herinner sy hom: “Man, jy het net gesê jy hou van my – op dáárdie manier.” 

Dan vra sy vir hom: “Het ek dalk vir jou gesê ek is lief vir jou? Want ek was toe al diep lief vir hom.” 

En dit was maar net die begin . . . 

“Ons eerste date was toe glad nie eens awkward nie,” onthou David. Maar Christel stry: “Dit was so ’n klein bietjie awkward!” 

Ja, gee hy toe: Die oorgang van vriendskap na ’n romanse was dalk aanvanklik ’n bietjie aardig.

“Ek dink met vriendskap het dinge baie meer spontaan gebeur. Nadat ek en Christel besluit het om te kyk of ons gaan werk, het ek myself dikwels gevang dat ek dink: Gaan dit snaaks lyk as ek haar hand vashou? Wat as ek haar by die werk soen? Dis asof mens te veel oor alles dink, maar daardie aardigheid waai vinnig oor.”

Sy knik. “Ek is net elke dag ontsettend dankbaar dat ons besluit het om hierdie ding ’n kans te gee. By tye voel dit vir my of ek die enigste een is wat nooit besef het presies hóé goed ons by mekaar pas nie, want soveel vriende het. 

“Nou sien ek dit – en die eerlike waarheid is dat ek nie geweet het dis moontlik om so gelukkig te wees nie.” 

Trouklokkies – en dalk nog ’n pienkvoet

Vandag, byna ’n jaar later, is hulle steeds smoorverlief – en kan hulle nie meer wag vir die koms van hulle baba nie.

“Ek noem hom my bonus,” sê Christel oor haar boesemvriend en mede-akteur wat nou soveel meer vir haar geword het.

“Hy is oulik, maar dan is hy nog mooi ook. Hy weet álles van my en tog is hy steeds lief vir my. En nou is hy boonop die pa van my kind. Daarom is ek so ontsettend lief vir hom.”

Sy het nog altyd geweet hy wil graag eendag pa word. “Almal het dit van David geweet,” vertel Christel met ’n knipoog.

Hy knik. “Ek het altyd daaroor gepraat. Ek sou in die middel van ’n gesprek sit en dan sou iemand terloops oor die onderwerp van ouerskap begin praat. Dan sou ek – wat meestal enkellopend was – daar sit en sê: Ja, ek wil graag kinders hê, een van my grootste drome is om ’n pa te wees.” 

Al was haar swangerskap “onverwags en onbepland”, is albei dit eens: hulle kan nie wag om hul eersteling in hul arms te hou nie. Of hulle ’n dogter of ’n seun verwag, wil hulle nie nou al verklap nie.

“Ek het in Augustus verlede jaar uitgevind ek is swanger,” vertel Christel van die onverwagte nuwe wending in hul liefdesverhaal. “Ek was in die vorige paar weke in ontkenning en het gedink dit kan eenvoudig nie wees nie. Maar iets binne my het net geweet.” 

Toe sy ’n swangerskapstoets gaan koop, het die apteekassistent so ewe gesê: “Ek sê sommer vooraf al geluk!”

“Ek het nog grappig teruggekap en laat hoor: ‘Geen gelukwensings nodig nie, dankie’,” onthou Christel.

David Louw and Christel van den Bergh
David en Christel op die stel van Getroud met rugby, saam met David se staffordshireterriër. Foto: Instagram/David Louw

Maar tuis het die toets bevestig sy is wel swanger.

“Hemel, dit wás onverwags,” erken sy. “Ek wou ’n paar dae vat om eers die nuus te probeer verwerk. Ek het self nie eers geweet hoe ek daaroor voel nie. Dit was groot nuus, maar eindelik het ek besef ek is dankbaar daaroor. Nee, in die wolke!” 

Sy het die nuus eers ’n week later woordeloos met David gedeel deur haar swangerskapstoets in ’n juweleboksie toegedraai vir hom te gee.

“Ek onthou net ek het na die toets gekyk en emosioneel gevra: Is jy swanger?” vertel David.

Vandag, met die koms van die pienkvoet  om die draai, raak hy opnuut emosioneel wanneer hy sê: “Dit was die beste nuus wat ek in my hele lewe gekry het.” 

Die twee het dieselfde dag nog die nuus met David se ma, Arina du Randt van Pretoria, gedeel. Hulle het die nuus sowat ’n maand later met Christel se ouers gedeel. “Ek was maar senuagtig,” erken Christel. “My pa, Christo, en ma, Ansie, is effe konserwatief, so ek was redelik bekommerd oor wat hulle reaksie sou wees.” 

David terg. “Ek het die gesprek met my humor gelei, net omdat ek ook erg senuagtig was.”

“Daar was ’n kort stilte – en toe spring my ma op,” vertel Christel oor hul kuier by haar ouerhuis in Pretoria. “My pa was ewe bly vir ons. Maar die toespraak het dadelik gevolg: Hy het ons vertel hoe moeilik dit vir hulle was toe my en JP se paaie geskei het, dat ons moet onthou hoe moeilik dit soms is om ’n verhouding te laat werk, dat ons mekaar elke dag moet kies.” 

David Louw and Christel van den Bergh
Kykers volg al vir vyf jaar lank die wel en weë van Getroud met Rugby se Simon en Renate. Foto: Getroud met Rugby/Facebook

David knik. “Christo het vir my gesê ons moet onthou ’n baba moenie ligtelik opgeneem word nie. Maar hy het ook gesê dat ons altyd moet onthou: Ons was eerste hier – ons verhouding is die prioriteit.”

Ook Arina was in die wolke oor die babanuus. Sy pa is in 2015 dood.

Afgesien van ’n bietjie sooibrand, het Christel ’n maklike swangerskap sonder enige kwale. Sy werk nog voltyds aan tonele vir Getroud met Rugby. Trots vertel sy: Dit was haar idee dat die karakter Renate swanger raak.

“Ek was bang ek sal vir vier of vyf maande uitgeskryf moet word,” verduidelik sy. “En nou spog ek elke dag met my magie op die TV – mý magie, nie ’n vals boepie nie. Dis baie spesiaal.” 

Haar karakter en David s’n het ná hul egskeiding weer versoen geraak en nadat ’n vaderskaptoets bevestig het dat Renate wel Simon se kind verwag, kan die TV-paartjie uitsien na die koms van hul baba. Net soos David en Christel wanneer die kameras ophou rol.

David Louw and Christel van den Bergh
Christel vertel laggend sy was nie eintlik gek oor David toe hulle in 2016 saam by Getroud met rugby aangesluit het nie. Maar binne net ses maande was sy erg oor hom – hulle het toe sommer in ’n japtrap boesemvriende geword. Foto: Getroud met Rugby/Facebook

“Dis onvermydelik om soms oor die laaste paar maande terug te kyk en te besef hoeveel dinge in ons lewe gebeur het,” sê Christel half verwonderd. “Net meer as ’n jaar terug was my wêreld deurmekaar en my hart gebreek. Vandag is ek smoorverlief op hierdie sexy man, en kan ons nie meer wag vir die volgende hoofstuk van ons lewe saam nie.” 

Wat wag volgende vir hulle? 

“Ek wil graag met haar trou!” roep David dadelik uit. “Ons wil dit doen sodra ons babatjie gebore is. Want ek wil nie met haar trou net omdat sy die ma van my kind is nie – ek wil met haar trou omdat sy alles is wat ek nog altyd wou hê. Maar ja, ons praat gereeld daaroor, ek dink Christel verwag ek gaan enige tyd nou op die knie gaan.” 

“Regtig?” vra Christel en lag. “Ek dink nie so nie – nie met hierdie pensie nie!” 

’n Troue is egter nie die einde van die sprokie nie . . . 

“Ek het vir Christel gesê sy het twee maande, dan moet ons weer probeer,” sê David kamma ernstig. “Ons soek nog ’n kind en daar is g’n rede om te wag nie. Ek het lank genoeg gewag om haar myne te maak.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe