David en Christel
Die akteurspaar David Louw en Christel van den Bergh spog met hulle pasgebore babaseuntjie. Foto: Verskaf

Hulle wou dit eers privaat hou, maar nou dat hulle “klein wonderwerkie” gebore is, wil die akteurspaar David Louw en Christel van den Bergh hulle goeie nuus met die wêreld deel: hulle het die ouers van ’n beeldskone babaseuntjie geword.

Christel (38) het dié nuus Maandag aan Huisgenoot bevestig. Die kleinman, wie se naam die akteurspaar eers later bekend gaan maak, is op 27 Maart gebore.

“Ek is gesond en dolgelukkig,” sê Christel opgewonde. “[Ons seuntjie] is ook absoluut perfek en so ’n gelukkige baba. David is ’n ongelooflike pa hy voel asof sy droom bewaarheid is.”

Dis hoe sy deesdae die meeste van haar tyd deurbring – deur liefderik na haar kleinman te staar. Foto: Verskaf
Dis hoe sy deesdae die meeste van haar tyd deurbring – deur liefderik na haar kleinman te staar. Foto: Verskaf

Die akteurs het vroeër in Maart nog vertel van hulle vriendskap wat in liefde ontluik het en hoe hulle nou kwalik hulle lewens sonder die ander een kan indink.

Toe het Christel nog gekoer: “As ek dink aan alles wat die laaste jaar ontvou het, voel ek so ontsettend dankbaar. Ek is gelukkig en smoorverlief.”

Ook David (33) het laat hoor: “Christel is my droomvrou in alle opsigte, en nou word my droom van pa-wees ook bewaarheid. Ek weet nie of dit moontlik is om enigsins gelukkiger te wees as wat ek nou is nie.”

Die geboorte van die kleinman het nie juis verloop soos hulle beplan het nie, vertel Christel. Sy was 14 ure lank in kraam.

“Ek wou graag ’n natuurlike geboorte ervaar soos dat ek kontraksies kon beleef en dat my water sou breek. En ek hét dit alles ervaar, maar dokters moes eindelik ’n noodkeiser uitvoer.”

David en Christel
’n Trotse David neem sy babaseuntjie huis toe. Foto: Verskaf

Maar al het die geboorte dalk anders verloop as wat hulle beplan het, is hulle harte vol, sê Christel. Dis daarom dat hulle die goeie nuus met aanhangers wil deel.

“Die afgelope paar maande was baie spesiaal en ons wou dit graag privaat hou. Maar nou dat ons klein wonderwerkie hier is, kan ons nie anders as om dit te wil uitbasuin aan die wêreld nie.”

Ja, haar en David se pad saam as ouers is maar nog kort, maar dis asof dit nog eintlik altyd vir hulle bestem was: om die verliefde ouerpaar van ’n beeldskone baba te wees.

“Ek voel soos ’n ander mens,” spog sy trots. “Asof ek uiteindelik tuis is, kalm; rustig en voorwaar gelukkig.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe