Serena het tydens ’n onderhoud met Naomi Wadler (12), ’n aktivis teen vuurwapengeweld, gepraat oor haar ouer suster, Yetunde Price, wat in 2003 doodgeskiet is. Sy was 31 jaar oud.

Yetunde, 'n ma van drie (Jeffrey, Justus en Jair) en persoonlike assistent vir haar tennisstersusters, het in Compton, Kalifornië, gesterf nadat sy na bewering met 'n AK-47 in die agterkop getref is. Sy was in die passasiersitplek van ’n motor wat haar lewensmaat, Rolland Wormley, bestuur het.

Die polisie het vermoed Rolland was die eintlike teiken, maar hy was ongedeerd.

“Vuurwapengeweld het my persoonlik geraak,” het Serena in die onderhoud gesê.

“My suster is ongelukkig dood as gevolg daarvan. Mense praat nou werklik daaroor, want dit kom meer algemeen voor. Dit raak al jare lank ons gemeenskap. Ek dink ons moet gemaklik raak daarmee om ongemaklike gesprekke te voer.

“Situasies gaan nooit beter word as jy dit altyd vermy nie – jy moet dit trompop aanpak.”

Die ma van een het in 2009 in ’n onderhoud met People gesê haar suster se dood het ’n groot impak op haar gehad.

“Ek het depressie gehad. Ek het nooit eens met my ma daaroor gepraat nie. Niemand het geweet ek ontvang terapie nie, maar ek het. Ek was baie na aan my suster.

“Sy was die een wat my doeke kleintyd geruil het, maar ek begin nou eindelik aanvaar wat gebeur het,” het sy tydens 'n onderhoud met People gesê.

Serena het haar woord gestand gedoen en in 2006 was sy in die hof toe haar suster se vermeende moordenaar verskyn het. Sy het na bewering beplan om vir hom te sê hoe onregverdig haar suster se dood was omdat hulle as 'n gesin altyd positief was en altyd probeer om mense te help.

Ousus Venus Williams het vir die eerste keer in Desember 2017 in die openbaar oor die impak van haar suster se dood gepraat.

Robert Edward Maxfield, 'n lid van die Southside Crips-bende en die man wat skuldig bevind is aan manslag, is 15 jaar tronkstraf opgelê, waarvan hy 12 jaar uitgedien het voor hy op 8 Maart 2018 vir goeie gedrag vrygelaat is.

Sy vryheid was van korte duur; hy is op 27 Julie weer in hegtenis geneem vir die verbreking van sy paroolvoorwaardes. Dit is onseker watter voorwaardes dit was, maar Maxfield is enkele dae later weer vrygelaat.

Bronne: oxygen.com, msn.com, makers.com, People, ellentube.com