Dit het begin met ’n twiet en ’n Facebook-plasing van 'n foto waarop die spiertier dr. Adam Woodford ingeënt word, en die foto het later op al wat ’n nuuspublikasie is beland.

Die sexy dokter hoop dat sy beroemdheid die publiek se opinie rondom die gebruik van entstowwe verander. 

“Ek is bly om mense te lei en te wys dat dit veilig is, en dat my DNS steeds dieselfde is – hoewel supermagte cool sou gewees het,” spot Adam, wat ’n kliniese assistent van interne geneeskunde by die Livingstone-hospitaal in Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) is. 

Nadat sy inentingfoto in die sosiale media versprei is, het sy landgenote omtrent gegons oor die spiertier op die kiekie.  

Dokter Adam Woodford werk by die Livingstone Hospi
Dokter Adam Woodford werk by die Livingstone Hospitaal in Gqeberha. Foto: Verskaf.

“Dit was surrealisties. Die manier waarop die nuus van ’n paar twiets of ’n Facebook-plasings tot die nuus versprei het, was onwerklik,” vertel hy. 

Die foto’s is oorspronklik op 19 Februarie op die regeringskommunikasie- en inligtingstelsel (GCIS) se Twitterblad gedeel. 

“Die inenting van die Nelson Mandelabaai-distrik is aan die gang. Gesondheidswerkers is opgewonde om hul dosisse van die coronavirus-Johnson & Johnson-entstof in die Livingstone-hospitaal in Nelson Mandelabaai te ontvang,” lui die opskrif van die foto.

Maar dit was Adam wat die oog gevang het. 

Die kommentaarafdeling het ’n hele paar skreeusnaakse reaksies opgelewer. 

“Ek moet weet wie hierdie dokter is . . . vir navorsingsdoeleindes,” het een gebruiker geskryf.

“Kan die gentleman in die eerste raam my net kom ondersoek?” het ’n ander ook op Twitter gespot. 

Volgens Adam was die reaksie vir hom “baie vleiend, en die kommentaar skreeusnaaks”. 

Dokter Adam Woodford het tydens sy jare op univers
Dokter Adam Woodford het tydens sy jare op universiteit ook 'n bietjie modelwerk gedoen. Foto: Verskaf
Nóg modelwerk van 'McDreamy'. Foto: Verskaf
Nóg modelwerk van 'McDreamy'. Foto: Verskaf

Die inentingervaring 

Adam het net ongeveer twee dae baie ligte pyn ervaar op die plek waar hy sy inspuiting gekry het.

“Ek beskou dit egter as 'n goeie ding. Dit is alles net kliniese tekens dat jou liggaam gereed is om 'n infeksie te beveg en besig is om teenliggaampies te maak om covid-19 te beveg.”

Volgens Adam het hy parasetamol geneem en die volgende dag was alles weer goed.

Sy vrou se reaksie op sy internetroem 

Adam se vrou, Delia, wat ’n mediese laboratoriumwetenskaplike is, het in die pret gedeel nadat hy die land laat gons het, laat hoor hy. “Sy is baie trots op my en nou meen sy ook dat ek meer as net ’n stuk vleis is,” spot hy.

“Ek wil graag grap en vir haar sê watter gelukkige vrou sy is. En hierdeur hoop ek dat ek dat ek darem vry is van skottelgoedwas en enige ander huishoudelike taak.

“Maar sy hou my trots in toom,” vertel hy. 

Dokter Adam Woodford saam met die liefde van sy le
Dokter Adam Woodford saam met die liefde van sy lewe. Foto: Verskaf

Adam en Delia is al saam van hoërskool af. Hulle het twee jaar gelede getrou. 

“Dit was liefde met die eerste oogopslag. Ek was baie skaam en ongemaklik op hoërskool, maar sy was altyd vriendelik teenoor my," sê hy.

“Om getroud te wees, is ’n groot seën, en dit is ongelooflik om saam met jou maat alles te doen wat jy liefhet. En om iemand te hê wat altyd jou ondersteun en jou oplig as jy af voel is wonderlik.”'

Sy stryd teen covid-19 

“Covid-19 is eerlikwaar net 'n verskriklike virus met aanhoudende simptome,” sê Adam, wat in 2020 positief vir die virus getoets het. 

Hy en sy vrou het een oggend met simptome wakker geword en sy het erge pyn ervaar. "My vrou was in baie pyn en kort van asem, en ek het 'n seer keel gehad. 

“Ons het geweet dat ons covid-19 het."

“Ek het verskriklik sleg gevoel omdat ek dit vir haar gegee het en haar so gesien het,” sê hy. 

Hul toestand was egter nie ernstig genoeg om in die hospitaal opgeneem te word nie, onthul Adam. “My simptome was minimaal tydens my self-isolasie, behalwe ek het my smaak en reuk verloor.

“Toe ek terugkeer werk toe, het ek 'n baie vinnige hartklop gehad, gebewe en was ek kort van asem. Ek moes nog 'n week vakansie neem.

"Daarna het ek 'n rukkie taamlik lusteloos gevoel en sodoende het ek geleidelik herstel sodat ek weer terug kan keer na my fiksheidsroetine voor ek covid gehad het.”

En hoe hou bly die spiertier so fiks? Dis 'n konstante poging, verklap hy. 

“Jy het egter ’n soort interne motivering nodig — myne is om gesond te wees en ’n goeie lang lewe te lei, en om fiks te wees, is net ’n neweproduk daarvan,” vertel Adam. 

Om doelwitte te stel, bring jou ook nader aan jou droomlyf, meen hy. “Selfs as jy dit nie bereik nie, is dit steeds baie beter as om niks te doen nie.

“Dit is ook belangrik vir my om fiks te wees sodat ek vir my pasiënte ’n voorbeeld kan wees.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe