Sy was nog nooit skaam om lyf te wys nie – van daardie benekruistoneel in Basic Instinct tot ’n kaal fotosessie vir ’n tydskrif.

En nou doen sy dit weer – op 60.

Sharon Stone vier hierdie mylpaal met nog gewaagde tydskriffoto’s waar sy poseer in onderklere van swart leer wat net-net binne die wette van fatsoenlikheid is.

Wie kan haar kwalik neem dat sy die lewe met soveel selfvertroue vier?

Dis ’n vrou wat 17 jaar gelede by die dood omgedraai het en haar pad terugbaklei het na gesondheid – en na Hollywood.

Met ’n nuwe fliek wat nou begin en ’n lyf wat begeerliker lyk as dié van vroue dekades jonger, wys die blonde bom sy is steeds iemand om mee rekening te hou.

Op ’n onlangse foto om haar jongste fliek, All I Wish, te bemark sit sy sorgeloos en sonbruin in ’n einaklein bikinitoppie.

Haar eie onderskrif hierby kom uit die mond van haar karakter in die romantiese komedie Senna: “Vroue hoef nie altyd te maak soos ’n prinses wat op ’n sofa sit in haar hoëhakskoene en haar soos ’n adder gedra nie.”

Senna is ’n vrygeestige, sukkelende modeontwerper wat van die een werk na die ander – en die een bed na die ander – rondval terwyl haar kredietkaartskuld dreig om haar te verswelg.

Alles verander toe sy Adam (gespeel deur Tony Goldwyn) op haar 46ste verjaardagpartytjie ontmoet.

Het sy eindelik haar sielsgenoot gekry?

Toe Sharon die eerste keer die draaiboek sien, sou sy die ma van die 25-jarige hoofkarakter speel – ’n jong vrou wat sukkel om haar lewe agtermekaar te kry. Maar die Oscar-benoemde aktrise het ander idees gehad.

Sy het die filmmaker Susan Walter gebel en vir haar gesê dit sal veel interessanter wees as sy die dogter speel, maar ’n ouer een.

“Ek het net nie gevoel ’n 25-jarige wie se lewe uitmekaarval, sou juis baie interes­sant wees nie,” het Sharon aan Vanity Fair gesê.

Volgens Susan het die aktrise vir haar gesê: “Maak die karakters vol lewe en lus en sexy. Wys mense in hul 40’s en 50’s wat wonderlike dinge doen.”

Sharon is steeds so verleidelik soos toe sy in 1992 wêreldberoemd geword het in Basic Instinct. As die manipulerende femme fatale Catherine Tramell het sy haar naam in die rolprentgeskiedenis verewig met daardie beroemde toneel waarin sy haar bene kruis – en die wêreld kon sien sy dra nie onderklere nie.

“As ek geglo het sexy beteken ek moet nog wees wie ek was toe ek in Basic Instinct was, sou vandag vir ons almal baie moeilik gewees het,” het sy in 2015 aan Harper’s Bazaar gesê in ’n onderhoud by ’n artikel met kaalfoto’s van haar.

“Ek weet my agterstewe lyk soos ’n sak plaatkoekies, maar ek probeer nie om die aantreklikste vrou op aarde te wees nie.

“Daar kom ’n tyd dat jy jouself begin afvra wat regtig sexy is. Dis nie hoe hoog jou borste sit nie. Dit gaan oor die oomblik waarin jy is en om dit te geniet en van jouself te hou.”

Die swaarkry

In 2001 het Sharon se lewe vir altyd verander toe sy byna sterf ná ’n beroerte.

Sy het voor nou nooit aan die media verklap hoe erg dit was nie, maar dit blyk sy was nege dae lank in ’n koma “wat my hele lewe uitgewis het”. Dit het haar twee jaar geneem om weer te leer loop, praat en lees.

Voor dit gebeur het, was haar lewe storieboekmateriaal: Sy is vir ’n Oscar benoem vir haar rol in Martin Scorsese se Casino (1995) en vir twee Golden Globes vir The Mighty (1998) en The Muse (1999).

Twee jaar ná die lewensveranderende beroerte het haar man, Phil Bronstein, van haar geskei. Die koerantredakteur met wie sy in 1998 getroud is, het aangevoer “onversoenbare verskille” maak die huwelik onmoontlik. (Sy was voorheen met die TV-vervaardiger Michael Greenburg getroud.)

Sharon en Phil Bronstein by die 45ste San Francisco Internasionale Filmfees. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Voor die beroerte was daar al moeilikheid in die huwelik. Sharon het twee miskrame gehad en in 2001 het hulle ’n babaseun, Roan, aangeneem.

Sy het hom ’n geskenk uit die hemel genoem en was gebroke toe sy met die egskeiding toesig oor hom verloor.

Daarna het sy op haar eie twee seuntjies aangeneem – Laird, nou 12, in 2005 en Quinn, nou 11, in 2006. Roan woon nou ook weer by haar.

Sharon by haar drie seuns, Roan (heel links), Laird en Quinn. Foto: YouTube-skermgreep (Celebrity).

“Ek het die wonderlikste kinders en ek geniet dit om hulle groot te maak,” sê sy.

Haar latere loopbaan

Sy het haar bes gedoen om terug te keer na die silwerdoek – en daar was ’n heel paar mislukkings.

Daar was 2004 se Catwoman, waarvoor sy vir ’n Razzie benoem is as die swakste vroulike byspeler. (Die Golden Raspberry-pryse word jaarliks toegeken vir die swakste spel in die filmbedryf.) Nog ’n vrotte was Basic Instinct 2 in 2006.

Maar dinge het begin beter lyk nadat sy in 2016 saam met Susan Sarandon en Selma Blair in Mothers and Daughters gespeel het, en in dieselfde jaar saam met John Travolta in Life on the Line.

Haar groot nuwe kans het gekom toe ­Steven Soderbergh haar ’n rol gee in sy moordraaisel-­TV-reeks Mosaic.

Die reeks het in Januarie in Amerika begin en resensente is gaande daaroor en oor haar uitbeelding van die gewilde kinderboekskrywer in die reeks, Olivia Lake.

Oor ouderdom

Sharon is een van die groeiende groep Hollywoodsterre wat weier om oor die hoof gesien te word net omdat hulle nie meer jonk is nie.

Ek wil ’n vrou wees wat die beste is wat ek vir my ouderdom kan wees.

“Ek wil nie ’n ‘tydlose skoonheid’ wees nie,” sê sy.

“Ek wil ’n vrou wees wat die beste is wat ek vir my ouderdom kan wees.”

Sharon is snedig oor plastiese chirurgie.

“Ons het 400 000 vroue met strandblonde hare, die­selfde neus, reuselippe, inplantings en klein Chiclets vir tande. Is hulle regtig mooier?”

Seksuele teistering

Toe sy ná die Harvey Weinstein-debakel – waarin die filmbaas deur etlike vroue vir seksuele wangedrag verkla is – gevra is of so iets haar al oorgekom het, het sy uitgebars van die lag.

Is ek sleg behandel? Vir seker. Het mense gesê ek is ’n ‘f****n teef’? Natuurlik.

“Ek’s al 40 jaar in die bedryf. Kan jy jou indink hoe die bedryf gelyk het toe ek begin het? En met my voorkoms? Ek het álles gesien.”

In ’n ander onderhoud het sy oor haar vroeë dae in Hollywood gepraat.

“Is ek sleg behandel? Vir seker. Het mense gesê ek is ’n ‘f****n teef’? Natuurlik. Was ek in aaklige situasies? Natuurlik. Net soos elke ander vrou in elke liewe werk oor die aardbol heen.”

Haar groot hart

Sharon sê welsynwerk en haar kinders is nou haar prioriteite.

Op ’n reis na Zimbabwe in die 1980’s het sy vir die eerste keer uiterse armoede gesien, en dit het haar perspektief vir altyd verander.

Vandag beywer sy haar vir ver­skeie sake.

“Sy’s een van die beste geldinsamelaars ooit,” vertel Michael Douglas.

“Sy is baie toegewy – en die Vader weet, sy kan oortuigend wees.”  

Sharon en akteur Jeremy Renner tydens die amfAR Cinema Against Aids-stigting se 20ste jaarlikse byeenkoms. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Sy’s een van die beste geldinsamelaars ooit,” vertel Michael Douglas. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Nuwe liefde

Saam met haar loopbaan het haar liefdeslewe ook weer vlam gevat. Ná haar twee mislukte huwelike en ’n paar korterige verhoudings het sy gesê nooit weer nie.

Maar toe kom die Italiaanse eiendomsmagnaat Angelo Boffa (43) oor haar pad. Hulle het mekaar verlede Desember in Switserland ontmoet en nou lyk die twee onafskeidbaar.

In Januarie het die aantreklike donkerkop haar oop en bloot gesoen by die première van Mosaic in New York.

Sharon en Angelo Boffa (43) het mekaar verlede Desember in Switserland ontmoet.

Verlede maand is die twee op ’n strand in Miami gesien waar hulle glad nie hul hande kon tuishou nie.

BRONNE: PAGESIX.COM, TELEGRAPH.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UK, PEOPLE.COM, THESUN.CO.UK, AARP.ORG, VANITYFAIR.COM