In haar memoires onthul die ikoniese sekssimbool S
In haar memoires onthul die ikoniese sekssimbool Sharon Stone onder meer dat sy en haar sussie as kinders deur haar oupa gemolesteer is. Foto: Getty Images/Gallo Images

Waaraan dink jy as jy die naam Sharon Stone hoor?

Waarskynlik aan ’n blonde skoonheid, veral bekend as die 1990’s se verleidelikste seksbom in die gewaagde fliek Basic Instinct.

In dié rolprent se bekendste toneel sit sy, ’n moordverdagte in ’n polisiekantoor, in ’n sexy wit minirok met ’n sigaret in haar hand. Sy kyk die polisie­manne rondom haar aan met soveel vreeslose self­vertroue dat hul moed op die plek verkrummel. En dan kruis sy daardie bene van haar, en dinge word gesien wat ’n mens amper nie in ’n gesinstydskrif kan oorvertel nie.

Sharon beweer sy is deur een van die fliek se regi
Sharon beweer sy is deur een van die fliek se regisseurs, Paul Verhoeven, bekonkel om haar broekie vir dié toneel uit te trek. Foto: Getty Images/Gallo Images

Waaraan dink jy nié as jy die naam Sharon Stone hoor nie?

Jy dink waarskynlik nie dat daar agter daardie glansdiva ’n weerlose, beangste dogtertjie skuil nie. Een wat jare vante­vore deur haar ouma in ’n stinkende huis opgesluit is nie.

Jy sou moeilik kon raai die befaamde aktrise was eens op ’n tyd ’n tenger kind wat gebewe het van vrees omdat sy geweet het watter verskriklike pyn die grootmense naaste aan haar – haar pa en haar oupa – haar weer gaan aandoen.

Maar in ’n outobiografie en ’n reeks onderhoude wat pas verskyn het, onthul dié A-lys-ster (nou 63) haar grootwordjare was allesbehalwe glansryk of maklik.

In The Beauty of Living Twice vertel sy hoe sy as kind die slagoffer van geweld en ook seksuele geweld aan die hand van familie was, hoe sy deur fliekvervaardigers uitgebuit is om ’n sekssimbool te word en hoe sy ’n paar jaar gelede by die dood omgedraai het.

Oprah Winfrey, wat beroemd is daarvoor dat haar stempel van goedkeuring oornag van ’n boek ’n kitsverkoper kan maak, het Sharon se outobiografie reeds as een van die jaar se beste boeke uitgewys.

Dit is ’n boek wat ’n mens daaraan her­inner dat selfs die suksesvolste, mooiste glimlag dikwels ’n leeftyd van pyn verbloem.

Dit was selde maklik om Sharon Stone te wees.

Die dorpie Meadville in Pennsilvanië is vir twee dinge bekend. Dit was lank die tuiste van een van Amerika se grootste vervaardigers van ritssluiters. En Sharon Stone het daar grootgeword.

Lank voor sy ’n glanspersoon was, was sy net klein Sharon van dié werkersklasdorpie, die dogter van Dorothy en
Joseph Stone en suster van Michael, Patrick en Kelly.

’n Kleintyd­foto van Sharon en haar ma, Dorothy. N
’n Kleintyd­foto van Sharon en haar ma, Dorothy. Ná die trauma van haar kinderdae kan Sharon nou eers liefde van haar ma ontvang, vertel sy. Foto: Instagram/@sharonstone

Haar voorkoms was die reddingsboei wat haar uit dié plek help wegkom het. Toe sy 19 jaar oud was, het sy ’n skoonheidskompetisie gewen en sy het daarna ’n kontrak met Ford Models onderteken. Dit het haar die moed gegee om roem en rykdom in Hollywood te gaan soek.

’n Mens kan verstaan hoekom sy so gou moontlik uit Meadville wou wegkom. Dit was nie net ’n vervelige klein dorpie nie; dit was ook ’n plek met pynlike herinneringe.

Haar pa, wat in 2009 oorlede is, was ’n geweldenaar wat haar en haar sussie van kleins af afgeknou het.

“Hy het my rondgepluk en op die grond neergesmyt,” vertel sy. Ander kere het hy haar oor die kombuisvloer na die kelder toe gesleep “om met sy gordel die hel uit my te slaan”.

Sharon vertel sy is dikwels geslaan al was sy nie stout nie. Dit het meegebring dat sy respek vir haar pa verloor het. “Ek het hom as ’n swakkeling begin sien.”

Maar die geweld het nie daar opgehou nie.

In haar boek vertel sy dat haar oupa aan moederskant, Clarence Lawson, haar en haar sussie gemolesteer het.

Wanneer hulle by hul oupa en ouma gaan kuier het, het hul ouma hulle in ’n kamer toegesluit. Hul grootouers se huis was ’n grillerige hool waar 12 katte in die kombuis vasgebind was.

“In die winter het die huis se stank my oorval. En die klanke: die gekrap en gespartel, die katte se pogings om weg te kom. Enigeen wat dit gesien het, sou besef het iets was baie erg verkeerd in daardie huis.”

Sharon as kleuter. Foto: Instagram/@sharonstone
Sharon as kleuter. Foto: Instagram/@sharonstone

Sy en Kelly was nog klein toe hul oupa hulle seksueel begin misbruik het. Toe hy eindelik weens ’n hartaanval sterf, was Sharon verheug. Sy onthou nou nog hoe verlig sy gevoel het om sy lyk in die oop kis op sy begrafnis te sien.

“Ek was 14 toe hy dood is. Ek het sy lyk met my vinger gesteek, en die bevrediging om te weet hy was dood, het my soos yswater in die gesig getref. Ek het na Kelly gekyk. Dit was duidelik sy het dit ook verstaan: Sy was 11, en dit was verby.”

Sharon se verhouding met haar ma was jare lank troebel. In haar gedagtes kon sy haar ma nie skei van die ervarings wat sy as kind gehad het nie en dit het dekades geneem voor sy haar ma “as ’n mens kon leer ken”.

“Ek is eindelik daartoe in staat om nie net liefde van my ma te ontvang nie; ek kan dit ook nou eers vir haar gee. Ons staan aan die begin van ons verhouding, al het sy regtig eers my lewe binnegekom toe ek in my 60’s en sy in haar 80’s was.”

The New York Times het Sharon gevra of sy met haar familie oor die aantygings van mishandeling gesels het voor sy in haar boek daaroor geskryf het.

By haar suster, Kelly. Foto: Getty Images/Gallo Im
By haar suster, Kelly. Foto: Getty Images/Gallo Images

“Ek en my suster het saam die besluit geneem om ons storie te vertel,” sê Sharon. “Ons het met ons ma gepraat. Sy het aanvanklik vir my ’n brief gestuur om te sê hoe al hierdie inligting haar ontstel. Sy het ’n hoogheilige front voorgehou.

“Toe raak my suster eenkeer dronk terwyl my ma by haar oorgebly het en begin haar vertel hoe sy regtig voel. Dit het my ma gehelp om eindelik te verstaan.

“Toe ek die boek klaargeskryf het, het ek dit oor ’n tydperk van drie dae vir my ma voorgelees. Ek het haar reaksies opgeneem. Daarna het ek die boek herskryf. Dis hoekom ek die boek eindelik aan haar opgedra het.”

“Ek dra hierdie memoires nie aan haar op omdat dinge vir ons maklik was nie; ek doen dit omdat sy my geleer het presies wat ek moes weet om op hierdie tydstip in hierdie wêreld te kan oorleef,” skryf sy op die eerste blad van haar boek.

Sharon het die eerste eksemplaar van die boek vir Dorothy gegee en ’n roerende Instagramvideo gedeel van haar ma wat die boodskap voor in die boek lees en besef dis vir haar.

“Ek is nie bitter nie,” het Sharon haar ma toe vertel. “Ek is nie hartseer of kwaad nie; ek is nie hier om jou te straf nie. In my hart en siel het ek net goeie bedoelings.”

Dit was vir Dorothy moeilik om te aanvaar dat haar
Dit was vir Dorothy moeilik om te aanvaar dat haar dogters seksueel mishandel is. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die rol van Catherine Tramell in die erotiese riller Basic Instinct was Sharon se laaste kans om in Hollywood sukses te behaal. Sy was in daardie stadium al ’n paar jaar in die glinsterstad, en hoewel sy al in 18 flieks gespeel het, was hulle almal “gemors”, erken sy.

Sy was 32 toe sy die rol in Basic Instinct gekry het.

“Ek het geweet dis my laaste kans. Ek was besig om te oud te raak vir die bedryf nog voor ek my stempel kon afdruk. Ek moes ’n deurbraak maak.”

Sharon was so desperaat vir sukses dat haar bestuurder in die fliekvervaardigers se kantoor ingebreek het om die draaiboek in die hande te kry sodat sy haar beter vir die oudisie kon voorberei.

Daar was talle struikelblokke. Michael Douglas, haar medester en destyds bekend as ’n hartebreker, wou glo glad nie saam met haar werk nie. Hy het gemeen sy is te onbekend.

“Vergeleke met hom was ek ’n niemand,” onthou sy.

Die rol is vir 12 ander aktrises voor Sharon aangebied. Maar hulle het dit almal van die hand gewys.

Vandag kan ’n mens jou nie iemand anders in dié ikoniese rol indink nie. Sy vertel sy moes die donkerste dele van haar psige leer ken om dié seksmoordenaar te speel.

Maar gehore het ook ’n ander . . . proes . . . sy van haar gesien: In die fliek se beroemdste toneel sprei Sharon ’n
oomblik haar bene wyd sonder dat sy ’n broekie aanhet en ontbloot veel meer as wat baie ander aktrises gemaklik sou wees om te wys.

Sharon vertel dis nie uit dapperheid dat sy dit gedoen het nie; die regisseur het haar bekonkel.

Sy is glo tydens die verfilming gesê om haar broekie uit te trek omdat die wit materiaal die lig in die vertrek te erg weerkaats het. Min het sy geweet die regisseur wou eintlik dit wat sy normaalweg met haar broekie bedek op film vaslê.

Eers toe sy die eerste vertoning van die rolprent bywoon, het sy besef wat gebeur het. “Dis toe ek die eerste keer my vagina op die skerm sien,” vertel sy.

Sy het geskok na die regisseur Paul Verhoeven gestorm en hom deur die gesig geklap. Daarna het sy haar prokureur gebel, en hy het bevestig dit sou vir die vervaardigers onwettig wees om ’n fliek te versprei waarin sy sonder haar goedkeuring ontbloot word.

“Paul het natuurlik beweer ek het geen sê in die saak nie. Ek was net ’n aktrise, ’n vrou, watter sê kon ek tog hê?

“Maar ek het een gehad. Ek het lank daaroor gedink en eindelik besluit ek sal die toneel toelaat. Hoekom? Want dit het eintlik in die rolprent gepas. Dit was die soort ding wat die karakter sou doen.”

Paul beweer op sy beurt Sharon lieg dat sy nie geweet het haar privaat dele word deur die kamera vasgevang nie.

Een van Basic Instinct se regisseurs, Paul Verhoev
Een van Basic Instinct se regisseurs, Paul Verhoeven. Foto: Getty Images/Gallo Images

“Enige aktrise weet wat mense gaan sien as jy haar vra om haar broekie voor die kamera uit te trek. Ek is ’n Neder­lander; ons is heeltemal gemaklik met naaktheid. Sharon was meegevoer deur die gemaklike atmosfeer toe ons dit verfilm het. Maar toe sy dit in ’n bioskoop tussen mense sien, het haar kop uitgehaak.”

Basic Instinct het in 1992 meer geld as enige ander fliek verdien.

Hoewel daar sedertdien veel meer onthullende en eksplisiete flieks verskyn het, was dit besonder gewaag vir sy tyd en het dit gehore wêreldwyd kiertsregop laat sit.

Daar was ook onder kykers en resensente eenstemmigheid dat een van die rolprent se belangrikste suksesfaktors die blonde bom in die hoofrol was.

“Sharon is sexy genoeg om die rolprentskerm aan die brand te slaan,” het een resensent geskryf.

’n Ander een het geskryf “dié rolprent het meer vir die bemagtiging van vroue gedoen as enige vroueregtebetoging”.

Michael Douglas se vriende beweer hy het Sharon aanvanklik as ’n tweede­rangse aktrise beskou en wou eerder teenoor ’n beroemder vrou soos Geena Davis of Ellen Barkin optree. Maar albei vroue was onwillig om soveel lyf te wys.

Intussen het Michael en Sharon goeie vriende geraak. Sy vertel hulle sien mekaar nog soms.

Saam met Michael Douglas in Basic Instinct. Foto:
Saam met Michael Douglas in Basic Instinct. Foto: Getty Images/Gallo Images

Talle groot rolle het gevolg, maar in 2001 het Sharon se sprokie amper doodgeloop toe sy bloeding op haar brein gehad het. “Dit het met ’n lam gevoel in my bene en die verskriklikste hoofpyn begin,” skryf sy in haar boek.

Sy skryf sy het drie dae lank op die vloer in haar huis gelê voor iemand haar na ’n hospitaal geneem het. Sy vertel daar het sy so naby aan die hiernamaals gekom dat sy die gesigte van drie vriende gesien het wat voorheen al gesterf het.

“Ek het ook ’n helder mistiese lig gesien,” onthou sy.

Dokters het vertel sy het ’n kans van 1% om te oorleef, maar ’n operasie van sewe uur het haar gered.

Die pad na herstel was lank.

“Ek het sukkelend na een kant toe oorgehel wanneer ek geloop het. My regterbeen het agter my aangesleep, die linkerkant van my gesig het skeef gehang en in my linkerbeen was daar geen gevoel bokant die knie nie. Ek het gehakkel, my regteroor kon nie hoor nie en ek het verskriklik baie gewig verloor.”

Ook haar korttermyngeheue was glo daarmee heen. Sy kon twee jaar lank nie lees “of onthou waar ek my teekoppie neergesit het nie”.

In ’n onderhoud met Variety in 2019 het Sharon vertel dit het sewe jaar geduur voor haar loopbaan herstel is.

“Ek het alles verloor. Ek moes ’n verband op my huis uitneem; ek het my plek in die bedryf verloor. ’n Paar jaar tevore was ek die opwindendste nuwe ster, maar toe kry ek ’n beroerte en almal vergeet van my.”

Haar vriend Quincy Jones, die musiekvervaardiger, het haar eindelik gehelp om by die regte dokter uit te kom. Hy het haar breintoestand reg gediagnoseer en die korrekte medikasie voorgeskryf.

Sharon by haar drie seuns. Van links is Laird, Roa
Sharon by haar drie seuns. Van links is Laird, Roan en Quinn. Die aktrise sê sy het nog altyd gedroom van ’n huis vol woelige kinders. Foto: Instagram/@sharonstone

Nou leef sy haar tweede lewe, vertel Sharon. Sy speel toneel, doen modelwerk, skilder en kuier saam met haar drie aangenome seuns, Roan (20), Laird (15) en Quinn (14).

Sy was al twee keer getroud, eers van 1984 tot 1987 met die draaiboekskrywer Michael Greenburg, en van 1998 tot 2004 met die uitgewer Phil Bronstein. Maar in haar boek swyg sy oor haar liefdeslewe.

Volgens alle aanduidings geniet sy haar lewe as enkellopende, maar sy hou ook die opsie oop dat sy weer liefde kan vind.
Verlede jaar het sy in ’n onderhoud met die Duitse Vogue gesê sy het mans deur ’n aanlyn diens probeer ontmoet, maar dit het nie so goed uitgewerk nie.

“Ek kan ’n boek skryf oor die ervarings wat ek gehad het met mans wat ek aanlyn ontmoet het. Webtuistes werk nie. Jy kan nie die vonk waarna twee mense soek op ’n webtuiste kry nie.”

Sy verskyn binnekort in die rolprente What about Love saam met Andy Garcia en The Tale of the Allergist’s Wife saam met Bette Midler.

Sy is ook te sien in die Netflixreeks Ratched, waarin sy ’n ryk vrou speel wat ’n huurmoordenaar betaal om die man te vermoor wat haar seun vermink het.

Sy vertel sy voel deesdae veel minder druk wanneer sy toneelspeel.

“Dis nie meer my hele wêreld nie. As die werkdag oor is, ongeag of dit goed of sleg was, keer ek terug na ’n huis vol liefde. En die meeste dae verloop die werk goed.”

In ’n onderhoud met Sunday Today beskryf sy haar huidige lewensfase as ’n “goeie plek”.

“Toe ek ’n kind was, het ek altyd gedroom van ’n huis vol raserige, woelige kinders en honde, en nou het ek dit. Ek is geseënd en baie dankbaar vir die lewe wat ek gekry het. Ek en my gesin is gelukkig saam. Wat is beter as dit?”

In haar outobiografie maak Sharon Stone skokonthu
In haar outobiografie maak Sharon Stone skokonthullings oor haar kinderjare en pad na roem.
Bronne: nytimes.com, womenandhome.com, cheatsheet.com, wionews.com, nypost.com, etonline.com, dailymail.co.uk
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe