In ’n uittreksel wat pas uitgereik is, skryf die 63-jarige aktrise sy is geflous om haar onderklere uit te trek vir die stomende ondervragingstoneel in die 1992-rillerfliek, Basic Instinct

“Daar is aan my gesê: ‘Ons kan niks sien nie.’ Ek het net nodig dat jy jou broekie uittrek, want die wit weerkaats die lig sodat ons weet jy het ’n broekie aan’,” skryf sy. 

Sharon Stone lyk sprankelend op die ouderdom van 5
Sharon Stone lyk sprankelend op die ouderdom van 50. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Sy het ook vertel hoe sy daardie toneel die eerste keer gesien het in ’n vertrek “gevul met prokureurs en agente, waarvan die meeste niks met die projek te doen gehad het nie”. 

Volgens Sharon het sy “na die projeksiekamer gegaan, die regisseur Paul Verhoeven deur die gesig geklap, na my motor gegaan en my prokureur, Marty Singer, gebel.” 

Nadat sy met haar prokureur gesels het, sê Sharon, het sy besluit om nie te vra dat die koekeloertoneel verwyder word nie. 

“Hoekom? Want dit was die regte ding vir die fliek en die karakter, en omdat ek dit immers gedoen het,” skryf sy.

In ’n uittreksel uit haar outobiografie onthou Sharon dat sy deur verskeie vervaardigers genader is om seks met haar medesterre te hê.

Die aktrise vertel een vervaardiger het haar na sy kantoor geneem en aan haar "verduidelik hoekom ek seks moet hê met my medester sodat ons meer kan kliek op die skerm".

“Julle het op hierdie akteur aangedring toe hy nie eens een hele toneel in die toets kon regkry nie,” het Sharon destyds onthou. “Nou dink jy as ek met hom seks het sal hy ’n goeie akteur word? Niemand is so goed in die bed nie.”

“Ek het gevoel dat hulle net ’n medester met talent kon aanstel, iemand wat ’n toneel kon lewer en sy woorde kon onthou," het sy voortgegaan. "Dit was my taak om op te tree en ek het nee gesê.”

Die aktrise Sharon Stone was nog nooit een vir doe
Die aktrise Sharon Stone was nog nooit een vir doekies omdraai oor haar waaghalsige leefstyl nie.


Sharon gesels eerskomende naweek in ’n onderhoud met die kletskoningin Oprah Winfrey meer oor haar outobiografie, berig PEOPLE.

In ’n voorskou onthul sy aan Oprah sy voel sodra vroue 50 word, word hulle gemaak dink hulle het geen waarde nie.  

“Ek dink namate ons ouer word, is daar hierdie druk van die samelewing waar mense ons probeer vertel dat ons van minder waarde is,” bieg die aktrise.

Maar Sharon voel anders. “Ek dink dit is ’n tyd in ons lewe waarin ons waarde die meeste verbeter,” vertel sy in die voorskou aan Oprah. 

“Ek glo dit is omdat dit die eerste keer in jou lewe is wanneer jou waarde soveel meer word. Jy word magtiger as wat jy nog ooit was,” vertel Sharon, wat drie seuns, Roan (20), Laird (15) en Quinn (14), het.

Sharon sal ook in die onderhoud met Oprah gesels oor die trauma en mishandeling wat sy as kind ervaar het, asook van die keer toe sy by die dood omgedraai het. 

BRONNE: VANITYFAIR.COM, CNN.COM, TIME.COM, DAILYMAIL.CO.UK, PEOPLE.COM, THETIMES.CO.UK, BELFASTTELEGRAPH.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UK, TODAY.COM, THESUN.IE, POPSUGAR.COM

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.