Die pragtige brunet het die afgelope paar dae gereeld foto’s gedeel van die oulikste Jack Russell, wat tog te graag ’n uiltjie knip. 

Sy het die babahondjie as verrassing vir haar ma, Tinkie Nortmann, gekoop. 

Tinkie se geliefde Jack Russell, Jossie, is vroeër vandeesmaand oorlede nadat ’n motor haar getref het.

Simoné, wat die rol van Irma in Huisgenoot se eerste fliek, Vir die voëls, vertolk het, en deesdae as suster René Spies in Binnelanders en Jony in Hotel op kykNET te sien is, het van die stel af gekom toe sy die hartseer nuus op 7 Februarie ontvang het.

 “Sy is vanoggend getref deur ’n motor en het in my ma se skoot gesterf. Wat ’n pragtige, onvoorwaardelike, spelerige en saggeaarde vriend was jy nie, Jossie. My hart is diep seer,” het Simoné kort ná Jossie se dood op Instagram geskryf. 

Simoné het besluit om as ’n verrassing vir haar ma ’n nuwe hondjie present te gee. Voordat sy die oorhandiging gedoen het, het sy eers die hondjie vir vyf dae by haar en haar man, Andries Pretorius, se huis laat bly.

In dié tyd het sy die mooiste Instagram-stories en foto’s van die fraai brakkie gedeel. Dis veral oulik hoe die klein dingetjie op enige tyd en enige plek aan die slaap kan raak. 

“Boaan die lys van die simpelste goed wat ek gedoen het: Ek het ’n hondjie as verrassing vir my ma gekoop en my ma op Instagram geblok (sodat Tinkie nie die hondjie kan sien nie). Ek het die babahondjie ’n naam gegee, en haar vir ’n paar dae gehou om te wag vir ’n geskikte geleentheid om haar te oorhandig," het Simoné op Instagram geskryf.

Sy het verduidelik dat sy nie die hondjie dadelik aan haar ma wou oorhandig nie, want sy wou haar ma eers ’n bietjie tyd gee om oor Jossie se dood te treur. 

“Ek het vir haar toiletgewoontes aangeleer. Haar geneem vir ’n swemsessie, saam kerk toe gevat en ook vir ’n Body20-oefensessie. 

"Die groot les: ’n Mens moet eerder die babahondjie in die nuwe eienaar se gesig druk as om die hondjie in jou eie hart te laat inklim, want jou hart sal uitgeruk word as jy die hondjie vyf dae later aan haar nuwe eienaar moet oorhandig."

Sy het bygevoeg dat hulle die nuwe hondjie Zoë genoem het. Dit beteken " ’n nuwe lewe, ’n nuwe begin".  

Vir die groot oorhandiging het Simoné ’n geskenkboks en kaartjie met ’n sonskynprentjie op gaan koop. In ’n video wat sy van die vreugdevolle oomblik deel, sien ’n mens hoe Zoë in die geskenkboks slaap terwyl Simoné deur ’n winkel stap en 'n kaartjie kies.

Sy en Andries het hierna vir Zoë in die geskenkboks voor Tinkie se motorhuis gelos. Tinkie het aanvanklik niks gesien toe sy die motorhuisdeur oopmaak nie. Maar kort voor lank sien sy die geskenkboks met Zoë in.

Dan deel ’n mens saam met haar in die vreugdevolle oomblik van nuwe lewe – ’n roerende en emosionele oomblik.

Simoné het in 'n oulike kaartjie aan Tinkie namens Zoë oor haar geaardheid geskryf.

“Ek hoor julle huisie is ’n bietjie stil en leeg en dat daar baie balle is wat rondlê, en dat julle baie liefde het om te gee. Sal julle my asseblief die geleentheid gee om in julle harte te kruip? Ek raak maklik aan die slaap op my ruggie. Ek hou van eet, maar ek is nie vraatsig nie. Ek piepie nie sommer in die huis nie – ek hou van gras. Ek slaap maklik deur as ek die dag baie gespeel het. Ek is nie bang vir water nie. Ek skik vir ’n nies.”