Hulle is die goue gesin van die Afrikaanse musiekbedryf: ’n pragtige ma wat al 20 jaar lank die treffers inryg, met haar man en bestuurder getrou aan haar sy, en twee van hul drie talentvolle spruite wat self nou flink aan die naam maak is as sangers.

Maar die afgelope jaar is die singende Du Plessis’s al deur diep waters. 

Dit was ’n tyd vol uitdagings, erken Ruan Josh (29), die musiekster Juanita en haar man, Doepie, se oudste seun. Sy debuutalbum, Eggo, is in 2017 uitgereik.

’n Storm het om Ruan Josh se kop losgebars nadat WOW Music Distribution – ’n verspreidingsmaatskappy waar Ruan Josh die afgelope vier jaar aan die roer van sake was – in Januarie vanjaar gelikwideer is met ’n skuldlas van sowat R7,3 miljoen.

Die aantreklike jong sanger verkies soos sy gesin om nie hieroor te praat nie, maar sê wel aan Huisgenoot: “Jy kan nie weghardloop van jou verantwoordelikhede nie. 

ruan du plessis,sanger,musiek
Vroeër vanjaar het ’n storm om Ruan se kop losgebars. Foto: Instagram/@ruanjosh

“Die grootste les wat ek geleer het, is die lewe gaan sy gang en daar kom slegte tye, maar dis jou persoonlike keuse of jy onder gaan bly en of jy die lewe waterpas in die oë gaan kyk,” sê hy aan Huisgenoot. 

“Ek kies om op te staan en te leef, maak nie saak van die klippe wat kom nie.”

In ’n hegte gesin soos die Du Plessis’s is een se leed almal se leed. 

Toe Ruan Josh ná nuus oor die likwidasie onder kwaai kritiek in die sosiale media deurloop, het dit ook die res van die gesin swaar getref. 

“Dit was seker een van die moeilikste dinge in my lewe om die afgelope drie weke stil te bly en te staan en kyk hoe daar in die media en op die sosiale netwerke oor my en my gesin geoordeel word, leuens versprei word, klippe gegooi word en lelike aanmerkings gemaak word wat baie diep sny,” het Juanita in ’n Facebook-inskrywing geskryf.

“Die grootste les wat ek geleer het, is die lewe gaan sy gang en daar kom slegte tye, maar dis jou persoonlike keuse of jy onder gaan bly en of jy die lewe waterpas in die oë gaan kyk,” sê hy aan Huisgenoot.

Ook Ruan Josh het sy kritici oënskynlik in ’n plasing op Instagram aangespreek: “Jy sal altyd foute kry by wie jy foute soek – mense is mense en mense maak foute, maar dis nie altyd aspris nie.” 

Daarby het hy drie hutsfrases, #vergewevinniger, #onsisalmalmens en #haaleersdiebalkuitjoueieoog, gedeel.

Vir Ruan Josh se sibbes, die sangeres Franja (25) en haar tweelingbroer, Mario, ’n wildboer, kon dié rowwe waters ook nie maklik gewees het nie. 

Franja het verlede September haar tweede album, Hittegolf, uitgereik, maar moes in haar persoonlike lewe die hartseer van ’n verbreekte verlowing verwerk. 

Die brunet, wie se skoonheid aan haar ma s’n herinner, en die rugbyspeler Willie Engelbrecht is begin verlede jaar ná ’n verhouding van sewe jaar uitmekaar. 

franja du plessis,juanita du plessis
Franja en Juanita. Foto: Instagram/@franjadp

Ten spyte van al die teenslae blyk dit uit die gesin se sosialemediablaaie hulle staan moedig saam. 

Dit wil selfs lyk of daar deur die onweerswolke weer vir hulle sonstrale begin breek. 

So reg in die vermaakbedryf se tradisie van the show must go on is hulle in Junie Kanada toe, waar Juanita, Ruan Josh en Franja drie vertonings saam met die sanger Refentse gehou het. 

Hulle het onder meer die stede Toronto en Vancouver en die Niagara-watervalle besoek.

Geoordeel aan die tipiese toeriste-foto’s van hul besoek aan Kanada in die sosiale media, lyk dit of dit welkome verligting gebied het van die uitdagings wat hulle steeds op eie bodem die hoof moet bied.

Toe Ruan Josh ná nuus oor die likwidasie onder kwaai kritiek in die sosiale media deurloop, het dit ook die res van die gesin swaar getref.

WOW se likwidasieproses is steeds aan die gang, het Ruan Josh teenoor Huisgenoot bevestig. 

Hy word steeds deur uitdagings in die gesig gestaar, maar “geeneen te groot vir ’n gewillige gees om aan te gaan nie”, sê hy.

Die verspreidingsmaatskappy is in 2010 deur Doepie gestig, maar hy het vroeg vanjaar as enigste direkteur daarvan bedank en Ruan Josh, wat sedert die begin ’n bestuurder was, moes toe sy skoene vol staan. 

Die res van die gesin was nooit regstreeks daarby betrokke nie. 

Die maatskappy het wel Juanita, Ruan Josh en Franja se CD’s versprei en ook dié van ander kunstenaars soos Coenie de Villiers, Joe Niemand, Retief Burger en die pop/countrygroep Anders.

franja du plessis,ruan du plessis
Hoewel Ruan en Franja in hul ma se voetspore gevolg het, kon die sibbes elkeen uit eie reg vir hulle ’n plek in die plaaslike musiekmark uitkerf. Hulle lewer ook gereeld vertonings saam. Foto: Instagram/@franjadp
juanita du plessis,josh du plessis,franja du pless
Juanita het in 2017 saam met haar seun en dogter die album Kaalvoet­kinners uitgereik. Sy tree ook soms saam met hulle op. Foto: Instagram

Nadat WOW twee jaar lank sluimerend was, het Ruan Josh einde 2014 besluit om nuwe lewe daarin te blaas.

“Vandat ons in 2015 weer ons deure oopgemaak het, was ek 100% aan die stuur van sake. 

Ek het al die kontrakte onderteken, met al die kunstenaars onderhandel, al die vergaderings bygewoon, die personeel bestuur en die leiding geneem,” het Ruan Josh vroeër aan Maroela Media gesê.

Dit was kort nadat Rapport berig het die maatskappy se skuld beloop sowat R7,3 miljoen. 

Die grootste skuldeisers is Absa, vir wie WOW R1,5 miljoen skuld, en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), wat R245 443 eis. 

So reg in die vermaakbedryf se tradisie van the show must go on is hulle in Junie Kanada toe, waar Juanita, Ruan Josh en Franja drie vertonings saam met die sanger Refentse gehou het.

Die bank en SAID moet eerste betaal word voor ander krediteure, onder wie talle kunstenaars, se skuld van altesaam R5,5 miljoen gedelg kan word. 

Ruan Josh het vroeër verduidelik die afname in CD-verkope namate digitale verkope ál gewilder word, het die maatskappy geknou nadat dit aanvanklik onder sy leiding in 2015 en 2016 floreer het. 

Nog ’n spyker in die doodskis was ’n verandering in hul verspreidingskontrak met ’n musiekhandelaar en groot kettingwinkels wat hul bestellings verminder het, het Ruan Josh aan Maroela Media gesê. 

Hy het skuldeisers toe gerusgestel dat hulle terugbetaal sal word. 

“En dit is nie omdat daar nou aantygings in die media gemaak word nie; dit was van die begin af die plan om almal te betaal wat hulle toekom, maar WOW moes ongelukkig eers deur die likwidasieproses gaan,” het hy gesê.

ruan du plessis,franja du plessis,kanada
Dié singselfie van Ruan en Franja is geneem in Kanada, waar hulle en ma Juanita in Junie drie vertonings saam met die sanger Refentse gehou het. Foto: Instagram/@franjadp
ruan du plessis,sanger,kanada
“Vancouver vandag, interessante stad, baie divers, maar . . . ek wil nou huis toe kom!” het Ruan by dié foto geskryf. Foto: Instagram/@ruanjosh
ruan du plessis
Hulle het ook die Niagara-watervalle besoek. Foto: Instagram/@ruanjosh

In ’n veelseggende inskrywing op Facebook het Juanita die onderhoud met haar seun gedeel en te velde getrek teen mense wat op grond van “selektiewe inligting” ’n oordeel oor haar gesin vel. 

“Ruan, my kind, ek salueer jou! Ek weet jy het hierdie hele situasie na die beste van jou vermoë probeer hanteer en dat jy ALTYD ander se belange eerste stel,” het sy geskryf.

“Dis die harde lesse in die lewe wat jou karakter en menswees vorm. Ek is so ongelooflik trots op jou!”

Ook Ruan Josh bly moedig. Aan Huisgenoot sê hy: “Een ding weet ek: God is elke tree voor my, agter my, onder my en langs my. Seisoene kom en gaan vir ’n rede – dis jou besluit of jy met ywer wil uitvind wat daardie redes is en daarom sien ek uit na alle geleenthede wat moontlik na my kant toe kom.”

Franja het self die stilte rondom WOW se likwidasie verbreek toe sy haar ouboet, saam met wie sy gereeld optree, in ’n Facebook-inskrywing van haar steun verseker het. 

“Ruan, my kind, ek salueer jou! Ek weet jy het hierdie hele situasie na die beste van jou vermoë probeer hanteer en dat jy ALTYD ander se belange eerste stel.”

“Mense is so vinnig om te praat en aantygings te maak. En hulle eie stories op te maak. Dis hartseer dat die mensdom so wreed is...”

“Maak nie saak hoeveel keer jy val nie, dis hoeveel keer jy opstaan,” het sy die ou gesegde aangehaal. 

“As jy te bang gaan wees om te val, gaan jy nooit die kans hê om te vlieg nie. Vandag spring ek,” het Ruan Josh onlangs op Instagram by ’n selfie geskryf.

“En ek spring saam!” het ma Juanita in die kommentaarveld laat hoor.

ruan du plessis,franja du plessis
Franja en Ruan lewer nie net gereeld saam vertonings nie; die twee is ook altyd gereed om saam-saam ’n prettige selfie te neem. Foto: Instagram/@franjadp
ruan du plessis,franja du plessis,kunstenaars,musi
“Dankie vir die mens wat jy is! Baie lief vir jou!” het Franja by ’n foto van hulle twee geskryf wat sy op Ruan se verjaardag aanlyn gedeel het. Foto: Instagram/@franjadp

Juanita, wat in 2017 saam met Ruan Josh en Franja die album Kaalvoet­kinners uitgereik het, het ook onlangs ’n aanhaling op Instagram geplaas wat duidelik wys hoe sy ná die afgelope paar moeilike maande voel: “Walk away from arguments that lead you to anger and nowhere. Walk away from people who deliberately put you down. Walk away from the practice of pleasing people who choose to never see your worth.

Walk away from any thought that undermines your peace of mind. Walk away from judgmental people, they do not know the struggle you are facing and what you have been through.

Walk away from your mistakes and your fears, they do not determine your fate. The more you walk away from things that poison your soul, the healthier your life will be.”

En al het die storm nog nie verbygetrek nie, lyk dit of die Du Plessis-gesin nie net probeer wegstap van die swaarkry nie, maar ook weer vashou aan die lirieke van een van Juanita se bekendste treffers, Vlieg Hoog: Hoër as die storms van die lewe, / dis onder my. / Hoër as die wind van die verlede, / dis agter my. / Hoër as die son, na die Lig. / Ek vlieg hoog...

HUL PAD IN DIE BEDRYF
  • 1972
    Juanita Naudé word in Namibië gebore.
  • 1990
    Sy en Herman du Plessis, oftewel Doepie, trou.
  • 1991
    Hul eer­steling, Ruan Joshua, word gebore.
  • 1994
    Die tweeling, Franja en Mario, word gebore.
  • 1994
    Juanita wen ’n liedjieskryfwedstryd in Namibië.
  • 1998
    Haar debuut-album, Juanita, word uitgereik.
  • 2000
    Ska-Rumba, die titelsnit van haar album Ek&Jy, word ’n treffer.
  • 2000
    Die gesin trek uit Gobabis in Namibië na Pretoria.
  • 2008
    Ná 10 albums en 10 jaar in die bedryf steek haar CD-verkope die miljoenkerf verby.
  • 2010
    WOW Music Distribution word op die been gebring.
  • 2013
    Juanita behaal die rekord as die eerste Suid-Afrikaanse sangeres met verkope van 2 miljoen albums.
  • 2015
    Ruan staan aan die stuur van WOW.
  • 2016
    Franja se debuut­album, My Verhaal, word uitgereik.
  • 2017
    Ruan, nou bekend as Ruan Josh, se debuut-album, Eggo, word uitgereik.
  • 2017
    Juanita, Franja en Ruan Josh se album, Kaalvoetkinners, word uitgereik.
  • 2018
    Juanita vier ná 21 albums, sewe DVD’s en meer as 40 pryse haar 20ste jaar in die bedryf.
  • 2019
    Ruan Josh word alleendirekteur van WOW Music Distribution voor dit gelikwideer word.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.