Die kleinding van Charlize (26) en haar man, Warren Linden (26), het op 17 April vanjaar haar opwagting deur middel van 'n keisersnit gemaak. Boonop het die nuwe ma sedert die geboorte reeds 10 kg afgeskud.

Charlize het aan Huisgenoot gesê haar maag het gou na die gewone grootte herstel ná die geboorte van haar eersteling. 

Sy glo borsvoeding is die geheim tot haar vinnige gewigsverlies en sy probeer steeds borsvoed.

“Borsvoeding het my gehelp om die kilo’s af te skud, maar ek probeer stadig maar seker ook meer aktief wees,” het Charlize aan Huisgenoot gesê. 

Volgens Charlize het dit vir haar gewerk, maar sy glo elke nuwe ma moet liefs na haar eie liggaam luister om te besluit wat die beste vir haar is.

“Dit is 'n proses, maar ek werk so nou en dan 'n paar aktiwiteite in net om my lyf stadig en stelselmatig aan oefening gewoond te maak,” sê sy.

Aleiah-Rose is op 17 April vanjaar gebore. Foto: Andelle Schenach Photography.

Sy glo oefening is uiters belangrik, want buiten dat dit 'n mens laat goed voel, help dit jou ook om vinniger te herstel en goed te lyk. 

Die paartjie is smoorverlief op hul klein Aleiah-Rose.

“Ek dink nie 'n mens kan in woorde beskryf wat dit is om 'n ma te wees nie. Ek is so oorweldig deur die liefde wat ek vir my dogtertjie het, dit gaan soms my verstand te bowe oor hoe 'n mens nog 'n mensie so lief kan hê,” het sy oor haar kleinding gekoer. 

Vir Charlize is dit 'n voorreg om 'n ma te wees.

“Ek haal my hoed af vir elke ma daar buite. Dit is beslis nie maklik nie. En of 'n mens natuurlik die lewe geskenk het en of jy 'n keisersnit gehad het, ek dink vroue is dapper en dis 'n ongelooflike prestasie, eer en voorreg om 'n kind in die wêreld te bring,” het sy voortgegaan. 

Die paartjie is smoorverlief op hul kleinding, Aleiah-Rose. Foto: Andelle Schenach Photography.

Volgens Charlize werk sy en Warren as 'n span saam om stabiliteit in die huis te handhaaf. Sy erken die nuweling in die huis sorg vir 'n groot aanpassing, maar "dis absoluut die moeite werd".