Toe hulle in die Royal Albert Hall aankom, het die egpaar glo elkeen hul eie rigting ingeslaan terwyl David (43) hom op die dinee voor die plegtigheid aan gaste voorgestel het, berig The Sun.

Tydens die vertoning het Victoria (44) blykbaar onbeïndruk gelyk toe die aanbieder Jack Whitehall haar man prys en skerts die uitgetrede sokkerspeler het op die koninklike troue in Mei die kollig gesteel, berig News.au.com

Die Beckhams het glo op die partytjie ná die tyd met hul rug na mekaar gesit en skaars gepraat.

“Hulle het vir die plegtigheid saam gesit, maar op die partytjie uitmekaar beweeg,” sê ’n bron wat op die partytjie was.

“Hulle het net kortliks met mekaar gepraat sowat 25 minute voor hulle weg is. Hulle het moeite gedoen om lieftalliger te lyk toe ’n groep mense om hul tafel saamdrom.”

David se vriendelikheid teenoor die popster Rita Ora in Victoria se afwesigheid het die oë laat rek.

“Hy het taamlik bekoor gelyk deur Rita en gesê hulle moet saamwerk,” vertel die bron.

Rita (28) was die eerste glansmens wat David en die rolprentregisseur Guy Ritchie se nuwe kroeg, The Walmer Castle, in Notting Hill, Londen, vroeër vanjaar besoek het, berig Dailymail.

In 2013 het gerugte aan die lig gekom dat die sangeres met David se goeie vriend Dave Gardner uitgaan, ’n sportagent wat nou in ’n verhouding is met die aktrise Liv Tyler, berig Hello Magazine.

“David, Victoria en (hul oudste seun) Brooklyn het ’n wonderlike aand saam by die prysuitdeling en partytjie gehad,” het David se woordvoerder gesê.

Die egpaar se verteenwoordigers het gerugte van ’n egskeiding afgemaak wat vroeër vanjaar die ronde gedoen het.

Maar Victoria se nektatoe wat aan haar man opgedra is, was skynbaar skoonveld toe die modeontwerper in ’n elegante swart ooprugrok by die British Fashion Awards aankom.

Net dowwe merke was aan haar agternek sigbaar waar die woorde “Ek is my geliefde s’n en my geliefde is myne” eens gestaan het.

Bronne: The Sun, News.au.com, Daily Mail, Hello Magazine