“My man het ’n baie, baie mooi vriendskap met Harry,” het die sangeres Katharine McPhee (36) bekend gemaak oor die vriendskap tussen die rooikopprins en haar man, David, met wie sy in 2019 getrou het.

“Hulle is, wel, hulle is so oulik,” het sy aan Access Hollywood gesê. “Hulle is soos pa en seun.”

View this post on Instagram

A post shared by David Foster (@davidfoster) on

Sy is immers een wat in die huidige binnekringe van Harry (35) en Meghan (38) beweeg vanweë haar jarelange vriendskap met Meghan. Die twee het jare gelede saam in skoolkonserte opgetree en die vriendskap is weer hervat danksy die oënskynlik hegte pa-en-seun-band tussen David en Harry.

Dit was einste David wat die Sussex-egpaar gehelp het om huisvesting in Kanada te bekom nadat die twee op 8 Januarie vanjaar die bom laat bars het dat hulle van hul koninklike pligte afstand doen en Engeland gaan verlaat.

In Maart vanjaar, net voor die Kanadese inperking in werking getree het, het die Sussexe na Los Angeles in Kalifornië verhuis. Dit was ook ’n week voor die twee hul laaste amptelike take as senior lede van die Britse koningshuis verrig het. Die skuif het die egpaar en hul eenjarige seun, Archie, nader aan haar ma en vriende gebring.

Katharine sien nie die skuif as ’n struikelblok in hul vriendskap nie: “Ons wil net hê hulle moet wees waar hulle gelukkig is.”

Terwyl Meghan ’n moeilike pad met haar pa, Thomas Markle, stap, was dit juis haar skoonpa, prins Charles, wat haar in die Britse koninklike familie verwelkom het en op haar troudag met Harry in Mei 2018 haar na die preekstoel geneem het. Maar nadat die twee hul koninklike pligte vaarwel toegeroep het, is die verhouding tussen Harry en sy pa as “ingewikkeld” beskryf.

Ná daardie aankondiging is daar by Sandringham, die koningin se woning in Norfolk, byeengekom. Prins Charles, sy oudste seun, prins William, en koningin Elizabeth was teenwoordig. Hardnekkige gerugte het daarna die ronde gedoen dat daar ’n “gebrek aan vertroue” tussen pa en seun is.

Nou word gegis dat Charles beslis seergemaak gaan wees deur die nuus dat daar nou 'n nuwe pa-figuur in sy jongste seun, Harry, se lewe is terwyl hy in Amerika woon.

Wie is David Foster?

David is ’n Kanadese musiekbaas wat al produksies vir sterre soos Christina Aguilera, Michael Bublé, Olivia Newton-John, Michael Jackson, Whitney Houston en Madonna hanteer het. Hy is al 47 keer vir ’n Grammy benoem en is 16 keer met een van daardie gesogte musiekpryse bekroon.

Katharine is sy vyfde vrou (hy is haar tweede man). Hy was tevore getroud met die gewese model Yolanda Hadid - die ma van die model-sibbes Gigi, Bella en Anwar Hadid - die liedjieskrywer en gewese aktrise Linda Thompson (wat ook ’n jarelange vriendskap met Elvis Presley gehad het), die aktrise Rebecca Dyer, by wie hy drie dogters (Erin, Jordan en Sara) het, en die sangeres B.J. Cook by wie hy ’n dogter, Amy Skylark, het.

Hy was 20 jaar oud toe hy in 1970 sy eerste kind, ’n dogter, Allison, gehad het. Sy is vir aanneming opgegee en hulle het eers weer bymekaar gekom toe sy 30 jaar oud was. Dan is daar nog ses stiefkinders: sy eksvrou Linda Thompson se seuns Brody en Brandon Jenner (ja, die Kardashian-Jenner-konneksie met Caitlyn Jenner as hul pa) en die Hadid-sibbes en Tamre Winger (B.J. Cook se dogter uit ’n vorige huwelik).

Bronne: telegraph.co.uk, accessonline.com, fabiosa.com, people.com, express.co.uk, dailymail.co.uk