Andra Day en Brad Pitt.
Andra Day en Brad Pitt. Foto's: Gallo Images/Getty Images

In die jongste verwikkeling in die akteur se smerige toesigstryd met sy vervreemde vrou, Angelina Jolie (45), is hy gesamentlike toesig oor hul ses kinders toegestaan. Nou lyk dit of hy ook sy oog op ’n moontlike nuwe liefde het. 

Brad (57) het glo ’n kortstondige affair met die Poolse swemddragmodel Nicole Poturalski (28) gehad. Nicole het blykbaar ’n “oop huwelik” met die Duitse restaurateur Roland Mary (68), maar haar en Brad se paadjies het in Oktober ná ’n paar maande saam geskei.

Brad Pitt
Brad Pitt. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sedertdien was sy liefdeslewe stil – tot daar onlangs berig is Brad het in April by die Oscars met die aktrise en sangeres Andra Day (36) geflankeer en nommers uitgeruil.

Andra Day
Andra Day. Foto: Gallo Images/Getty Images

Andra is as beste aktrise benoem vir haar vertolking van die legendariese Amerikaanse sangeres Billie Holiday in die biofliek The United States vs. Billie Holiday, en Brad het ’n prys by die geleentheid oorhandig. “Andra is al ’n ruk lank op Brad se radar,” sê ’n bron.

“Hulle het agter die skerms geflankeer en het glo nommers uitgeruil. Dit kan dalk net op professionele vlak wees, maar van Brad se pelle het al gepraat oor watter mooi paartjie hulle sou maak.”

Andra het in 2015 roem verwerf met die uitreiking van haar bekroonde R&B-album Cheers to the Fall, en het ’n rol gehad in die fliek Marshall wat in 2017 uitgereik is. Sy het ook stemwerk vir die animasiefliek Cars 3 gedoen.  Dis egter The United States vs. Billie Holiday wat van haar ’n ster-aktrise gemaak het.

Sy vertolk die rol van die legendariese jazz-sangeres en het die rol met mening gepak. Sy het selfs begin rook en die jenewer weggeslaan. 

“Dis waarskynlik een van die ongesondste dinge wat ek gedoen het,” het sy aan die Amerikaanse nuusprogram PBS NewsHour gesê, en bygevoeg die rokery en drank het haar gehelp om Billie se “skor” stem na te boots.

Die rol het haar ook ’n Golden Globe besorg.

Brad se ontmoeting met Andra kom enkele weke nadat hy ’n oorwinning in die hof behaal het toe hy gesamentelike toesig oor sy kinders saam met Angelina toegestaan is. Sy het in 2016 om ’n egskeiding aansoek gedoen. 

Die besluit was glo ’n groot slag vir die Oscar-bekroonde aktrise, omdat sy ontsteld is dat die regter nie hul kinders, Maddox (19), Pax (17), Zahara (16), Shiloh (15) en die tweeling, Vivienne en Knox (12), toegelaat het om in die toesigverhoor te getuig nie. 

Brad by sy kinders, Pax Jolie-Pitt, Shiloh Jolie-P
Brad by sy kinders, Pax Jolie-Pitt, Shiloh Jolie-Pitt en Maddox Jolie-Pitt. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Die stelsel is foutief, en Angelina is gefokus daarop om te baklei teen ’n stelsel wat nie die volledige hoeveelheid kwessies in ag neem wat haar familie en ander in so ’n situasie raak nie,” het ’n bron na aan Angelina gesê.

“Sy werk ook hard daaraan om te verseker dat ander families nie deur dieselfde ervaring gaan nie.”

Mense in die binnekring sê regter John Ouderkirk – die privaat regter wat die voormalige paartjie aangestel het om oor hul saak te beslis – het sy mening oor die toesigreëling duidelik gemaak in sy lang uitspraak.

Ná sewe maande se getuienis van terapeute, kinderdienswerkers en ander wat baie tyd met die kinders deurgebring het, het die regter glo gesê hy het gevoel om 50% van die tyd saam met hul pa te wees, is in hul beste belang. Angelina beplan om appèl aan te teken. 

BRONNE: MIRROR.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UK, THE-SUN.COM, RADARONLINE.COM