In ’n video wat wyd aanlyn gedeel is, maak die hertogin van Sussex (37) haar eie kardeur toe nadat sy opgedaag het by die opening van ’n uitstalling by die Royal Academy of Arts in Londen.

Dit het omtrent gegons op Twitter. Sommige loof Meghan en meen dit bewys net hoe nederig en plat op die aarde sy is. Ander meen weer die gedrag gaan teen protokol omdat lede van die Britse koninklike familie se motordeure gewoonlik vir hulle oopgehou en toegemaak word. 

Dis nie die eerste keer dat Meghan self haar kardeur toemaak nie. Sy het dieselfde gedoen toe sy ’n paar dae vroeër by die bekendstelling van ’n kookboek opgedaag het met haar man, prins Harry (34), en ma, Doria Ragland (62).

“Gewoonlik sal koninklikes en hoogwaardigheidsbekleërs iemand hê wat vir veiligheidsredes die kardeur vir hulle oopmaak; dit het niks met prinsesgedrag te doen nie,” het William Hanson, ’n etiketraadgewer, op die Daily Mail se webtuiste verduidelik.

Emine Saner, rubriekskrywer van The Guardian, het ook tot Meghan se redding gekom en ’n lysie belaglike dinge gedeel wat ander koninklikes nie doen nie. Koningin Elizabeth (92) het onder meer nooit kontant by haar nie, en haar oudste seun, prins Charles (69), druk nie sy eie tandepasta uit of stryk sy eie skoenveters nie.

Ander het ook gou uitgewys dat Meghan nie al lid van die Britse koninklike familie is wat al hul eie motordeur toegemaak het nie. Haar skoonsuster, Kate (36), is ook al gewaar waar sy dieselfde doen.

Nou maar toe, gelukkig is die voormalige Suits-aktrise blykbaar net soos ons ander sterflikes.  

Bronne: ctvnews.ca, npr.org, youtube.com