Hy was Saterdagaand saam met sy vrou, Nerine, besig om voor slaaptyd vir hul eersteling, Ameline (2), stories te lees en liedjies te sing toe hy sien hoe die oppasserkamera (nanny cam) se liggie aangaan. Dié liggie is ’n aanduiding dat iemand deur middel van ’n app deur die kamera kan kyk.

“Ek het dit gesien en toe eers gedink dis weird, dalk is dit ’n fout,” vertel Vaughan oor die voorval. “Niemand was veronderstel om in te kyk nie. Die liggie was seker sowat 30 of 40 sekondes aan toe sit ek die kamera af,” sê hy.

“My vrou het toe vir my gesê dit het al ’n paar ander aande ook gebeur en sy het gedink dit is ek wat inloer om te kyk of hulle al slaap,” vertel Vaughan, wat die afgelope paar weke in die aande in ’n ander gedeelte van die huis sit en studeer. “Maar dit was nie ek nie,” sê hy.

Hy het hul ervaring ook op Facebook in ’n inskrywing gedeel en mense gewaarsku om versigtig te wees.


Volgens Vaughan het hulle twee van die soort kamera’s in hul huis in Johannesburg, een in die leefarea en kombuis en die tweede in Ameline se slaapkamer. Hulle gebruik dié kamera’s ook al amper ’n jaar en ’n half lank.
Hoewel hulle reeds die app se intekenbesonderhede verander het, sal hulle steeds versigtig wees.

“Ons sal dit dalk nou net in die dag gebruik, wanneer ’n mens weet niemand slaap of is dalk besig om aan te trek nie.

“Dit is baie handig, ’n mens wil mos maar net weet alles is oukei. Ná die stories oor oppassers wat kinders aan die voet optel of gooi, is dit maar hoe mense se vrese begin het. En so ’n kamera is ’n goeie uitweg, veral as jou oppasser nog baie nuut is of jy wil seker maak jou kind slaap regtig,” sê Vaughan, wat die week ook vir die tweede keer pa geword het.

Klein Noëlle Catherine Gardner is Woensdag gebore.


“So daar is darem ’n ligpunt,” vertel Vaughan, wat ook besig is om aan sy volgende album te werk en hoop om dit volgende jaar uit te reik.

“Ons is baie gelukkig. Dit was ’n goeie swangerskap en ons kan nie wag dat sy huis toe kom nie.”

Vaughan sê dit gaan goed met Nerine maar Noëlle moet vir ’n dag of twee in die hoësorgeenheid gehou word tot haar longetjies versterk.

“Maar dit is darem nie té ernstig nie,” sê hy rustig. “Ek is baie bly om twee dogtertjies te hê.”