Om te dink alles waarvoor hy so hard en so lank gewerk het, kan oornag van hom gestroop word. Dis vreesaanjaend, erken een van die gewildste sangers in die land.

Vir ’n oomblik verdwyn daardie bekende groot glimlag agter Jo Black se kenmerkende baard. Sy donker oë, gewoonlik vonkelend, lyk troebel.

“Ek wil doodeerlik wees vandag: Ek is vrekbang,” erken die sanger van die treffer Skepe. Hy vou sy regterarm, die ene tatoes, beskermend oor sy linkerarm. Dié is in ’n blou hangverband toegewikkel. 

Voorheen kon hy ure aaneen tower­note uit sy kitaar tokkel, maar nou is sy linkerarm swak en byna lam. Hy kan dit skaars beweeg. Om sy arm te red, sal ’n nekoperasie uitgevoer moet word wat die sanger se kosbaarste instrument kan be­skadig: sy stembande.

Die sanger is deesdae permanent in pyn en drink elke dag “hande vol” pynpille om die onhoudbare seer in sy nek te verdoof, maar dis die vrees oor die skade wat ’n operasie aan sy stembande kan aanrig wat die moeilikste is om te verwerk. 

Hy bal sy vuis en druk dit teen sy mond om teen die trane te stoei. Dan erken hy: “Ek lê aande aaneen en smeek by die Here dat die operasie nie die einde moet wees nie. Dit kán nie, dit mág nie wees nie.”

Want dit is byna ondenkbaar dat die noodlot hom so sou oorval net toe sy goue jare in die bedryf aanbreek.

In die laaste jaar het hy 11 pryse, waaronder sewe Ghoemas en drie Tempo-­pryse, vir sy album Skepe ge­wen. Foto: Martin de Kock.

Jo se suksesverhaal is soos ’n sprokie waarin ’n goeie fee op ’n dag ’n towerstaf geswaai en sy grootste drome waar gemaak het. Hy het lank as die eienaar van ’n Pretoria­se boumaatskappy sy brood en botter verdien, maar altyd op ’n deurbraak in die musiekbedryf gehoop.

Vyftien jaar lank het hy op dié geleent­heid gewag en soms ’n sukkelbestaan gevoer. En toe, eensklaps, word die bebaarde bouer vol tatoes Suid-Afrika se nuutste sangsensasie nadat ’n talent­soeker van die liedjieskrywer Johan Vorster se platemaatskappy, Inhoud Huis, hom in ’n kroeg in Pretoria hoor sing het.

Skielik was Jo Black, sy verhoognaam, op almal se lippe. Sy debuutalbum, Skepe, het verlede jaar binne net twee maande platinumstatus bereik, en hy is bekroon met sewe Ghoema-pryse, ’n Sama vir die beste Afrikaanse kontemporêre album en drie Huisgenoot-Tempo-­pryse, onder meer vir die gewildste vermaakster van die jaar.

Sy dagboek vir vanjaar was vol bespreek, en hy het reeds aan ’n tweede album begin werk toe ’n skok hom on­verwags tref.

Ironies genoeg was dit tydens sy gesin se trek na hul droomhuis op ’n sekuriteitslandgoed noord van Pretoria in Mei vanjaar dat hy die besering opgedoen het wat nou dreig om bitter nagevolge te hê.

Ná jare in ’n piepklein meenthuisie het Jo (36), sy vrou, Debbie (32), en hul dogters, Dinieke (9) en Miané (6), daarna uitgesien om te kom nesskop in die ruim gesinswoning waar ons vandag gesels.

Hy en Debbie is al 10 jaar ge­troud. Hy sê dit breek haar om hom in soveel pyn te sien. Foto: Martin de Kock.

Raakvatter wat hy is, het Jo meubels help aflaai toe hy hom met die afstand van die trekvoertuig se bak na die grond misreken. Toe hy die grond tref en ’n steekpyn deur sy lyf voel skiet, het hy dadelik besef iets is fout.

“Ek kan dit nie beskryf nie. Ek het ’n skielike skok deur my hele lyf voel skiet,” onthou hy. Hy voeg by: “My liggaam was daarna nooit weer dieselfde nie.”

Eers die volgende dag het die nekpyn begin. Dit het aangehou en aangehou. Drie weke lank het hy gereeld vir fisioterapie gegaan in die hoop dat dit die pyn in sy nek en rug sou verlig. Maar toe ’n maand verbysleep en die pyn net ver­erger, is hy in Junie na sy huisdokter toe. Dié het X-strale laat neem.

“Dit was die begin van die afdraande pad,” sê Jo mismoedig.

Die dokter het hom na ’n neuroloog verwys. Dié het aan hom verduidelik twee van sy nekwerwels het begin dis­integreer en veroorsaak die pyn. Een van die werwels druk op die senuwees wat na sy linkerarm lei; daarom voel die arm lam en kan hy dit ál moeiliker beweeg. Teen die tyd dat hy die neuroloog gesien het, het hy die gebruik van sy linkerarm al feitlik verloor.

Die twee werwels het vermoedelik eintlik al begin verbrokkel nadat hy 14 jaar gelede op die rugbyveld geval en sy nek beseer het toe hy saam met sy broer en nefies rugby gespeel het.

Die sanger wys die morfienplakker wat hy daagliks teen die gedurige pyn dra. Foto: Martin de Kock.

Teen die tyd dat hy in Junie daarvan bewus geword het, was die skade aan sy nekwerwels al so erg dat hy ’n operasie sou moes ondergaan om die werwels met skroewe weer in posisie te skroef, het sy dokters aanbeveel.

Maar toe kom die volgende skok: Die operasie sou ’n risiko vir sy stembande inhou. Die werwels waarop geopereer moet word, is op die plek waar die senuwees van sy stembande by die werwel­kolom aansluit, verduidelik hy.

Die geringste skade aan dié senuwees kan tot tydelike heesheid lei. As dinge skeefloop, kan sy stembande permanente skade ly en kan hy selfs sy stem verloor, het die dokter verduidelik.

“Ek het vasgeskop en gesê ek kan nie nou aan my laat sny nie. Ek kan nie nou duisende aanhangers in die steek laat nie,” vertel Jo.

“Ek het so groot geskrik, ek het onmiddellik ’n tweede mening gekry. Maar toe sê ’n tweede neuroloog vir my presies dieselfde. En ek skrik toe weer en gaan sien nog ’n spesialis.

“Ek moes uit die mond van drie spe­sialiste hoor dat ’n operasie om die nekwerwels reg te stel moontlik my stembande permanent kan beskadig; dat ek in daardie hospitaalbed kan wakker word en dalk nie meer kan sing nie,” sê die sanger.

Dit was teen daardie tyd einde Junie, maar Jo het teen die operasie bly vasskop.

“Dis toe dat ons besluit om die kwaal eers te behandel in die hoop om die operasie uit te stel.” Nou spot Jo om die spanning te verlig: “Dit was ’n goeie plan; ek sou dan sommer eendag as ’n ou man al my kwale op een slag laat reg timmer, maar dit het nie so vir ons uitgewerk nie.”

Die glimlag wat vlugtig aan sy mondhoeke gewys het, verdwyn en hy gaan voort: “Mettertyd het my liggaam ’n weerstand teen die swaar medikasie opgebou.”

Sy dosis pynmedikasie is later ver­dubbel, maar hy verduur steeds dag en nag pyn.

Dit kan nie so aangaan nie, het sy ­geliefdes vir hom gesê. Debbie en die span van sy platemaatskappy het hom gesmeek om tog maar vir die operasie te gaan, al sou dit beteken dat hy ’n rits konserte moet kanselleer.

Hy drink elke dag hande vol ­pille. Foto: Martin de Kock.

Maar Jo wou steeds niks weet nie. Hy het jare lank gewag om in die musiek­bedryf naam te maak terwyl hy in kroeë en restaurante gesing het. En noudat hy meer as 300 konserte in ’n jaar hou, wil hy nie ’n enkele een misloop nie, verduidelik hy.

“In die verlede het ek al met long­ontsteking en griep en wie weet watter ander kwale gesing. In my loopbaan tot dusver het ek nog nie ’n enkele konsert gekanselleer nie.”

Dan sê hy: “Ek wou deurdruk, maar ek kan nie meer nie. Ek kan byna nie eens meer my linkerarm oplig nie. En ek kan so te sê glad nie meer kitaar speel nie.”

Hy was gebroke, sê Jo, toe hy dit onlangs tydens ’n konsert by die Hartbees­poortdam besef.  “My vingers was dood; ek kon nie eens die snare van die kitaar voel nie. Daar staan ek toe op die verhoog, verslae en bang.”

Gelukkig het die lede van sy musiekgroep toe vir die begeleiding gesorg. Deesdae tower Jo met sy onwillige vingers nog af en toe tydens optredes ’n paar akkoorde uit die kitaar op. En wanneer hy op die verhoog staan en die pyn te erg raak, gaan sit hy op ’n stoel en sing verder. 

“Tot nou toe het ek deur die pyn gebeur. Ek drink net die helfte van die medikasie voor ’n konsert. Daarna het ek soveel pyn dat ek in die toerbus weer ’n hand vol pille drink. Die dokters is bekommerd, want hulle sê sulke groot dosisse pille kan tot verslawing lei, of erger nog – die dood.”

Daarom het hy nou ingestem om op 26 September die operasie te ondergaan wat hy probeer vermy het.

“Weke aaneen het ek die onvermyde­like geïgnoreer,” erken hy. “Maar nou is ek op die punt waar ek dit nie meer kan wegsteek nie. Ek kan nie meer soggens uit die bed opstaan sonder ’n hand vol pille en ’n morfienplakker nie.

“Dit laat my met geen ander keuse as om tot die operasie in te stem en te glo dat God ’n plan het wat ek as mens nie nou onmiddellik kan sien nie.

“Almal probeer positief wees en sê vir jou om jou nie te veel te bekommer nie. Tog kan niks nou bepaal hoe die pad gaan lyk wanneer ek my oë ná die operasie oopmaak nie. En dit vreet aan my.

“Ek moet my vrese in die oë kyk en glo God het my nie tot hier gebring net om dit alles van my weg te neem nie. 

“Ek moet glo dat ek met ’n getuienis van sy genade in daardie hospitaalbed gaan wakker word en my drome net so sal kan voortsit.”

‘Ek voel ek is niks as ek nie op ­daardie verhoog kan staan en mense se lewe met my stories en liedjies kan verryk nie’

Die vrees dat die operasie dalk die einde van sy sangloopbaan sal beteken, knaag al weke lank aan hom. In die jare dat hy gesukkel het om in die mededingende musiek­bedryf naam te maak, het hy en Debbie swaarkry leer ken. Hulle is al 10 jaar getroud.

Jo onthou nog hoe die mense van die kerk waar hy die aanbiddingsleier was en ander weldoeners sy huurgeld betaal het sodat sy gesin nog ’n maand ’n dak oor hul kop kon hê. En hoe hy net ’n week voor sy treffer Skepe as enkelsnit aan die einde van 2016 uitgereik is sy enigste kitaar verkoop het om vir sy dogters te kan Kersgeskenke koop.

Hy onthou die verligting toe Inhoud Huis se talentsoekers hom vroeër daardie jaar genader het in I Bar, ’n kroeg in Pretoria waar hy opgetree het. En sy hoop dat dié ontmoeting ’n einde sou maak aan sy maer jare in die musiek­bedryf.

“Dit maak my die gelukkigste mens op aarde dat ek ná soveel jare eindelik vir my vrou en kinders kan sorg. Dat ek vir hulle hierdie hawe kon gee en dat ons nie meer elke dag wonder waar geld vir die volgende dag se kos vandaan gaan kom nie,” sê hy.

“Ek wil nooit weer op daardie emosionele plek in my lewe wees waar ek voel dat my dogtertjies by my skoonouers moet gaan bly en my vrou liewer van my moet skei omdat ek useless is nie.”

Dan sit Debbie haar arms vertroostend om Jo. “Debbie is my rots,” sê hy en kyk vir haar. “Ek is ’n nul op ’n kontrak en sy dra my in hierdie moeilike tyd sonder om te wys dat sy soms ook moeg en moedeloos raak.

Alledaagse takies is vir hom deesdae moeiliker om uit te voer as voor die pyn ondraaglik geraak het. Hier help sy vrou, Debbie, hom met die hangverband om sy linkerarm. Een van sy werwels druk op die senuwees wat na die arm lei; daarom is die arm lam. Foto: Martin de Kock.

“Maar ek weet sy cope ook nie elke dag nie; dit raak haar meer as wat sy erken. Sy is die een wat saans wakker word en hoor hoe ek van die pyn kreun. Dit breek haar om te sien hoeveel seer ek het. Sy sê elke dag sy wens sy kan die seer wegvat.

“Sy het deur die swaarste tye by my gestaan en sal liewer weer net van brood leef as dit beteken ek hoef nie meer seer te hê nie.”

Hy skud sy kop. “Maar dit gaan nie oor die geld nie. En ek haat fame. Maar ek voel ek is niks as ek nie op daardie verhoog kan staan en mense se lewe met my stories en liedjies kan verryk nie.”

Nes “ ’n regte rock star”, spot hy, wil hy die dag voor sy operasie nog op die verhoog wees. “Ek gaan op my tande byt en deurdruk, maar op die verhoog sal ek wees tot net voor hulle my die teatersaal binnestoot.’’

Voor die operasie moet hy nog ’n groot besluit neem: oor watter een van twee metodes die chirurg moet volg. Die een metode behels dat ’n snit aan die agterkant van sy nek gemaak word. Dit is ’n langer operasie en dit neem langer om daarvan te herstel.

Die ander metode behels ’n snit aan die keel, naby die adamsappel. Dit is ’n korter operasie met ’n korter hersteltyd, maar ook vir hom die metode met die grootste risiko omdat dit naby aan die senuwees van sy stembande gedoen sal word.

“Boonop sal hulle dan ’n deel van my baard moet afsny; en dis sommer heel­temal laf,” spot hy. Dan erken hy: “Albei metodes hou dieselfde risiko vir skade aan my stembande in. En albei maak my doodbang; daarom bid ek maar.”

Hy wil glo die operasie gaan ’n groot sukses wees, sê Jo, maar tog is hy soms lam van vrees.

‘Debbie is my rots. Ek is ’n nul op ’n kontrak en sy dra my’

“Die meeste sangers se loopbaan begin al op 20 jaar. Ek weet van weinig ander wie se loopbaan eers op 35 begin het. Die idee dat dit die einde kan wees, is vreesaanjaend. Ons het te veel harde jare agter die rug om alles nou prys te gee.

“Ek weet ek moet aanvaar ek kan my stem heeltemal verloor, maar kom net nie tot op daardie punt nie. Ek weet die Here het nie dié wonderlike loopbaan oor my pad gestuur net sodat ek dit nou verloor nie.”

Hy voel ook skuldig oor die minstens 25 konserte in Oktober wat hy nood­gedwonge moet afstel. “Dis vir my ’n groot teleurstelling om soveel konserte te kanselleer, nes dit vir die aanhangers ook gaan wees,” sê hy.

“Ek wil hê mense moet weet hoe erg hierdie ding vir my is; dat dit swaar op my skouers rus om hulle in die steek te laat. Maar die seer het my nou tot op ’n punt gebring waar ek nie meer kan nie. Ek haat op die oomblik elke sekonde van my lewe omdat ek gedurig bewus is van hierdie pyn.

“Weke lank al sit ek met die pyn en in dieselfde tyd kon ek dit nog nie oor my hart kry om vir aanhangers te sê wat binne my broei nie.

“Keer op keer vra ek myself: ‘Wat as?’ En dan raak ek bang.” Maar dan gryp Jo, wat ook ’n motiveringspreker is, na ’n stukkie hoop. 

“Dalk is die Here se plan nie myne nie, maar daarin sal ek dan ook berusting vind. Want eindelik is dit nie ek alleen wat tot hier gekom het nie. 

“Elke tree was net genade.”