Caitlyn Jenner het haar na Instagram gewend en 'n onvleiende foto van haar neus gedeel nadat sy mediese hulp moes kry vir haar sonbeskadigde vel.

"Ek moes onlangs sonskade van my neus laat verwyder. Wend altyd jou sonskermmiddel aan," is die raad wat die gewese Olimpiese atleet (68) by die foto gedeel het.

Waar Caitlyn gewoonlik onberispelik aangetrek en gegrimeer is, het sy dié keer 'n foto gedeel waar sy in 'n wit kamerjas geklee is en geen grimering dra nie.  

Die openhartige plasing het reeds meer as 150 000 reaksies en heelwat kommentaar ontlok.

Paparazzi-foto's wat onlangs in Malibu van Caitlyn geneem is, het glo die roof op haar neus gewys. Sy het saam met haar vriendin en beweerde minnares, Sophia Hutchins (21), gekuier.

Caitlyn en Sophia by die Janie's Fund-gala in Los Angeles, 28 Januarie 2018. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Caitlyn het nog nie uitgebrei oor die aard van die skade nie, maar Better Health sê dit is velkanker wat verwyder is, en dit is glo gedoen om te verhoed dat die kanker versprei.

Nog 'n bekende voer stryd teen kanker

Hugh Jackman van Wolverine-faam moes al ses keer onder die mes deurloop om kanker aan sy gesig te verwyder.

"Danksy gereelde ondersoeke en uitstekende dokters is alles goed en wel. Dit lyk erger met die wondbedekking as daarsonder. Ek sweer! #wearsunscreen."

Bronne: bbc.com, thecrazyhealth.com, dailymail.co.uk