Mandy Moore het die afgelope twee en ’n half jaar floreer. Die voormalige popster speel in die trefferreeks This Is Us en is vir ’n Golden Globe vir haar spel daarin benoem.

Maar die 34-jarige aktrise was onlangs om minder vreugdevolle redes in die nuus.

Skokkende bewerings dat haar eksman, Ryan Adams (44), ’n gedragspatroon van emosionele en verbale mishandeling toon, het verlede maand die musiekbedryf geruk. Boonop het hy na bewering ’n onvanpaste verhouding op die internet met ’n tienermeisie gehad, 'n 14-jarige bewonderaar wat net as Ava bekend staan.

Mandy se eksman, Ryan Adams (44). Foto: Gallo Imag
Mandy se eksman, Ryan Adams. Foto: Gallo Images/Getty Images

'Ek verdrink'

Mandy het glo ook onder die Grammybekroonde sanger-liedjieskrywer deurgeloop.

“Ek het my lewe vir hom gelei. Ek het geen selfbeeld gehad nie,” het sy oor haar huwelik van sewe jaar gesê wat in 2016 beëindig is.

“Ek het gevoel asof ek verdrink. Ek was eensaam saam met hom.

“My beste vriendin het destyds nog aan my gesê: ‘Jy sal nie kan werk of enige greintjie sukses kan behaal terwyl jy in dié huwelik is nie,’ ” het Mandy vertel.

“Ek onthou ek het dit toe afgemaak as niks, maar tog het ek ook saamgestem. En ses maande nadat die skei­saak af­gehandel is, het ek die rol in die reeks gekry.”

'n Beheervraat en emosionele boelie

Intussen is Ryan se toer na die Verenigde Koninkryk en Ierland, wat op 30 Maart sou afskop, gekanselleer nadat talle vroue hom van wangedrag beskuldig het. Sewe vroue, waaronder Phoebe Bridgers en Courney Jaye, beweer hy het beloftes gemaak om hul sangloopbane te bevorder, maar kort voor lank het seksuele, en by tye verbale, mishandeling gevolg.

Hy ontken alle aantygings.

Ook Megan Butterworth, sy eksverloofde, het hom as 'n beheervraat en emosionele boelie beskryf. Toe hulle verhouding in 2018 verbrokkel het, het hy haar met honderde teksboodskappe, oproepe en e-posse bombardeer.

Ryan het reeds 16 albums uitgegee en is sewe keer vir 'n Grammy benoem.

Bronne: hollywoodreporter.com, nytimes.com, channel24.co.za

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!