Die aanbieder van die Michael McIntyre’s The Big Show het vir sy twee seuns, Lucas (13) en Oscar (10), buite hul skool in Golders Green, in die noorde van Londen, gewag toe die aanval gistermiddag ongeveer tweeuur gebeur, berig Daily Mail.

Michael (42) het glo in sy Range Rover, wat sowat R2 miljoen werd is, gesit toe die gemaskerde bromponieryers daar aankom en die ruit aan sy kant met 'n hamer uitslaan. Hulle het sy Rolex-horlosie van sowat R251 392 van sy gewrig af gegryp. Alles het vinnig gebeur; die aanval het sowat 30 sekondes geduur. 

'n Ooggetuie het aan Daily Mail vertel Michael het tydens die aanval uit die voertuig geval en dit het gelyk asof hy probeer om met hulle te baklei.

'n Vriend van die komediant het laat weet hy is erg geskok deur die hele ervaring.

Michael, wat tans besig is met sy Big World-toer in die Verenigde Koninkryk, is buite die skool afgeneem waar hy een van sy seuns vasdruk. Sy vrou, Kitty, is naby die beskadigde voertuig in trane gesien.

Ander ouers wat tydens die aanval by die skool was, het hom te hulp gesnel en volgens een van hulle het hy geskok gesê: “Ek moet uitvind wat die beste ding hier is om te doen.” 

Volgens Daily Mail is dit nie bekend of die komediant of sy voertuig die teiken was nie, maar dit lyk asof hy net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek was. 

Die Londense polisie het omstreeks tweeuur 'n oproep gekry oor 'n rooftog in Noord-Londen, berig BBC. Volgens die polisie is geen besering aangemeld nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie. 

'n Woordvoerder vir Michael het volgens The Guardian nie Maandag op versoeke om kommentaar gereageer nie. Sy agent het wel aan The Sun gesê: “Michael was by 'n voorval met gewapende rowers betrokke. Hy is ongedeerd en help die polisie met hul ondersoek.”

Die gemaskerde bromponieryers is 'n bekende bendegroep wat al jare lank in Londen bedrywig is. Sowat 23 000 voorvalle is verlede jaar aangemeld. Die syfer het drasties gestyg van net 827 aanvalle in 2012.

Bronne: Daily Mail, The Sun, The Guardian, BBC