Diana het 25 jaar gelede in ’n onderhoud vir sir Max Hastings, die voormalige redakteur van die Daily Telegraph, vertel hoe sy werklik oor haar man gevoel het. Maar Max het niks daarvan gepubliseer nie. Hy wou die “stil hou” om ’n groot koninklike skandaal te voorkom.

Max, wat in 2002 tot ridder geslaan is vir sy werk in die joernalistiek, sê in die dokkie Diana: The Truth Behind the Interview hy het ure met Diana deurgebring in 1995, ’n jaar voor sy aangekondig het sy gaan van prins Charles skei.

Die ma van twee het na sy huis in Berkshire op die platteland gery en hulle het ’n paar uur saam deurgebring, waartydens sy haar hart teenoor hom uitgestort het.

“Dit het eerstens duidelik geword hoeveel sy Charles gehaat het . . . Ja, sy het Charles gehaat,” sê Max in die dokkie. “Toe ek sê: Was daar ooit gelukkige tye?’ het sy geantwoord: ‘Nee, die huwelik was van dag een af hel.’

“Ek was verstom met die openhartige, direkte manier waarmee sy dit gesê het. Sy het gesê al waaroor sy omgee, was William se troonopvolging, en sy het vir my uitdruklik gesê: ‘Ek dink nie Charles kan dit doen nie.’ Die uitkoms wat sy wou sien, was vir Charles om opsy te staan as opvolger en vir William om die troon te bestyg. Dit was nogal dinamies.” 

Sir Max Hastings
Sir Max Hastings. Foto: Gallo Images/Getty Images

Max het verduidelik hoekom hy nie besonderhede van hul gesprek gepubliseer het nie. “Ek het gevoel my werk was om die ergste hiervan stil te hou, eerder as om dit te ontbloot.”

Maar sy moeite was vergeefs, want drie maande later het Diana self met die sak patats oor haar mislukte huwelik uitgekom.

In die nou berugte televisieonderhoud met die BBC-joernalis Martin Bashir, het Diana erken “daar was drie van ons in hierdie huwelik, so dit was ’n bietjie oorvol”. 

Die nuwe dokumentêr bevat bewerings oor Martin, insluitend hoe hy “vervalste” bankstate aan Diana se broer, Charles Spencer, gewys het in ’n poging om hom genoeg te beïndruk om ’n ontmoeting met sy suster te reël.

prinses Diana
Prinses Diana in haar jong dae. Foto: Gallo Images/Getty Images

Max sê hy het vir Diana gesê hy voel “ongelooflike gevlei” dat sy “al die pad na die platteland gekom het om met my te praat”. Haar antwoord was dat sy “ongelooflik angstig daaroor is dat my kant van die storie uitkom”.

“Diana het baie dinge op verskeie geleenthede gesê wat ek gedink het is twak. Sy het my gevra wat ek weet omtrent ’n komplot om van haar ontslae te raak. 

“Ek het gesê dit klink absoluut waansinnig vir my. Maar ek dink sy het soortvan daardie dinge geglo, en dit was een van baie, baie dinge wat jou baie jammer vir haar laat voel het . . . daardie kwesbaarheid.

Diana is in 1997 op 36 in 'n motorongeluk in Parys oorlede.

’n Woordvoerder vir die BBC het die bewerings teen Martin (57) afgemaak. “’n Handgeskrewe nota van prinses Diana het getuig van die feit dat die prinses nie die ‘vervalste’ bankstate gesien het nie en dat dit geen rol gespeel het in haar besluit om die onderhoud toe te staan nie.

“Martin is siek met covid-19-verwante komplikasies, en ons kan nie enige van hierdie vrae aan hom voorlê nie.”

Bronne: dailymail.co.uk, thesun.co.uk