Hulle het 2020 as wittebroodspaar in Viëtnam binnegegaan, vol planne vir die nuwe jaar en met dagboeke wat van inskrywings vir opwindende projekte wemel.

Min het die aktrise Cintaine Schutte en haar akteur-man, Carel Nel, toe geweet hulle sal in hul eerste huweliksjaar maande lank saam ingeperk word terwyl die coronaviruskrisis TV- en rolprentproduksies tot stilstand laat ruk en verhoogoptredes saam met kunstefeeste gekanselleer word.

Tog is daar in die donker tyd van die covid-19-pandemie een ligpunt vir Cintaine (33): Dit het haar nog groter sekerheid gegee oor haar keuse van ’n lewensmaat.

“Carel was ’n ongelooflike rots in dié tyd,” vertel die aktrise, wat veral bekend is vir haar rol as Katrien Nienaber in die kykNET-dramareeks Fynskrif, waarvan die derde seisoen onlangs geëindig het.

“Eendag sal ek plat op die vloer lê en die volgende dag dans, en hy was net hierdie sterk rots. As ek oor iets bekommerd is, sal hy vra: ‘Het jy beheer daaroor? Waaroor het jy wel beheer?’ ”

In die eerste seisoen van Fynskrif het Carel (35) die rol vertolk van Sam, die vuurvreterprokureur Katrien se kunstenaar-kêrel.

Cintaine Schutte
Cintaine en die akteur Neels van Jaarsveld in ’n toneel uit die kykNET-dramareeks Fyn­skrif, waarin sy Katrien speel. Foto: KykNet

Toe haar karakter hom vra om met haar te trou, het hy die aanbod van die hand gewys en boonop gebieg hy het haar verkul.

In die werklike lewe het Carel die vrawerk gedoen – ewe romanties teen sonsondergang aan die voet van Leeukop toe hulle in September 2018 die sewende herdenking van hul verhouding met ’n piekniek daar gevier het.

Verlede November is hulle in die Kaapse middestad getroud. Van Desember tot middel Januarie het hulle in Thailand en Viëtnam wittebrood gehou.

Hulle was skaars twee maande tuis toe die inperking afgekondig word. Carel was op ’n stel naby Knysna besig om aan ’n fliek te werk toe hy die nuus hoor.

Daar was nog nege dae se verfilming oor, maar hy moes inderhaas Kaapstad toe terugkeer. “Ek was by die Woordfees op Stellenbosch toe alles begin en ek die nuus kry dat die KKNK afgestel is,” onthou Cintaine.

Daar het sy in Die dinge van ’n kind gespeel, ’n verhoogstuk wat op Marita van der Vyver se roman gegrond is, en ook in Tienduisend ton saam met Albert Pretorius. Albei stukke sou ook op die KKNK opgevoer word.

Kort daarna het die e-pos en oproepe begin instroom oor nog projekte wat gekanselleer word. “Die wind was uit my seile en die mat onder my voete uitgeruk,” vertel die aktrise.

“Die onsekerheid was so sleg – en al jou werk verdwyn. Álles.” In die weke van onsekerheid terwyl die inperking voortgesleep het, was die pasgetroude paar mekaar se steunpilaar.

“Ons het mekaar gevra: ‘Hoe voel jy vandag?’ Die ander een sal dalk antwoord: ‘20%. Hoe voel jý?’ ‘60%.’ Dan sou ons weet ons het 80% tussen ons en dat een van ons daardie ekstra 20% moet gee.”

Cintaine Schutte
Sy vertel hy was vir haar ’n steun­pilaar in al die onsekerheid van die afgelope maande. Foto: Instagram/@cintaineschutte

Gelukkig begin lig nou weer deur die donker wolke breek, en Cintaine is opgewonde daaroor om weer te kan werk noudat plaaslike verfilming weer mag geskied.

Met haar eerlike glimlag erken sy: “Ek sou nie sê ek voel sterk en rustig nie, maar hier en daar begin dinge weer gebeur. Ek doen waarvoor ek lief is, en ek kom uit.

“Daar gebeur regtig iets wonderliks wanneer jy rondom kreatiewe mense is. My gemoed is dus goed.”

In haar kenmerkende donker hare is blink ligte sonstrepies waar Cintaine in haar en Carel se woonstel in Tuine in die hartjie van Kaapstad met Huisgenoot gesels.

“Dis vir ’n rol,” sê sy gou wanneer jy haar daaroor vra.

“Ek is eintlik mos maar ’n Plain Jane, en dis nie iets wat ek uit my eie uit sou doen nie. Carel sê ek kan netsowel hierna heeltemal blond word, maar ek sal maar nog sien. Ek skrik nog so ’n bietjie wanneer ek vir myself in die spieël kyk,” erken sy.

Oor die nuwe projek kan sy nie nou meer verklap nie, maar kykers kan daarna uitsien om haar en ook Carel later vanjaar in die kykNET-reeks Ekstra medium te sien, al is dit nie dié keer as ’n paartjie nie. Sy geniet dit om teenoor haar wederhelf te speel.

“Ek en Carel het ’n shorthand met mekaar. Ons het al so baie saamgewerk, en ek kan net in sy oë kyk om te weet wat hy bedoel.”

Hy is veral bekend vir sy rol as prof. Christiaan Barnard in die dokkiedrama Hartstog oor die wêreldberoemde hartchirurg. Carel het ook al as ’n hawelose skisofreen in die kykNET-reeks Dwaalster verskyn.

Hy kon intussen klaar skiet aan die rolprent waaraan hy voor die inperking gewerk het. In die byna nege jaar dat hulle saam is, het sy Carel al goed leer ken.

Tog sê Cintaine ’n mens sal nooit kan raai hoe jou maat gaan reageer wanneer julle julself in ’n ongekende uitdaging soos ’n pandemie en inperking bevind nie.

“Ek is regtig eerlik wanneer ek sê dit het baie goed met ons gegaan. Hy het my vasgehou, en die afgelope ses maande het ons sterker gemaak as ooit.”

In die inperking het hulle saans saam kos gemaak en Dinsdagaande voor die TV ingeskuif om Fynskrif te kyk, vertel sy.

“Dit was lekker om dit saam te kyk, veral omdat hy geweet het wanneer ek met ’n toneel gesukkel of wanneer daar iets op die stel gebeur het.”

Die rol van Katrien was vir haar ’n hoogtepunt in haar loopbaan.

“Waar gaan ek weer die geleentheid kry om drie seisoene lank ’n hoofkarakter met soveel diepte te speel? Jy kon regtig in die hoeke van Katrien se hart gaan kuier.”

Cintaine Schutte
Cintaine en haar akteur-man, Carel Nel, het in November verlede jaar getrou. Foto: Instagram/@carelnel

In Cintaine se eie gemoed moes sy kalmte kry te midde van die pandemie wat Suid-Afrika soos ’n stille storm getref het.

“ ’n Mens kan so maklik dink, ja, jy het ’n dak oor jou kop en daar is mense met wie dit so sleg gaan en dat jy nie mismoedig mag wees nie, maar jou werklikheid is ook belangrik. Ek het êrens gelees jou hart is wie jy is en jou kop is waar jy bly. Ek het daaraan probeer vashou in dié tyd.”

Sy het nog nooit tevore in haar lewe so baie gemediteer en joga gedoen soos tydens die inperking nie. “Daar is dinge wat ek van myself geleer het wat nie eens terapie kon doen nie,” vertel sy speels.

Mettertyd het die onsekerheid en kommer oor die dag van môre vir berusting en aanvaarding plek gemaak.

“Dit het amper vir my gevoel asof ek ’n wapenrusting kry met ’n skild en ’n swaard en ’n helm. ’n E-pos sou deurkom wat sê iets gebeur, en dan ’n rukkie later weer een wat sê: Nee, wag eers ’n bietjie. Iemand sal vra hoe my skedule lyk vir iets en dan weer later, nee, wag so ’n bietjie.”

Daar het ’n gelatenheid oor haar gekom, en wanneer sy nou in haar dagboek kyk en dinge sien wat sou gebeur het, trek sy dit net dood sonder om te veel daaroor te wroeg.

“Jy kan nie meer ontsteld raak daaroor nie, want dit is nie meer ’n werklikheid nie. Anders sal dit jou mal maak. Ná ’n ruk word jy sterker en besef wat moet gebeur, sal gebeur.”

Ondanks die huidige uitdagings is sy opgewonde oor die moontlikhede wat die toneelbedryf inhou, om te kan werk en deel daarvan te wees, sê Cintaine.

Sy hoop om binnekort met Die dinge van ’n kind te gaan toer. “Die gehore sal klein wees, maar dit maak nie saak nie. Die storie moet vertel word.”

Haar hoop vir die mensdom in dié jaar van die coronavirus is dat ons empatie vir mekaar sal kweek.

“Dis iets waaraan ek vashou – empatie. Of dit nou met die man op straat, die dokter in die hospitaal of met die kunstenaar is. Ons almal het ons eie werklikheid en ons eie stem. Ons is dalk nie in dieselfde bootjie nie, maar ons is almal in dieselfde storm.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe