Francois Henning, oftewel Snotkop, by sy huis in S
Francois Henning, oftewel Snotkop, by sy huis op Southbroom. Foto: Darren Stewart.

“Gou ’n paar bene gebreek die naweek,” skryf Francois Henning, beter bekend as Snotkop, in die sosiale media. “Ek moet dankie sê aan al die wonderlike personeel by Netcare Margate wat so mooi na my kyk, julle is genuine engele!” voeg hy by.

Dié video is oornag byna 20 000 keer op Instagram en 25 000 keer op Facebook gekyk en honderde boodskappe van beterskap en seënwense het onmiddellik begin instroom. 

“Ek is tans in heavy baie pyn, maar ek sterk tuis aan,” vertel Francois aan Huisgenoot.
Francois is Woensdag ná vier dae uit die hospitaal ontslaan, maar is nog nie seker wat die herstelpad vorentoe inhou nie.

“Die dokter het wel gesê ek sal oor twee weke vir ’n tweede operasie moet gaan,” sê hy.

Vir nou vat hy sy alter ego se raad wat hy in sy treffer “Raak vir my rustig” sing en probeer ontspan.

Die sanger was op pad strand toe van sy huis op Southbroom aan die KwaZulu-Natalse suidkus met sy elektriese fiets (e-bike) toe die ongeluk gebeur het.
View this post on Instagram

A post shared by Snotkop (@snotkop)

“Ek het Vrydagmiddag gery om vriende vir ’n sundowner te gaan ontmoet. Ek het teen ’n afdraande teen sowat 40 km/h vir iets in die pad uitgeswaai en beheer oor die fiets verloor,” vertel Francois.

“Ek is toe vooroor en bo-oor die fiets geslinger en het met my regterarm probeer om die val te keer.”

Dit is met dié poging waar hy sy gewrig “ernstig en morsaf” gebreek het, sy skouer “lelik seergemaak het” en ’n hele paar diep snye oor sy bene en lyf opgedoen het.

“Ek is onmiddellik na die ongevalleafdeling van die hospitaal geneem en die volgende dag geopereer om my hand terug in posisie te skuif en my gewrig aanmekaar te sit en met staalpenne en -plate te steun,” vertel Francois.
 Al het die pyn nog nie bedaar nie en al lê daar nog ’n tweede operasie voor, is Francois dankbaar vir die ondersteuning wat hy ontvang.

“Ek is baie dankbaar, want ek weet dit kon baie erger gewees het en nog meer dankbaar vir almal wat my die beste in die sosiale media toewens,” sê sy.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.