Francois Henning, oftewel Snotkop, poseer vir 'n f
Francois Henning, oftewel Snotkop, poseer vir ’n foto in sy huis op Southbroom voor twee skilderye wat hy self geverf het. Foto: Darren Stewart.

“Die dokter is baie gelukkig met die uitkoms en ons hou die vordering fyn dop,” vertel Francois aan Huisgenoot.

“Ons sal kyk hoe my hand en gewrig genees en dan besluit of daar enige verdere operasies nodig is,” sê hy.

Die "Souserig"-sanger moet nou tuis aansterk nadat hy oor die naweek die operasie ondergaan het. 

Francois het op Vrydag 26 Maart met ’n elektriese fiets (e-bike) van sy huis op Southbroom, KwaZulu-Natal, strand toe gery toe hy vir iets in die pad uitgeswaai het en beheer oor die fiets verloor het.

Hy is toe holderstebolder bo-oor die fiets geslinger en het sy regtergewrig en -skouer ernstig beseer.

“Die eerste operasie het ’n dag ná die ongeluk gebeur, toe hulle staalpenne in my hand en gewrig gesit het om die bene en alles te stabiliseer,” verduidelik Francois.

“Met die tweede operasie wat oor die naweek plaasgevind het, is ’n titaniumplaat in my gewrig gesit om alles bymekaar te hou en te verseker dat die bene soos tevore weer aanmekaar sal groei,” voeg hy by.

Francois sterk tans tuis aan.
Francois sterk tans tuis aan. Foto: Verskaf.

Hy vertel dat die pyn in sy gewrig steeds baie erg is en dat sy hand rehabilitasie gaan benodig omdat dit nog stokstyf staan.

“Van my vingers het tans geen gevoel nie en iets so eenvoudig soos om my vingerpunte met my duim te raak is nou onmoontlik en ek sal van voor af moet leer hoe om dit te doen,” vertel Francois.

“Die hand en gewrig moet ook weer sterk word, maar ek sien daagliks hoe my hand en gewrig verbeter, so ek bly positief,” sê hy.

Al probeer hy optimisties bly, is dit hierdie stramheid wat hom veral oor sy kuns bekommerd maak.

“My grootste vrees is dat ek nie sal kan onthou of weet hoe om te skilder as ek weer ’n verfkwas optel nie. Dat ek nie weer die kwashale sal kan uitvoer soos vantevore nie, of dat ek nie weer beeldhou- of keramiekwerk kan doen nie,” vertel Francois.

“Maar ek gaan my alles gee en hard werk om seker te maak dat dit reg uitwerk met baie fisioterapie, oefeninge en my amazing dokter se hulp,” sê hy.

Ten midde hierdie moeilike en onsekere tye is dit sy aanhangers se ondersteuning en seënwense wat hom dra en positief hou.

“Ek het geskenke en briewe van reg oor die land ontvang en duisende boodskappe in die sosiale media of per e-pos gekry. Ek is baie gelukkig om soveel liefde en ondersteuning te ervaar. Dit is surreal,” sê Francois.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.