Nadat hulle net sewe maande uitgegaan het, het die Jurassic World-ster die nuus op Instagram bekendgemaak met ’n oulike foto waarop hy en die 29-jarige skrywer mekaar soen.

Chris se vyfjarige seun, Jack, het by die verliefde duifies aangesluit toe hulle hul verlowing met ’n romantiese vakansie in Cabo San Lucas, Mexiko, gevier het.

Die twee – wat glo deur Katherine se ma, die 63-jarige joernalis Maria Shriver, aan mekaar voorgestel is – is verlede Junie die eerste keer saam gesien.

Hulle het eers verlede maand hul romanse amptelik gemaak toe Chris (39) sy meisie op Instagram met haar verjaardag gelukwens.

Die warrelwindverlowing kom amper ’n jaar-en-’n-half nadat Chris aangekondig het hy en die Mom-aktrise Anna Faris (42), se paadjies skei en net drie maande nadat die egpaar se egskeiding afgehandel is.

Anna het aan Entertainment Tonight gesê Chris het haar self van die groot verwikkeling ingelig.

“Hy het vanoggend vir my ’n boodskap gestuur en laat weet: ‘Ek het gisteraand vir Katherine gevra om met my te trou'.

 “En ek het geantwoord: ‘Dis wonderlik,’ en hom daaraan herinner dat ek mense in die huwelik kan bevestig."

Bronne: people.com, etonline.comfoxnews.com