Die 56-jarige akteur het sy vrou, Amal, se 40ste verjaardag gevier met ’n wegbreek van 24 uur na die asemrowende kusgebied Big Sur in Kalifornië, berig Us Magazine.

“George het Amal Saterdagmiddag, op haar verjaardag, op ’n privaat straler van Los Angeles na Big Sur geneem,” vertel ’n bron aan die tydskrif. 

“Hulle was alleen; die tweeling was nie saam nie. Hulle het die volgende dag omtrent dieselfde tyd teruggekeer. Dit was ’n vinnige 24 uur-wegbreek vir die paartjie.”

Dit was Amal se eerste verjaardag sedert die paartjie se agt maande oue tweeling, Ella en Alexander, in Junie verlede jaar gebore is.

Volgens die tydskrif People het die Ocean’s Eleven-akteur onlangs vir die eerste keer gepraat oor hoe hy en Amal mekaar ontmoet het. Die hartebreker het vertel die menseregteprokureur het in 2013 saam met ’n gemeenskaplike vriend by sy huis gekuier.

“ ’n Gemeenskaplike vriend het gesê: ‘Ek kom maak gou ’n draai. Kan ek my vriendin saambring?’ ” vertel George. “En ek het gesê: ‘Natuurlik!’

“My ma en pa het ook daar gekuier en ons het net gesels; ons het heelnag wakker gebly en gesels.”

Bronne: usmagazine.com, harpersbazaar.com.au, people.com