Vir veertien jaar lank het hy elke dag in ons voorkamer gekuier toe hy deel was van van Hillside se lief en leed. Maar as jy vandag verby Chris Vorster stap wat die rol van Ryno Lategan in die sepie 7de Laan vertolk het, sal jy hom amper nie herken nie.

Die akteur en skrywer spog deesdae met 'n welige Kersvader-baard en die blonde Ryno wat ons leer ken het se hare is deesdae silwer.

Chris Vorster by die KKNK op Oudtshoorn. Foto: Misha Jordaan

Die 48-jarige akteur groei die baard darem nie vir geen rede nie. Hy is vanjaar te sien by die Klein Karoo Kunstefees (KKNK) vir die produksie Manne waarin hy die rol van, Daan, 'n veel ouer karakter, vertolk.

"Maar hy gaan binnekort waai," vertel Chris vir en vat aan sy grys baard. "My vrou kan dit nie meer hou nie."

Hy het die baard al 'n paar maande en vertel dit is ongelooflik om te beleef hoe groot die subkultuur van baarde is. "Die die eerste keer wat ek na 'n barbier toe gaan en as jy daar gaan sit is dit net al hierdie sexy girls wat jou baard en jou hare sny."

Chris en sy familie woon sedert Januarie 2015 in die Rosestad en sê hy is gelukkiger as ooit. Hy is 'n dosent by Kovies by die universiteit se dramadepartement se oudiovisuele-eenheid, maar hy doen steeds baie skryfwerk. Hy het onder meer die teks en regie vir Manne behartig, asook gedeeltelik die van Marion Holm se eenmanstuk, Operasie Holm, wat by die KKNK gedebuteer het.

In Manne speel Chris saam met van sy oud kollegas soos Theodore Jantjies wat die rol van Xander Meintjies in 7de Laan vertolk, Hennie Jacobs wat Diederik Greyling speel en Francois Lensley wat die rol Marco Greyling vertolk.

//..MANNE oppad @kknkfees toe..

A post shared by Theodore Jantjies (@theodore_jantjies) on

"Dis regtig fantasties om saam met hulle te werk. Ek het al baie vir Hennie in baie vertonings gebruik, maar Theo het so ongelooflike oudisie gedoen ek kon nie anders om hom te cast nie. So ook Francois.

Hy was nog nooit voorheen op die verhoog nie en hy doen fantastiese werk. Ek wou nie 'n hele 7de Laan cast hê nie, maar hulle het my totaal verras."

Hy vertel die klomp manne kuier verskriklik lekker saam wanneer hulle repiteer of by 'n fees is. "Hulle is so 'n klomp fantastiese ouens en elkeen het so unieke karakter. Dit maak die werksproses net soveel lekkerder."

Chris sê hy is baie dankbaar dat hulle die moed gehad het om die skuif Bloemfontein toe te maak. 

"Ek weet dit is so geyk, maar in Gauteng... daardie ratrace sluk jou in. Jy weet nie hoe hard jy werk en hoe gedrewe jy is. Jy gaan van die een ding na die ander en dan sit jy in daai verkeer. Jy moet eers uit dit uit kom om te sien... My land, wat het ek gedoen!"

Hy geniet dit ook vreeslik baie om klas te gee, veral omdat hy saam met so baie leergierige studente te werk. "Dit is vir my 'n verskriklike goeie ervaring en ek leer baie by hulle."

Chris Vorster woon al vir drie jaar in Bloemfontein saam met sy gesin. Foto: Misha Jordaan

Deesdae het hy die luukse om elke oggend saam my sy vrou, Liza, ontbyt te eet en tydens middagetes gaan swem hy in die universiteitswembad. "Dit maak 'n hengse verskil om daardie gewone goed te doen wat veronderstel is om deel te wees van die lewe.  

"In Gauteng het ek omtrent elke dag 'n hoofpynpil gedrink as gevolg van spanning. Ek weet nie wanneer laas ek n hoofpyn in Bloemfontein gehad het nie. Dis net 'n ander lewe."