Hy lyk nes enige doodgewone sorgelose jong seun wat die tyd op ’n strand in die sonnige suide van Frankryk geniet, maar die blou bloed wat deur sy are pomp, maak hom tog ietwat anders as die deursneetiener.

Dié aantreklike seun is immers die kind van prins Albert van Monaco; een wat gebore is uit die romanse wat die prins in die laat 1990’s en vroeë 2000’s met Nicole Coste gehad het.

Alexandre Grimaldi-Coste, wat vandeesmaand 16 word, het sy somervakansie saam met sy ma deurgebring in St. Tropez, skaars ’n uur se ry van die prentjiemooi prinsdom waaroor sy pa heers.

Maar dis onwaarskynlik dat dié tienerseun sy pa gesien het. Alexandre, wat saam met sy ma, ’n modeontwerper, in Londen woon, het geen titel nie en is nie op die lys van aanspraakmakers op die troon nie – daardie eer gaan net aan Albert se kinders wat binne die eg gebore is.

Nicole en haar seun Alexandre
Nicole Coste en haar seun Alexandre. Foto's: Realtime Images

Sy tweeling, Jacques en Gabriella, uit sy huwelik met prinses Charlene (41) is nou vier jaar oud. Volgens Nicole (47) het die prins en sy eersgebore seun nie ’n hegte band nie.

Tog word hy volgens die Europese konvensie oor menseregte as erfgenaam van Albert se persoonlike fortuin, glo byna R14 miljard, ingesluit. Hy is nie al ander kind wat op ’n deel van hierdie aansienlike erfporsie geregtig is nie.

Albert het ook ’n 27-jarige dogter, Jazmin Grace Grimaldi; ’n jong vrou wat skynbaar iets van haar familie aan vaderskant geërf het: haar ouma wyle prinses Grace se passie vir toneelspel.

 Tamara Jean Rotolo en haar dogter
Tamara Jean Rotolo eh haar dogter Jazmin. Foto's: Gallo Images/Getty Images

Jazmin het onlangs ’n rol in die derde seisoen van die komediereeks The Marvelous Mrs. Maisel gekry en het op Instagram hulde aan haar oumas gebring.

“Ná my onlangse akteurswerk kon ek nie help om op ’n nostalgietoer te gaan en inspirasie van my beeldskone oumas, Grace en Jean, te put nie. Ek mis en is lief vir julle albei,” het sy geskryf.

Sosialemediagebruikers het dadelik daarop gewys Jazmin is blond en beeldskoon nes haar ouma Grace wat in die 1950’s Hollywood op hol gehad het voor sy haar loopbaan prysgegee het om met prins Rainier van Monaco te trou.

Jazmin en Alexandre is destyds albei tydens Albert se fleur as rondritsende enkellopende verwek. Jazmin se Amerikaanse ma, Tamara Jean Rotolo (nou 57), ’n voormalige kelnerin, was in 1991 op ’n drie weke lange vakansie in die Franse Riviera toe sy en Albert ’n kortstondige romanse gehad het.

Met haar terugkeer na Amerika het sy ontdek sy is swanger. Sy en Albert het steeds oor die foon gesels, het sy al in ’n onderhoud gesê. Maar toe Jazmin in 1992 gebore is, het hul kontak verminder.

Prins Albert en Claudia
In Albert se fleur as enkel­lopende het hy met van die wêreld se mooiste vroue uitgehang, insluitend die oudsupermodelle Claudia Schiffer. Foto: Gallo Images/Getty Images

Tamara het ’n regsgeding aanhangig gemaak waarin sy die prins se vaderskap aangekondig en kinderonderhoud gevra het, maar ’n regter het dit op jurisdiksionele gronde van die hand gewys.

Tamara het later haar prokureur gedagvaar omdat dié haar nie aangeraai het om die saak in Monaco pleks van Amerika te maak nie.

Ten spyte van al die drama het Jazmin normale grootwordjare gehad in Palm Desert, Kalifornië, waar sy ’n Katolieke skool bygewoon en in sport, drama en musiek uitgeblink het.

In 2006, toe sy 14 was, het Albert formeel vaderskap erken.

Sy prokureur, Thierry Lacoste, het gesê die prins het beplan om dit geheim te hou tot sy volwassenheid bereik het, maar “toenemende openbare bespiegeling oor wie haar pa is, het die situasie onuithoudbaar” vir die jong meisie gemaak.

Mense in die binnekring beskryf Jazmin as “ ’n volwasse, dierbare en intelligente meisie” en dit lyk of sy deesdae ’n hegte band met haar koninklike pa het.

Sy is in 2012 die eerste keer in die openbaar saam met hom by die Prinses Grace-stigting-prysuitdeling in New York gewaar. Haar Deurlugtige Hoogheid prinses Charlene was ook daar. Jazmin reis glo ook gereeld na die Prins Se Paleis vir kuiers en het verlede jaar Albert se 60ste verjaardag bygewoon.

Sy het in 2015 haar eerste openbare onderhoud oor haar pa aan die tydskrif Harper’s Bazaar toegestaan en verklap sy het hom die eerste keer op 11 ontmoet. “Ek en my ma het na Monaco gereis om hom te ontmoet,” het sy gesê.

“Ek wou daardie oomblik hê om my pa te leer ken, en vir hom om my te leer ken. “Ek het nie ’n vaderfiguur in my lewe gehad nie en het dit gemis. Dis wonderlik dat dit gebeur het, en ons het sedertdien ’n wonderlike verhouding.”

Prins Albert en Naomi Campbell
Naomi Campbell en prins Phillip. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hoewel sy nooit haar beroemde ouma ontmoet het nie – Grace is in 1982 in ’n motorongeluk dood – sê sy sy het “ ’n band” gevoel toe sy haar in die 1956-fliek High Society teenoor Bing Crosby en Frank Sinatra sien speel het.

“Ek is passievol oor toneelspel, dans en sing. Dit was ’n regte hoendervel-oomblik.”

Albert se verhouding met Alexandre se ma was ernstiger as die een met Tamara.

Hy het Nicole in 1997 ontmoet op ’n vlug na Parys, waar sy as ’n lugwaardin gewerk het. “Ek was nie eens veronderstel om op daardie vlug te wees nie,” het sy in ’n onderhoud met Mail on Sunday gesê.

“Ek het vir ’n kollega ingestaan.” Die twee was dadelik aangetrokke tot mekaar.

“Ek het altyd in eersteklas gewerk en was daaraan gewoond om met belangrike mense om te gaan. Maar toe ek Albert sien, het ons oë ontmoet en ek het geweet hierdie keer is anders. Ons het dadelik gekliek. Ek het gedink hy’s aantreklik en hy’t ’n vonkel in sy oog gehad.”

Die prins was bekoor deur die skoonheid wat op 15 haar tuisland, Togo in Wes-Afrika, vir Parys verruil het. Nicole en Albert het ’n geheime verhouding aangeknoop wat vyf jaar geduur het, en eers toe hul uitmekaar is, het Nicole ontdek sy is swanger. Alexandre is in Augustus 2003 gebore.

Die seun se bestaan was ’n digbewaarde geheim tot die Franse tydskrif Paris Match foto’s van die prins met sy toe 22 maande oue seun gepubliseer het, minder as ’n maand ná Albert se pa, prins Rainier, se dood in April 2005.

Prins Albert en Prinses Charlene
Albert saam met sy vrou, Char­lene, en hul tweeling, Jacques en Gabriella, tydens ’n geleentheid vroeër vanjaar. Hy is nou ’n gelukkige gesinsman. Foto: Gallo Images/Getty Images

Albert het die tydskrif suksesvol vir privaatheidskending gedagvaar. Hy het in die openbaar vaderskap van die seuntjie in Julie daardie jaar erken “omdat hy sy verantwoordelikhede wou konfronteer”.

“Daar sal goed na Alexandre omgesien word,” het Albert in 2006 aan die Amerikaanse geselsprogramaanbieder Larry King gesê. Maar dit lyk of Nicole nie tevrede was nie. “Ek voel nie ek kan hom meer kontak nie,” het sy gesê.

“Daar steek meer in pa-wees as net geld. ’n Seun het ’n pa nodig om hom lief te hê, te help en deur die lewe te lei. Ons moet ’n manier kry om dit te laat gebeur.”

En nou is daardie seuntjie van destyds ’n opgeskote tiener, en amper ’n man. 

Bronne: Dailymail.com, HelloMagazine.com, ImDb, Instagram, TheGaurdian.com, BBC.co.uk