Hulle kom uit verskillende wêrelde – twee beeldskone brunette wat albei die hart van ’n Engelse prins gesteel het.

Al is Kate sonder ’n titel gebore, is sy so Brits soos komkommertoebroodjies, terwyl haar aanstaande skoonsus, die Amerikaanse aktrise Meghan Markle, die glanswêreld van TV-stelle veel beter ken as koninklike protokol.

Gelukkig kon Meghan ’n bondgenoot vind in iemand wat presies weet hoe dit voel om by die Britse koningshuis in te trou en wat deurgaans net haar beste voetjie voorsit: die nimlike Kate, die hertogin van Cambridge.

Waarnemers voorspel selfs die ewe stylvolle Meghan kan nog die hertogin in die skadu stel.

HUL PAADJIES NA DIE PALEIS

Prins William (35) en Kate (36) se romanse het ontluik terwyl hulle aan die St. Andrews-universiteit in Skotland studeer het. Hulle het ’n slag uitgemaak en weer opgemaak voor hy haar ná ’n jare lange verhouding die jawoord gevra het.

Dié lang gewag het haar die onvleiende bynaam “Waity Katie” besorg.

Prins William en Kate Middleton se amptelike foto’s van 2010.

Daarteenoor het prins Harry (33) en Meghan (36) gou ernstig geraak. Bygesê: Die rooikopprins en sy droomvrou het mekaar ontmoet toe albei al oor die 30 was.

Hulle was minder as twee jaar lank ’n paartjie toe hulle aankondig hulle gaan trou. Al is Meghan ’n lang wag op ’n verloofring gespaar, het die groot haas kansel toe ook sy nadele. Kate kon jare lank gewoond raak aan die druk daarvan om ’n prins se metgesel te wees.

As ’n leerder aan peperduur privaat skole, is sy van jongs af daaraan gewoond om in die hoëlui se geselskap te wees. Meghan, daarenteen, is aan die ander kant van die wêreld gebore. As Kaliforniese meisie is sy meer gewoond daaraan om saam met Hollywood se glansmense uit te hang.

Al het sy as aktrise aan die kollig gewoond geraak, het sy gou besef as prins Harry se aanstaande skyn dit nou die felste op haar. Nadat hul romanse bekendgeraak het, het talle stories in die skinderpers opgeduik, Meghan se halfsuster, Samantha Grant, het bitsige memoires begin skryf en twee TV-dokkies is oor die verhouding gemaak.

Prins Harry en Meghan Markle se verlowingsfoto’s is laat verlede jaar uitgereik.

“Die werklikheid van die koninklike borrel begin tot Meghan deurdring,” het ’n bron in die binnekring aan die tydskrif Look gesê.

“Sy werk hard, en sorg dat sy reg optree en dat mense van haar hou. Harry is wonderlik. Hy’t al vir haar talle voorbeelde genoem van kere toe hy onregverdig gekritiseer is, maar mense nog ewe veel van hom gehou het.”

Maar Meghan se ware steunpilaar is Kate.

“Die heel beste voorbeeld vir haar is om te sien hoe Kate haar kop ongeag als omhoog hou. Kate het (vir haar) gesê Harry sal haar liefhê ten spyte van die dokkies,” sê die bron.

EERSTE TREË AS VERLOOFDES

Die verskil tussen Meghan en Kate het veral duidelik geblyk met elkeen se eerste amptelike onderhoud as ’n prins se verloofde. Kate was in 2010 tydens die onderhoud met haar en William die toonbeeld van ’n stemmige Engelse roos.

Sy het sag maar met selfvertroue met die onderhoudvoerder gesels – en dikwels na haar aanstaande gekyk vir sy steun.

Meghan, daarenteen, het vrae spontaan beantwoord en was die middelpunt van die gesprek. Harry het ’n paar keer voor hy ’n vraag beantwoord het, in sy borrelende verloofde se rigting geloer asof hy wou seker maak van haar goedkeuring.

Dit was sy wat hom dan met haar warm glimlag bemoedig het. Albei koninklike paartjies het dolverlief gelyk, ook op hul amptelike verlowingsfoto’s.

Die gesiene fotograaf Mario Testino het William, aantreklik in ’n eenvoudige pak, en Kate, in ’n klassieke roomkleurige rok deur Reiss, ná hul verlowing in ’n weelderige sitkamer in St. James-paleis afgeneem.

Die bekendste van die foto’s – waarop William en Kate mekaar in minder formele drag ’n drukkie gee – was eintlik nie beplan nie. Mario sou later aan die tydskrif Hello! vertel hy was nie tevrede met die formele fotosessie nie.

“Toe ek met die fotosessie klaar is, was ons op pad uit toe hulle skielik mekaar voor ’n verwarmer omhels. Dit was ’n spontane emosie. Jy kon sien hulle is smoorverlief.” Aan koninklike standaarde gemeet, was dit ’n baanbrekersbesluit om liewer die spontane foto uit te reik, maar Harry en Meghan sou dit met hul verlowingsfoto’s ’n stappie verder voer.

Alexi Lubomirski, ’n gewilde fotograaf onder die glansmense, het hulle tydens die afgelope feestyd in die tuin van Frogmore House by Windsor-kasteel gekiek. Meghan het glansryk gelyk in ’n lang, swart rok met ’n deurskynende bostuk met goue versierings deur Ralph & Russo.

Die prys, ’n allemintige R940 000, het die wenkbroue laat lig – al het ’n woordvoerder van die paleis gesê het die rok is “privaat aangekoop”. Benewens die amptelike foto is ’n minder formele, intieme swart-en-wit foto ook uitgereik.

Op die foto leun die toekomstige bruid en bruidegom teen mekaar aan. Die oënskynlik spontane romantiese kiekie is ligjare verwyder van die stywe koninklike foto’s van vorige geslagte. Vandat hul verlowing verlede November aangekondig is, het die paartjie talle koninklike pligte nagekom.

Dit het Harry ’n kans gegee om sy Amerikaanse liefling aan sy ouma se onderdane voor te stel. Terselfdertyd het sy die geleentheid gekry om meer van haar aangenome land te sien te kry. Toe hulle by Pop Brixton opdaag, ’n projek om ongebruikte grond in Londen as kreatiewe ruimtes in te span, was die skare wat hulle ingewag het, rasend van opwinding.

Die prins het breed geglimlag terwyl hulle skree: “Meghan! Ons wil Meghan sien!”

Natuurlik was dit nie vir William en Kate ná hul verlowing nodig om so ’n minitoer te onderneem nie; sy was toe al ’n bekende gesig in koninklike geledere en die publiek was reeds dol oor haar.

DIE KATE-EFFEK EN DIE MARKLE-SPRANKEL

Ons het al van die Kate-effek gehoor. Wel, nou lyk dit asof ons ons kan regmaak vir die Markle-sprankel.

Die verskynsel dat alles wat Kate dra, blitsvinnig van die winkelrakke af vlieg, geld blykbaar ook nou vir Meghan. Handelsmerke slaan reeds vuis om haar te klee en hoop dit sal hulle dieselfde hupstoot gee as wat Britse ontwerpers soos Jenny Packham en Alice Temperley, en kettinggroepe soos Zara en LK Bennett, met die jare danksy Kate se ondersteuning gekry het.

Kate se styl is drasties hervorm voor sy en William afgehaak het.

Meghan en Kate se smaak stem baie ooreen – albei verkies ’n klassieke, elegante voorkoms gepas vir ’n Britse koninklike. Albei is al met ’n Mulberry-handsak en tydlose Cartier-horlosie aan die pols gewaar.

En om die ysige Britse weer te trotseer het Meghan die sogenaamde “Sloane”-voorkoms begin aanhang – ’n Barbour-baadjie en rubberstewels wat ook Kate se gunsteling-ontspanningsdrag is.

Meghan se styl het – nes Kate s’n destyds – ontwikkel sedert sy in die koninklike kollig is. Die gemaklike kortbroeke en rokkies waarin sy graag op uitstappies in haar tuisstad, Los Angeles, been gewys het, is iets van die verlede, nes haar gewaagde nommertjies op die rooitapyt.

“Ek hou (deesdae) van langer rokke,” het Meghan verlede Mei aan die tydskrif Glamour gesê oor hoe haar smaak verander het. “My bene kom tot by my ore en ek is nie baie lank nie; wanneer ek dus ’n kort rompie dra, moet ek regtig daarvan bewus bly.”

Dit lyk asof Meghan se voorkoms dieselfde paadjie loop.

Meghan se nuutgevonde liefde vir stemmiger uitrustings het waarskynlik meer te doen met die koningin se “geen knieë”-beleid, ’n reël wat Kate gewoonlik gehoorsaam. Al neem Meghan haar rol as toekomstige lid van die Britse adel in ag, glo Ben de Lisi, ’n Londense modeontwerper, Meghan se styl sal ietwat meer riskant as Kate s’n bly.

“Ek dink Meghan se styl is ietwat jonger as dié van die hertogin van Cambridge, en effens meer gewaagd. Maar dis omdat Meghan haar nie op die rol van prinses moet voorberei nie en Kate wel.”

(As Charles koning word en William die kroonprins, sal Kate se titel waarskynlik amptelik na dié van prinses verander; tans is sy “net” ’n hertogin.)

FAMILIESAKE

Kate se ouers, Michael en Carole Middleton, het destyds ’n fortuin uit hul geleentheidsbeplanningsmaatskappy Party Pieces gemaak en kon dit bekostig om hul kroos na gesogte privaat skole te stuur.

Kate het op ’n plattelandse landgoed in Berkshire grootgeword. Meghan se jeugjare was nie so sorgeloos soos Kate s’n nie.

Michael en Carole Middleton.

Terwyl die hertogin se ouers steeds getroud is, het Meghan se ma, Doria Ragland (61), ’n joga-instruktrise, terapeut en maatskaplike werker, en pa, Thomas Markle (73), ’n afgetrede beligtingsregisseur, geskei toe sy ses was.

Doria is ’n Afro-Amerikaner en ’n afstammeling van slawe wat op katoenlande in die Suide moes werk. Haar huwelik met Thomas, ’n wit Amerikaner, het in die konserwatiewe tydsgees van Meghan se kinderjare die wenkbroue laat lig.

Meghan het dié kiekie op haar voormalige Instagram-rekening gedeel van toe haar ma, Doria, ’n meestersgraad in maatskaplike werk verwerf het.

“Hulle het ’n huis in The Valley in Los Angeles betrek, ’n boomryke, bekostigbare buurt, maar wat allesbehalwe divers was,” het Meghan al in ’n onderhoud met die tydskrif Elle oor haar kinderjare vertel.

“En daar was my ma, met ’n karamelkleurige gelaat en ’n baba met ’n ligte vel. Mense het haar gevra waar my ma is, want hulle het aanvaar sy is die kinderoppasser.”

TATTA, WERK

Nadat sy ’n graad in kunsgeskiedenis behaal het, was Kate ’n kort rukkie lank aankoper van bykomstighede vir die klerekettinggroep Jigsaw.

Daarna het sy as webtuisteontwerper en fotograaf gewerk by die Middletons se familiesaak, Party Pieces. Met haar verlowing aan William het sy ophou werk. Meghan het as aktrise naam gemaak nog voor sy haar rooikopprins ontmoet het.

Nadat sy ’n graad met teater en internasionale betrekkings as hoofvakke aan die Northwestern-universiteit in Illinois behaal het, het sy die suksesleer in die vermaakbedryf in Los Angeles geklim.

Sy het onder begin as een van die meisies wat in die speletjiesprogram Deal or No Deal ’n aktetas met ’n nommer vashou. Daarna was sy in ’n episode van die sepie General Hospital en in twee aflewerings van die trefferreeks Fringe.

Toe volg die rol wat haar beroemd sou maak: die superslim Rachel Zane in die regsdrama Suits. Sy het in sewe seisoene van die reeks, wat in Kanada geskiet word, gespeel voor sy besluit het om haar loopbaan as aktrise vaarwel toe te roep.

“Meghan weet sy kan nie toneelspeel en ’n prinses wees nie, en sy is tevrede om hierdie loopbaanopoffering te doen,” het ’n bron in die binnekring gesê toe gerugte die ronde begin doen dat Meghan Suits sou verlaat.

Dit beteken nie sy wil op haar haar louere rus ná haar troue met Harry nie.

Die bron voeg by: “Sy geniet werklik haar liefdadigheidswerk by Unicef en sal dit uitbrei wanneer sy ’n voltydse koninklike word.”

In haar blog, The Tig, het sy oor haar passie vir liefdadigheidswerk geskryf: “My lewe verskuif van vlugtelingkampe na rooitapyte; dié twee wêrelde kan wel saam bestaan.”

Nadat sy verlede November as vrywilliger in ’n vlugtelingkamp in Rwanda gewerk het, het sy geskryf: “Ek wou nooit ’n dame met ’n luilekker lewe wees nie; ek wou altyd ’n vrou wees wat werk. En hierdie soort werk voed my siel en laat my ’n doel dien.”

HUL SIBBES

Kate en haar jonger suster, Pippa Matthews (34), en broer, James (30), het van jongs af in hoë kringe beweeg. Die Middletons weet wat van hulle verwag word en tree feitlik altyd korrek op.

Daarenteen het van Meghan se familielede al probeer munt slaan uit haar nuutgevonde roem, veral haar halfbroer, Thomas Markle jr. (51), en halfsuster, Samantha (52). Thomas, wat al in hegtenis geneem is nadat hy glo ’n vuurwapen teen sy meisie se kop gedruk het, het verlede jaar vertel Meghan was “pappa se prinses".

"Ná haar geboorte het pa heeltemal verander. Voorheen het sy werk voorkeur geniet, maar sy het sy hele wêreld geword.”

Maar die eintlike doring in Meghan se vlees is Samantha, wat beweer hulle het jare laas met mekaar gepraat.

Sy het sommer gou haar memoires oor haar kleintyd saam met Meghan begin skryf. Sy het verlede jaar gesê dit sal geen “onthullende” boek wees nie, maar hoe dan met ’n titel soos The Diary of Princess Pushy’s Sister?

HELPENDE HANDE

Vergeet van hofdames; Meghan het nou ’n privaat sekretaris wat sy met Harry deel.

Amy Pickerill was vroeër senior kommunikasiebeampte vir die hertog en hertogin van Cambridge, maar nou is sy Meghan se regterhand. Haar werk sal glo alles behels van Meghan se dagboek reël tot blomme en geskenke tydens verskynings ontvang.

Kate se eerste privaat sekretaris was Rebecca Priestley, maar sy het ná haar troue verlede jaar bedank. Catherine Quinn, ’n voormalige bedryfshoof en mededekaan van administrasie aan die Universiteit van Oxford se Saïd-sakeskool, is sedert verlede Oktober in dié gesogte amp.

DIE HAARDOSSE

Nog ’n treffende ooreenkoms tussen Meghan en Kate is hul vloeiende, donker hare.

Blykbaar kry Meghan inspirasie by haar aanstaande skoonsus – sy het haar los krulle vir ’n voller, meer afgeronde voorkoms verruil, nes Kate die afgelope ruk dra. Op ’n koninklike besoek saam met Harry aan Cardiff, Wallis, het Meghan haar donker hare op haar kop gestapel en daarmee ’n ongeskrewe koninklike reël oortree.

Maar dit het haar aanhangers min geskeel. “Mal oor Meghan Markle se houding oor amptelike besoeke dié winter,” het een getwiet. “Glansende, drooggeblaasde hare? Vergeet daarvan! Dis winderig; ons maak dit ’n slordige bolla.” 

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GREATSTOCK/SPLASH NEWS, YOUTUBE SCREENGRABS, HANDOUT, INSTAGRAM; BRONNE: HELLO! MAGAZINE, POPSUGAR, DAILY MAIL, INDEPENDENT, EXPRESS, WOMAN MAGAZINE, THE STAR, THE SUN