Ons kyk hoe dit gekom het dat Jack, die Europese bestuurder van Casamigos Tequila, 'n lid van die koninklike familie geword het.

Prinses Eugenie en Jack Brooksbank by die Serpentine Galery op 19 Junie 2018. Gallo Images/Getty Images.

Hier is ’n tydlyn van hul verhouding van sewe jaar. 

2010

Gemeenskaplike vriende stel die twee by die ski-oord Verbier in Switserland aan mekaar voor en hulle vind dadelik aanklank by mekaar. Vroeër vanjaar het Jack aan die BBC gesê dit was liefde met die eerste oogopslag. Eugenie was toe 20 en Jack 24. 

2011

Die twee maak hul eerste gesamentlike openbare verskyning by die Royal Ascot-perdewedrenne, waar hulle bypassende hoede dra. Aangesien die prinses nie koninklike verpligtings het nie, mag sy ’n metgesel wat nie ’n eggenoot is nie na familiegeleenthede saamneem. 

Prinses Eugenie en Jack Brooksbank tydens een van die Royal Ascot-geleenthede in 2011. Foto: Gallo Images/Getty Images.

2013

Nadat sy in 2012 haar honneursgraad in kuns aan die Newcastle-universiteit behaal het, het Eugenie na New York vertrek om as ’n veilingsbestuurder by die aanlyn kunsveilighuis Paddle8 te werk, skryf Metro. Met dié dat Eugenie en Jack toe ’n langafstandverhouding gehad het, het gerugte toe opgeduik dat hulle uitgemaak het. Maar Jack het die skinderstories in die kiem gesmoor.

“Ons bring baie tyd op Skype deur. Dis wonderlik. Ons is steeds bymekaar,” het hy in dié tyd aan Daily Mail gesê. 

2015

Die prinses het teruggetrek Londen toe om nader aan haar kêrel te wees. In ’n onderhoud met Harper’s Bazaar het sy onthul hulle is huishoenders wat dit geniet om saam televisie te kyk.

“Wanneer ek by Jack is, kyk ons The Walking Dead, waaroor ons ’n obsessie het,” sê sy. 

2017

Die twee word by die troue van Pippa Middleton, die hertogin Kate se suster, by die Sint Markus-kerk in Englefield, Engeland, gesien. Hulle is blykbaar ook groot basketbal-aanhangers en word afgeneem toe hulle in Brooklyn, New York, saam ’n wedstryd bywoon. 

2018

Jack vra aan die begin van die jaar vir sy prinses die jawoord. Op 22 Januarie bevestig Buckingham-paleis hul verlowing formeel: “Die hertog en hertogin van York is verheug om die verlowing van prinses Eugenie aan mnr. Jack Brooksbank aan te kondig.”

In die twee se eerste onderhoud met die BBC sê Jack hy het die tradisie gevolg en gekniel toe hy haar vra om te trou. 

Altesaam 850 gaste het die plegtigheid Vrydag bywoon – wat dit ’n groter troue as dié van prins Harry en hertogin Meghan op 19 Mei maak, skryf Express. Die hertog en hertogin van Sussex het 600 gaste op hul troue gehad. 

Bronne: Express, BBC, Daily Mail, Metro, Cosmopolitan, Harper’s Bazaar, Town and Country